Saterdag 20 April 2024

BB2BB2 Dag 38



So begin die tweede laaste dag. Wat 'n wonderlike ondervinding en die ondersteuning wat van talle kante kom is net ongelooflik. 


Helena de Clercq het vir ons ontbyt saamgebring en broodjies gemaak. Op die laaste nippertjie sluit Willem Kamstra, wat in 2019 'n deel van die Freedom Challenge saam met my gery het, by ons aan. Ons is dus vandag 5. Jannie Steyn kon dit nie maak nie, maar Annemarie Muller, wat Trans Baviaans saam met my en Johann ry het saam met Johann gekom. 



Die mis is baie dig en ons kan nie verder as 100 meter sien nie. Die lug is dus ook baie klam. Net na die Genadendal afdraai draai ons regs by die Villiersdorp teken. Die pad is aanvanklik teer en word later grond. Na 1:27 en 23 km draai ons weer regs en die keer om die Rusty Gates klim te begin. 5.5 km wat wissel tussen 6-20%! Dit neem ons 1:30 om tot bo te kom. Die 20% gedeelte stoot ek want daar is te veel los klippe om behoorlik traksie te kry. Wanneer die gradiënt afkom na 14%, besluit ek om aan te hou stoot totdat dit afkom na minder as 10%. Bo rus ons en eet ons broodjies. Teen die tyd het ons bo die mis uitgestyg.








Anderkant af is aanvanklik redelik rof en sluit die kruising van 'n diep poel water in.



Daarna volg ons 'n baie goeie dienspad wat soms hoë snelhede teen die bult af genereer. Tot ons op 'n punt kom waar Willem voorstel ons volg 'n pad deur die plantasies wat ons nader aan die Theewaterskloofdam se wal gaan uitbring. Als gaan redelik goed totdat ons op 'n punt kom waar dit lyk of ons te ver links is. Ons posisie in vergelyking met Komoot bevestig ons vermoede. Vier van ons besluit om terug te gaan tot waar ons sien Komoot wys ons moet afggaan. Willem besluit hy gaan kortpad vat. Nadat ons so 'n entjie op ons roete teruggegaan het, kry ons die regte pad. 'n Ent af kruis ons pad met Willem en hy bevestig dat sy pad moeiliker was. Nou is almal weer saam en ons volg die redelike tegniese pad tot by die teerpad. Hier links en oor die damwal. Van nou af is dit teer tot by die huis behalwe wanneer ons op die grondskouer van die teerpad ry.



Na bykans 6 ure se ry en 67 km pak ons Franschoekpas aan. Nie te styl nie, maar konstant. 54 minute om die 7 km tot bo af te lê. Ons neem gou 'n foto en dan is dit volstoom bult af.


Die 7 km af neem net 11 minute! Ons hou by Trebodore stil vir koffie en iets om te eet. Michele, Johann de Bruyn se vrou daag op om vir Johan en Annemarie huis toe te neem. Willem ry saam tot in Kraaifontein waar sy seun sokker speel. 


Hulle vertrek na 'n uur en ek en Hennie pak die pad Klapmuts toe aan waar ons vannaand oornag by Mitre's Edge Wine Estate. Ons handhaaf 'n goeie pas op die pad wat nie te heuwelagtig is nie en lê die 30 km af in 1:41. Ons is heel verras met die "suite" wat ons kry met 'n swem bad en "jacuzzi". Ons bevestig egter dat ons dié fasalitiete nie sal benut nie. Die plek voorsien nie aand ete nie en Hennie het met die gasvrou gereël vir 'n Woolworths gereg. Sy bring vir ons 'n groot bak lasgne. Ons sal beslis nie honger gaan slaap nie. Ons gesles oor lekker met haar die plaas en waar hulle hulle wyn bemark. 



So eindig nog 'n dag. Hennie wil weet hoe vergelyk vandag met van my ander dae. Ek noem vandag se 113 km in 9:42 vir my redelik gemaklik was en goed vergelyk met 'n gemiddelde dag. Nie te veeleisend nie en lekker wisselende topografie. 


Dana Murray het gevra oor die laai van toerusting. My "tracker" werk met AAA batterye. Ek het ou batterye in gehad en hulle was na 9 dae pap. Koop toe nuwes op Badplaas wat tot op Barkley Oos hou, dus 14 dae. Hier en op Hofmyer kry ek net Evereadies wat net 4 dae hou. Reël vir Duracells vanaf Knysna en hulle hou nog steeds. Nuwe Garmin laai ek daagliks en sy battery gaan, volgens persentasie gewys oo sy skerm, meer as 20 uur hou. Selfoon word ook daagliks gelaai. Soms is hy nie vol gelaai wanneer ek gaan slaap nie. Dan los ek hom op laai. Indien ek gedurende die nag wakker word en ek sien hy is volgelaai, ontkoppel hom. So die laai van toerusting is van die eerste dinge wat ek aan die einde van die dag doen. Al die plekke waar ek oorgebly het, het krag gehad. 



P


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking