Dinsdag 17 Mei 2022

36ONE nommer 8

 Aangesien 70+ jariges gratis kan inskryf vir die 36ONE, het ek, verlede jaar toe inskrywings beskikbaar geraak het, weer ingeskryf en nou was dit tyd om te ry! Ek het ook vir Johann de Bruyn oortuig om in te skryf en hy het vir Fred en Christine Lowe gekry om took e ry en hulle het weer vir Fred se swaar, Egbert Robertse gekry om deel te neem. Dus vertrek ons almal van ons verskillende plekke om Donderdagmiddag 12 Mei in Oudtshoorn aan te kom vir die wedren wat Vrydag 13 Mei op 15:00 begin. Ons braai almal Donderdagaand saam by Karoo Soul en kom so 21:30 in die bed. Vrydagoggend is ons so net voor 08:00 op en reël om die ander by hulle blyplek, wat net oorkant registrasie is, te kry. Na registrasie, wat glad verloop, eet ons saam ontbyt. Ons ry terug Karoo Soul toe om te "chill" tot so net na 13:00 en dan met die fietse na die wegspring te ry. Ons laai eers ons "oornag begasie" by die ander af, want Carien gaan vir ons ondersteun met hulle voertuig. Na 'n paar fotos, ry ons oor die straat om vir die wegspring te wag.




Ons word aangesê om ons plekke by die wegspring op te neem, en die wiele begin 15:00 rol. Ons vertrek redelik rustig. die eerste 7 km is oppad Kango Grotte toe en die pas is redelik rustig. Op 7 km draai ons regs op die Vergelegen pad en begin onmiddelik klim. In die volgende 10 km klim ons 180 meter, wat nie te erg is nie. Dit word gevolg deur 'n 20 km afdraend waarna ons regs draai op 'n plaaspaadjie. 'n Ou kennis van my, Fred van Zyl wat 75 jaar oud is, kom by die bult af by ons verby gevlieg! Ons haal hom in net voordat ons draai en ry lekker saam. Fred, Christine en Egbert is so 'n entjie agter ons. Die pad loop redelik gelyk en ons kruis ook die Oudtshoorn/De Rust teerpad na 'n verdere 11 km. Gedeeltes van die pad is baie rof en my ketting spring van die agterste "derailleur" rat af. Dit is 'n ou probleem en ek stop gou om dit reg te maak. Oor die teerpad is ons weer op 'n plaaspad tot op 35 km. Hier sluit ons by 'n goei distrikspad aan en draai Suid Wes tot op 44 km waar ons Suid Oos draai tot by waterpunt op 54 km, wat ons na 2:31 teen 'n gemiddelde spoed van 21.96 kpu, bereik. Ons hou vinnig stil om waterbottels vol te maak, koeldrank te drink en iets te eet. Die res van ons groep het nog nie ge-arriveer teen die tyd wat ons vertrek nie. Ons stop was minder as 5 minute. Ons sou later hoort dat Fred nie lekker gevoel het nie en hier opgehou het.


Nou volg die "drag" na waterpunt 2 wat ook die eerste kontrole punt is. Dit begin nou donker word en ons moet ons ligte aanskakel. Op 72 km draai ons links. Op hierdie punt is ons 'n paar meter van Paardepoort af, waar ons op 132 km en na ongeveer 'n verdere 4 uur 15 minute van die teenoorgesetlde kant sou kom om weg te draai na Zebra toe. In die volgende 18 km klim ons 180 meter. In die 29 km tot by Louvain, klim ons 130 meter, maar daar is bitter min gelyk pad. Dit is of op of af. Lekker "rolling hills" wat mens "klaar" maak! Ek en Johann ry lekker saam en handhaaf 'n redelike pas. Ek gewaar Johann so net agter my net voor ek links draai Louvain toe. Daar aangekom, sien ek hom nêrens nie. Carien wag ons in met 'n koppie koffie en maak my waterbottel vol. Ek gaan kry vir my sop en gaan sit op die trappe. Na 'n ruk hoor ek iemand roep my naam, maar ek neem aan dit is 'n ander Philip. Toe die geroep nie ophou nie, kyk ek om, en daar sit Johann! Ek gaan sit langs hom. Hy lig my in dat hy, net nadat ons Louvain toe gedraai het, naar geword het! Ek gaan motor toe om warm klere aan te trek en toe ek terug kom is hy weg! Ek bel hom maar hy antwoord nie. Carien weet ook nie waar hy is nie. Ek aanvaar dat hy besluit het om of te rus of op te hou. ongelukkig het hy vir Christine-hulle gemis en toe maar besluit om op te hou. Ek vertrek na 42 minute se vertoef. Op hierdie stadium was ek amper 'n uur agter verlede jaar se tyd. Ek het 30 minute op die pad verloor en 'n verdere 30 minute by Louvain!


Van Louvain na Herold ry ons op plaas paaie wat parallel met die N9 loop. Dit is 'n afstand van 22 km met geen ernstige bulte nie. Die laaste gedeelte is baie eentonig want jy sien die ligte van die ouens voor jou, maar die einde wil net nie kom nie! Na 1:15 bereik ek uiteindelik die N9. Ons word om 'n dam gelei na die Paardepoortpad. Na 132 km en 7:53 se ry bereik ek waterpunt 3. Ek vertoef 7 minute en dan rol die wiele weer. Ons word op 'n plaaspad, wat baie rof is, omgelei na die Heimersrivierpad/Zebra pad toe. Dit sluit ook 'n goeie klim in en dan is dit weer op en af. Soortgelyk aan die gedeelte voor Louvain. Ons word deur Die Wieg, met plaaspaaie en langs die treinspoor, wat nie meer gebruik word nie, onder deur die Oudtshoorn/George pad gelei na waterpunt 4 op 154 km. Ek is nou al vir 9:26 op die pad. Dit was redelik bewolk toe dit begin donker word het, maar die lug is nou oop en ons pad word verlig deur 'n helder volmaan. Dit sou later vervang word, nadat die maan gesak het, met 'n helder sterre hemel. Ek stop net 4 minute en kom gou weer aan die gang. Nou nog net 22 km na Volmped en kontrolepunt 2 (waterpunt 5). Op 170 km sluit ons by die Oudtshoorn/Mosselbaai pad aan. Ons ry in Oudtshoorn  se rigting vir 5 km en na nog 4 km is ons by Volmoed. 176 km en 10:40 se ry. My tyd van 3:27 vir die 75 km vanaf Louvain na Volmoed was 16 minute vinniger as verlede jaar! Dit was egter die laaste keer wat ek naby verlede jaar se pas gekom het.


Hier wag Carien en Fred vir my. Fred neem my fiets, olie die ketting en maak my waterbottel vol, terwyl en rustig sit en eet en Milo drink. My stop duur 24 minute. Ons ry vir die volgende 8 km teerpad, totdat ons regs draai deur 'n paar plase tot by die Volmoed/Vanwyksdorppad wat agter Gamksberg verby loop. Van km 188 tot 201 klim ons van 286 meter tot by 532 meter. Dit neem my 'n uur om die 13 km af te lê. Daarna daal ons af na 92 meter waar ons die droeë Gouritsrivier kruis op 227 km en na 14:24 se ry. Daar was darem weer 'n waterpunt, nommer 6, op 214 km waar ek net 5 minute gestop het. 


Na die rivier kruising is daar weer 'n almintige klim. Nie so styl nie, maar lank! Oor die volgende 15 km klim ons 230 meter na waterpunt 7. Ek stop weer vir 5 minute. Nou is dit 5 km na die begin van Rooiberg. Ek ry Rooiberg teen 'n redelik konstante spoed uit. Ek moet twee keer stil hou. Een keer omdat ek my balans verloor het en teen die kant vas gery en en 'n tweede keer toe ek traksie verloor oor 'n los klip! Dit neem my 1:20 om die 8  km af te lê. Gelukkig het hulle sedert verlede jaar 'n ekstra waterpunt bo-op die berg aangebring. Ek stop 4 minute vir Coke, piesangbrood en waterbottel volmaak. Dit pad anderkant af is vreeslik rof en van die onderpunt tot by die Calitsdorp Spa pad is weer vreeslik sinkplaat. Daar is darem gelukkig nie meer eintlik enige bulte tot by Caltisdorp en die laaste kontrole punt (waterpunt 9) nie. Op hierdie stadium is daar min op my lyf wat nie pyn nie! My boude is gaar, my nekspeire pyn, my hande is moeg, my polse is seer, my knieë pyn en die feit dat ek nie my skoene se vetters 'n bietjie losgemaak het toe ek dikker sokkie by Louvain aangetrek het nie, veroorsaak dat my tone redelik dood is! Nou-ja, dit is maar deel van die "avontuur"!


Na 280 km en 19:10 op die pad, kom ek in Calitsdorp aan. Dit is 55 minute stadiger as 2021. Fred sorg weer vir my fiets. Carien en Johann help ook om my so gemaklik as moontlik te laat voel. Na 280 km is "gemaklik" nie deel van my woordeskat nie. Ek eet net twee pannekoeke en drink 'n koeldrank. My stop duur 29 minute. Ek is nou 1:09 agter verlede jaar se tyd en berus my daarby dat ek nie in minder as 25 uur gaan klaar maak nie. Vanaf Calitsdorp volg ons die natuurskone roete deur die Kruisrivier vallei. Vanaf Calitsdorp to by waterpunt 10 op 310 km klim ons vanaf 170 meter tot by 647 meter oor 28 km. Dit werk uit op 17 meter per km, wat veroorsaak dat dit baie moeilik is om 'n goeie gemiddelde spoed te handhaaf.


Dit neem my 2:10 teen 'n gemiddelde spoed van 12.3 kpu. Aan die voet van die bult net voor waterpunt 10, stop ek om water af te slaan. Toe ek op my fiets klim om verder te ry, is daar fout. Die "free body" op my agterste ratte wil nie "engage" nie. My pedale draai net in die ronde sonder enige weerstand, met ander woorde ek kan nie verder ry nie! Ek probeer weer met my hand die pedale draai en kry dieselfde resultaat. So dit lyk nie of ek nommer 8 gaan voltooi nie en ek begin maar stap. Ek het gedurende die nag agtergekom dat my fiets se "free body" nie "lekker" is nie, want waar die ratte gewoonlik onmiddelik aan die gang kom, moes ek gereeld 'n ekstra halwe draai of so trap voordat dit behoorlik gevat het. Na 'n paar treë probeer ek weer, en wonder bo wonder, daar werk dit! Wat 'n bietjie gebed darem kan doen!. Ek ry baie versigtig tot bo want ek wil nie "free" nie vir ingeval dit weer gebeur. Bo gekom hou ek stil en vra raad. Carel Heroldt van Dryland is toevallig daar en hulle roep hom. Ek verduidelik my probleem. Sy voorstel is dat ek vir die "sweerper" wag. Ek vra vir 'n beter oplossing, soos of iemand vir my 'n ander wiel kan bring. Hy bevestig dat dit gedoen kan word, ek moet dit net self reël. Ek bel vir Johann en verduidelik die probleem. Ons kom ooreen dat ek aan sal ry en dat hulle reg sal staan om my te kom help indien ek weer 'n probleem kry. Ek laat my waterbottel volmaak en val onmiddelik weer in die pad. Vir die volgende 30 km trap ek sonder ophou, want ek is bang die probleem kom weer te voorskyn wanneer ek "free". Daar is nie sel ontvangs nie so ek sal ook nie vir Johann kan laat weet nie. Toe ek op die punt kom waar daar weer ontvangs is, besluit om 'n kans te vat en te kyk of die "free body" nog hou. My geluk is in en ek ry sonder enige verdere probleme aan. Ek stop self by 'n boer om my waterbottel met lekker bergwater vol te maak.


Die padoppervlakte vanaf km 322 tot by 355 waar ons by die Caltisdorp/Oudtshoorn pad aansluit is baie klipperig en my stêre sê les op! Verder bestaan die gedeelte vanaf km 344 tot 355 uit kort afdraendes en langer opdaendes. Die opdraendes is nie baie styl nie, maar na 344 km is enige opdaende 'n uitdaging. Ek besluit om die laaste waterpunt op 341 km te "skip" en ry aan. Na 355 km is dit teer met 'n kort  klim tot by km 358 en dan is dit afdraend en/of gelyk tot by die einde. Fred en Johann wag my in net voor die teerpad om my aanmoediging. 







Na 25:21:42 en 364 km, kom ek by die einde aan. Vol tevredenheid om my 8ste 36ONE suksesvol te voltooi! Voor die wedren het ek gewonder of ek sou klaar maak! Ek het myself voorbery vir die moontlikheid dat ek dit nie tot die einde sou maak nie. Dit het my dus soveel meer satisfakise gegee dat ek dit weereens kon regkry om deur te druk.Christine en Egbert het so net meer as 'n uur na my klaar gemaak. Voorwaar ook 'n goeie prestasie indien in aggeneem word dat Christine eers aan die begin 2021 begin bergfiets ry het en dat Egbert eers verlede week toestemming by sy dokter gekry het om te mag ry! Nogtans baie dankie aan Carien vir haar opoffering en vir die lekker saamesyn wat ons vanaf Donderdagaand tot Sondagoggend kom ervaar. Mens besef onder sulke omstandighede weer hoe belangrik goeie vriendskap is!


Dryland Post Race Report


Although we know each participant deserves a special mention we just wanted to highlight a few of the extraordinary achievements from this weekend.
 
New course record was broken by Drikus Coetzee at a time of 13:17:50.
 
Fjord Jordaan at 57 years young was the second person to complete his 10th The Challenge race at our 11th edition this year. Andreas Pankratz was the only person last year to have finished all 10 races! They received, special gifts for this huge achievement!
 
Did you know, if you are older than 70 years, you get to take part for free! We had 3 participants this year who qualified. We salute you Philip Erasmus, Frederick Van Zyl & Gert Mulder.


Thank you for joining us for this special race.

Thank you for joining us for this special race.


We challenge all of you to invite a buddy to join you next year and make it a yearly tradition!


We cannot wait to see you in 2023!

We cannot wait to see you in 2023!


Warm regards,
The 36ONE MTB Challenge Team
























Dinsdag 03 Mei 2022

Brandkop MTB

 Saterdag 30 April 2022

Carine het voorgestel ons "deel" die naweek saam met haar, Henk, sy broer en skoonfamilie op Nieuwoudville waar die Brandkop MTB en Trail Run op 30 April plaasvind. Dit het redelik met ons besoek aan die Oos Kaap vir 'n troue ingepas en ons arriveer dus op Vrydag 29 April in Nieuwoudville vir die wedren op Saterdag 30 April. Carine reël dat ons Vrydagaand almal "burgers" saam met Henk se familie eet en ons kry hulle dus daar.

Ek het die vorige Woensdag op Nooitgedacht in Victoria Wes distrik gery. Dit was baie lekker, maar daar was ongelukkig 'n magdom duweltjies, met die gevolg dat ek nie my fiets se wiele behoorlik styf kon kry nie.  Ek het ook nie genoeg "sealant" by my gehad op die lekke te stop, nie. Ek reël toe om te kyk of die ouens by die wegspring my die Saterdagoggend kon help. Ek is net na 06:15 weg na die wegspring, so 20 km Noord van Nieuwoudville op die Loeriesfontein  pad. Daaraan gekom sê die ou van "Bike and Tackle" hy sal albei bande "dokter". Dit werk toe en ek koop ook 'n spaar bottle "sealant" vir die wis en onwis.

Ons spring so net na 07:08 weg. Die "racing snakes" is gou weg, maar daar is 'n groep van 12 wat teen 'n lekker pas ry. Die eerste 9 km is plat pad en ons bly by mekaar. Die eerste blut is so 800 meter lank met 70 meter se klim en val die groep uitmekaar. Dit word gevolg deur 'n afdraend en dan weer 'n gelyk stuk van so 4 km. Hierna begin die groot klim! Van 14 tot by 34 km klim ons aanhoudend. Die aanvanklike klim is kwaai en die oppervlakte is baie rof, met die gevolg dat dit moeilik is om momentum te behou. Vanaf km 14 to 17 klim ons 230 meter. Hierna raak die klim meer gelydelik. Ons ry die meeste van die tyd op "jeep tracks". Dit neem my 3:00 om die eerste 38 km af te lê. Teen die pas gaan ek sukkel om binne my mikpunt van 6 uur klaar te maak. Ek vertrou egter dat die tweede helfte van die wedren meer afdraendes sal hê en dat ek die orige 42 km in 3:00 sal kan aflê. Die pad opervlakte maak dit moeilik om 'n goeie gemiddelde spoed te handhaaf.

Dit was toe dat ek verdwaal! Net na 38 km ry ek deur 'n pan. Daar is 'n pyl in die middel van die pan, maar die wys regop in die lug op. Ek aanvaar dit beteken reguit aan en die spore in die sand wys dat ander deelnemers ook so gedink het. Na 40 km sien ek egter geen spore nie. Ek draai om en ry terug pan toe om 'n afdraai te soek, maar kry niks. Ek ry weer aan tot waar ek vroeër omgedraai het en ry nog verder maar kry steeds geen spore of borde nie. Ek draai maar weer om ry terug, deur die pan totdat ek weer die inkomende spore verloor. Ek ry heen en weer op soek na die regte pad. Na 17 km 1:10 uur se soek kry ek spore en volg dit. Na 'n rukkie besef ek dit is die pad weermee ek gekom het. Ek besluit egter dit is beter om terug te ry soos ek gekom het, as om verder na die regte roete te soek!

Ek onthou toe dat ons vroër 'n stukkie op 'n baie goeie distrikspad gery het. Ek maak die gevolgtrekking dat die regte roete die pad in 'n suidelike rigting moet kruis. By die pad gekom, draai en suid en na 'n verdere 4 km kry ek weer die regte roete. Nou kan ek weer in alle êrens voort ry, op die regte pad! Die vraag is nou, hoe lank gaan my 80 km wedren wees! 

Na 78 km kry ek 'n waterpunt! Ek wou eers verby ry, maar kan nie die vriendelike uitnodiging vir 'n koeldrank en iets om te eet, van die hand wys nie. Hulle stel voor ek volg die grootpad, maar ek wys dit van die hand. Ek wil darem graag die "groot afdraend" na die einde toe aandurf. Na so 'n minuut of twee is ek weer oppad.



Die "groot afdraend" is toe, na my mening, nie vergelykbaar met die "groot opdraend" wat ons na 17 km aangepak het nie. Die profiel is volgens my Garmin is ook meer geleidelik. Op 95 km is ek terug op die pad waarmee ons begin het en na 99.2 km haal ek die eindstreep. Dit na 6:59 in die saal. Indien ek dus nie die 17 km "verdwaal" het nie, hoort ek teen ongeveer 5:45 klaar te gemaak het, wat so 15 minute vinneger as my mikpunt sou wees! Dit blyk ook dat baie van die deelnemers probleme gehad het om die regte roete te volg en dit is hoekom ek die spore in die sand na die pan gesien het!

So dit was maar 'n alleen rit, maar goeie oefening vir die 36ONE oor twee weke!








Maandag 14 Maart 2022

Cape Town Cycle Tour nommer 31

Dit is weer sulke tyd. Die Cape Town Cycle Tour, of te wel die Argus vind op 13 Maart 2022 plaas. My vvorbereiding het goed afgeloop en ek is reg vir die groot dag. Dit wil voorkom asof die weer nie gaan saam speel nie. Hulle voorspel 4.8 mm reën vir Sondag! 

Ek het besluit om weer met my fiets stad toe te ry. Toe ek my kop by die deur uitsteek, was daar 'n "nattigheid" in die lug, maar niks ernstig nie. Dinge verander egter redelik drasties toe en deur Paared Eiland ry met die reën wat harder begin val. 'n Ander fietsryer sluit by my aan en vra "Are you having fun"! Hy kom van Lithuania. Die reën hou gelukkig op voordat ons die stad bereik en sal ook so bly toe by Simonstad.

My wegspringtyd is 06:50, maar alaml spring ongeveer 5 minute laat weg. Ons kom 06:54 aan die gang. Die pad is baie nat so ek ry redelik versigtig by Hospitaaldraai af. Ek will op my fiets klaar maak en nie in 'n ambulans nie! Soos gewoonlik haal die voorste manne van die groep wat na my weggespring het, my in Nuweland is. Daar is, soos gewoonlik heelwat mense langs die pad teen Edinburgh Drive op en hulle moedig is lekker aan. Anderkant is ek weer versigtig, maar haal darem 60 kpu. 

Deur Muisenberg en langs die kus af kom daar gereeld vinniger groepe by my verby. Soms hou ek vir 'n rukkie by, dan laat gaan ek hulle weer. Daar is 'n hele aantal deelnemers wat skynbaar dieselfde pas as ek ry, want elek nou en dan sien ek hulle weer voor my. Nie seker waar hulle verby gekom het nie, maar na 'n rukkie gaan ek by hulle verby. Netnou is hulle weer voor my. Elke nou en dan kry ons ook 'n sterk wind van voor. Gelukkig is hy nie konstant nie. Ek gaan na 1:19 by Jubilee Square in Simonstad verby. Ek is dus op koers vir 'n 3:45-4:15 tyd. 

Teen Smitswinkelbaai se bult is ons 'n groot klomp. Party vinniger, nader stadiger. Na die Kaappunt afdraai is dit meesal afdraand tot by Scarborough. Ek neem maar weer eder 'n konserwatiewe benading in en steek net mooi op 2:00 die halfpad merk oor. Dus gaan ek sukkel om onder 4:00 in te kom. Ek wonder soms of ek vandag die einde gaan haal! Moet maar deurdruk!



Dit het in Simonstad begin reën en daar val nog steeds 'n konstante vlaag water van bo. Nie hard nie, maar deurdringend. Teen hierdie stadium is en deur nat. Gelukkig is die nie te koud nie, maar my kakkebeen is moeg van bewe! Die temperatuur daal na so net onder 11 grade Celius. Wanneer ek trap skeo ek genoeg liggamshitte om die ergste koue te verdryf.


Deur Misty Cliffs en tot by Sea View hou dit aan met reën, maar dan hou dit op en die temperatuur styg. Alhoewel daar oral pyne is, veral in die skouers en arms, sukkel ek nie om die bulte uit te kom nie. Ons ry deur Sun Valley en Noordhoek en pak Chapman's Peak aan, waar ek 'n goeie pas hanghaaf. Ek gaan na 3:11 oor die bopunt van Chapman's Peak. My my laaste oefen rit het dit my 1:30 geneem toe by Groenpunt. Nou het ek die voordeel van "bondels" en hoort dit darem vinniger af te lê. Met my laaste twee wedrenne het dit my ongeveer 50 minute geneem.




Deur Houtbaai en Suikerbossie, waar daar weer 'n enorme klomp mense is, uit en anderkant by Llandudnou af. Ek sien 'n paar tandens verby gaan, maar ek het nie die energie om by hulle te probeer "aanhak" nie. Daar is darem 'n paar ander deelnemers wat 'n redelike pas handhaaf en ons vorm 'n lekker groep. So werk ons saam verby die Twaalf Apostels Hotel en deur Kampsbaai en verby Clifton. Deur Seepunt en eindstreep toe. 

Na 4:06 haal ek die einde, sonder enige porbleme on ingevalle, behalwe vir 'n paar "pyne". So eindig nommer 31 met dieselfde Le Jeune!



Nou lê die 24 km huis toe nog voor! Gelukkig het die temperatuur nou na 19 gestyg en daar waai 'n ligte windjie van agter. Ek arriveer net na 12:00 by die huis met 'n dag se goeie oefing agter die blad. Nou vir 'n lekker stort en die res ban die dag rustig deurbring.







Nissan Trailseeker #1 Banhoek


Saterdag 29 Januerie 2022. Nissan Trailseeker #1 Banhoek, Simondium



















 

Maandag 17 Januarie 2022

Attakwkas nommer 13

Saterdag 15 Januarie 2022 was dit weer tyd vir die Attakwas. Ons is al Donderdagmiddag uit die Kaap weg om in Witsand oor te slaap, want Johann de Bruyn het 'n werks vergadering in George vir Vrydagoggend geskeduleer. Na die vergadering en middagete, is ons deur Oudtshoorn toe. 

 

Die temperatuur was al reeds in die hoë dertigs. Nadat ons geregistreer het, het ons by Karoo Soul ingeklok. Geluukig was daar 'n swembad om ons te help afkoel. 

 

Ek het 'n uitnodiging vir die lede van die Ratelklub (mense wat meer as 10 Attakwasse voltooi het) gekry en is 19:00 daarheen terwyl Johann-hulle by die Spur gaan eet het. 

 






Aangesien ek deel van die "uitgesoekte" Ratelklub lede was, val die twyfelagtige voorreg my toe om in die A groep weg te spring. As gevolg van Covid, begin ons weer in Oudtshoorn en ry "neutraal" tot by Chandelier, waar kilometer "0" begin, 'n afstand van 11 kilometer wat 44 minute neem om af te lê.

 

Dus begin die Attakwas eers nou. Op hierdie stadium is die temperatuur 'n skaflike 30 grade. Ons ry op 'n tweespoor plaaspad deur die veld en begin onmiddellik met 'n redelike klim, wat aanvanklik nie te styl is nie maar so elke nou en dan is daar 'n bultjie wat eksta krag vereis. 

 

Johann, wat in groep B weggspring het, haal my hier in en ons ry saam tot by waterpunt 1. Dit het my dieselfde tyd (1:39) as met die vorige Attakwas geneem om tot hier toe kom. Nadat ons verfris is, val ons weer in die pad. Soos ons aan ry raak die hitte al erger. Die son steek! Ons handhaaf 'n redelik pas tot by die eerste groot bult van die dag. Johann is so 'n entjie voor my en ons "grind" maar die bult uit. So driekwart pad besluit ek dat dit in die hitte beter gaan wees om te stoot. Bo gekom sien ek Johann kyk redelik moedeloos, maar dit is te wagte onder die omstandighede! Ek val in die pad terwyl Johann nog asem skep. Die temperatuur staan op 43 en dit is nog nie eers 09:00 nie!

 

Van hier is dit maar redelik op en af tot by waterpunt 2. Ek kom hier aan na 'n verdere 1:43, so 10 minute langer as laas keer. Gooi water oor my kop, by my bors af en op my rug. Vul my waterbottel, drink Coke, eet 'n dadel bolletjie en neem 'n piesang vir die pad. Johann kom hier aan net toe ek omtrent reg is om weer te ry. Hy besluit hy het genoeg van die hitte gehad en bel vir Duncan om hom te kom haal. Ons roep vaarwel en ek val weer na 8 minute in die pad. Die temperatuur bly in die 40tigs!

 

Ek het verwag dat dat die deel tussen waterpunt 2 en 3, in die hitte, die moeilikste van vanjaar se Attakwas sal wees en dit is ook so. Ek stoot groter dele van die kwaai bulte aangesien dit net te warm en vermoeiend is om te probeer trap, maar ek vorder darem. Bo-op King of the Mountain is daar water en koeldrank, nie 'n offisiële waterpunt nie maar welkom in die hitte. Daar is op die stadium egter net ys en water van ys wat gesmelt het en 'n paar blikkies koeldrank. Ek gooi van die yswater oor my kop, in my bors af en op my rug en drink 'n koeldrank. 

 

Ek loop vir Mark le Roux van Bigshot Media hier raak en hy voer 'n impromptu onderhoud met my. Ek bevestig dat dit my warmste Attakwas is, maar ek gaan klaar maak! Hier registreer my Garmin 47 grade! Ek val weer in die pad en ry dat dit klap die bult af, maar oowee, skielik is iets fout! My ketting slaan vas. Onmiddelik kom my onderhoud na my terug. Sal ek dalk vandag nie klaar maak nie as gevolg van 'n meganiese probleem! Ek hou stil maar kan geen fout sien nie. Ek wikkel die ketting 'n bietjie rond en kry die wiel weer aan die draai. Gelukkig is dit nou afdraande so ek hoef nie te trap nie. Op die gelyk pad kom ek agter dat die middelste ratte darem redelik werk. Wanneer ek egter by 'n styl bult kom en die grootste rat probeer gebruik, glip die ketting aan die binnekant af en moet ek eers stilhou om hom los te wikkel. Die “voordeel” is dat ek nou nie die keuse het anders as om die styl bulte uit te stoot nie. Dit kry ek gedoen teen 2 tot 3 kpu, terwyl ek gewoonlik so 4 tot 5 handhaaf. Die hitte eis voorwaar sy tol! Teen die gelyk gedeeltes werk die ratte redelik, maar wanneer ek die kleiner ratte will gebruik, slaan die “drive chain” vas. Ek moet dus maar “spin”. Daar waai gelukkig so ‘n ligte briesie van agter, wat ons darem so ‘n bietjie afkoel. 

 


Ek kom na 2:32 by waterpunt 3 aan, ‘n half uur langer as verlede keer! Daar is gelukkig ‘n “mechanic” wat sal kyk of hy die fiets reg kan kry. Ek drink Coke en gooi myself behoorlik nat. Die temperatuur het sedert waterpunt 2 nog nie onder 40 grade gedaal nie! Ek is nie honger nie en eet net ‘n dadel bolletjie. Die “mechanic” sê my ketting het gebuig en hy kon dit gelukkig reg kry. Ek rus so ‘n bietjie op die stoel onder die skaguwee van sy “gazeebo”. Voel nogal verbasend goed terwyl ek so in die koelte sit. Ek is seker ek sal ‘n ander deuntjie sing wanneer ek weer aan die gang kom! Na 13 minute is ek weer aan die oppad.

 

Een van die manne by gisteraand se funksie het van die “wit pad” wat die son weerkaats, na waterpunt 3 gepraat. Vandag voel die hitte wat van die pad opslaan so ‘n bietjie erger. Die temperatuur bly bo 40. Elke keer wanneer daar ‘n skadu kolletjie is, sien ek mense in die koelte rus. Ek druk maar aan, al is dit teen ‘n redelike vertraagde pas! Ek kry dit darem reg om die opdraand teen so net meer as 4 kpu uit te trap. Ons ry nou deur dene plantasies met die gevolg dat daar heelwat skadu kolle is. Hier is weer ‘n ongeskeduleerde waterpunt en ek stop vir ‘n koeldrank en koue water om my liggam af te koel. Ek ry meesal alleen. Heelwat ryers kom verby, maar rus dan weer in die koelte, waar ek hulle weer verby gaan. Netnou kom hulle weer verby. Ek verkies om aan die gang te bly eder as om te rus en dan weer te sukkel om aan die gang te kom. Daar is heelwat toeskouers waar ons die R328 kruis. Almal moedig ons aan en klap hande. Na ‘n entjie op die teerpad, by Outeniqua Moon, draai ons af Botterlierskop se rigting toe en waterpunt 4, waar ek na ‘n verdere 1:40 aan kom, 24 minute langer as verlede keer! Die hitte maak my stadiger.

 

Na ‘n 3 minute is ek weer aan die gang. Ons het nou ‘n redelik tegniese afdraand tot by ‘n rivier, waar ek in die water afklim om my voete af te koel, en dan onder nette oor ‘n nuwe sitrus boord tot by ‘n goeie grondpad Elke nou en dan, wanneer ek net lekker spoed optel, slaan my ketting vas. Moet maar stilhou en los wikkel en daar gaan ons weer. Nou is dit weer bult op. Nommer 14 van die 17 vir die dag! Net langer as ‘n kilometer met 100 meter se klim. Dit word gevolg deur ‘n paar lekker afdraandes en ‘n klimmetjie na Ruiterbos en waterpunt 5, die laaste! Maar voor Ruiterbos is daar die Moordkuilrivier se kilm. ‘n Regte bul van ‘n bult. Nie lank nie, maar styl en na ‘n dag in die son lê dit soos ‘n uitdaging voor my. 140 meter se klim oor 1.5 kilometer. Ek besluit egter om te kyk hoe ver ek kom en voorwaar, ek trap die hele bult uit en kom na 1:45 by waterpunt 5 aan. Ek verloor nog ‘n verdere 17 minute. Ek loop my skoonseun se broer en vrou hier raak en sy “kiek” my.

 


‘n Vinnige 3 minute stop ek die einde is in sig. Nou weer bult af en dan die laaste bult voor die jaag tog eindstreep toe. Die laaste bult is weer 140 meter se klim maar darem oor 3 kilometer. Nou skouer aan die wiel, einde toe. Iewers laat val ek nog ook my waterbottel toe ek hom wou uithaal om te drink en ry bo oor hom. Hy oorleef dit en ek hou stil om hom op te tel. Nou is dit redelik gelyk tot by die laaste afdraend. Ek tel twee meisies en ‘n ou op en ry lekker in hulle glystroom. Net voor die laaste afdreand slaan my ketting weer vas en ek verloor hulle. Gelukkig weet ek darem nou al van die ketting en hou gou stil om hom los te wikkel. Spring weer aan die gang ek kyk of ek hulle weer kan vang. Dit werk egter nie, maar ek is die laaste bult teen ‘n spoed af. Draai links na Pine Creek toe en bereik die einde na 10:40, 11:20 met die eerste 11 kilometer ingesluit. Voorwaar ‘n grootse poging om die een te voltooi! Seker maar te dom astrand om op te gee, maar die satisfakise om so ‘n uitmergelende wedren te voltooi, maak op daarvoor! 


Ek is 305ste uit die 337 van die deelnemers klaar gemaak het. 874 het ingeskryf, dus het net 38% van die deelnemers die wedren voltooi!









Dinsdag 09 November 2021

Namakwapadmaker verkenning

Op 5 November durf ek en Henk Bruwer die Namakwapadmaker roete van die ingang na Cedar Rock/Cederberg Chalets tot by Whupperthal aan. Min wetende wat op ons wag!

Ons spring die oggend net na 06:00 in Citrusdal weg en ry met Henk se bakkie tot by Sanddrif, waar ons as familie die naweek gaan deurbring. Ons parkeer sy bakkie daar en begin 07:42 met die groot trap. 


Die pad vanaf Sanddrif na Matjierivier is 'n goeie grondpad en ons lê die in 9.75 km in 30  minute af. Ons kruis ons die Eselbank/Whupperthal pad, tel ons fietse oor die hek en begin "offisieël" met ons verkennings tog. Die Namakwapadmaker begin by Mount Ceder en eindig 774 km later by die Gariepriveir so 14 km stroom af vanaf Vioolsdrif. Die eerste skof is van Mount Ceder tot by die Cederberg Chalets en die tweede skof is vanaf Cederberg Chalets tot by Doringbos, oor Whupprethal. Die doel van ons rit was om te sien hoe lyk die pad vanaf die ingang na die Cederberg Chalets tot by Whupperthal. Vandaar sou ons dan terug Sanddrif toe ry. Ek het die hele roete op my GPS afgelaai, so ons het darem 'n idee waar ons moet ry!



Nadat ons oor die hek geklim het, is dit bult op! Ons klim vanaf 771 meter tot by 1,135 meter oor 'n afstand van 9 km en dit neem ons net mooi een uur. Alhoewel dit net 'n "jeep track" is, is die pad oppervlakte goed en sekere gedeeltes is sement, met klippe wat ingelê is om beter vastrap plek te gee.


Hierna daal ons na 698 meter. Die pad is besaai met losserige klippe, wat dit moeilik maar om vinnig te ry. Ons spoed wissel so tussen 10 en 30 kpu, afhangende van die pad oppervlakte. Ons is nou in die Cederberg Chalets se grondgebied (sonder toestemming) maar sien geen huisies nie. Daar is net vier huisies en almal is van klip gebou en ver van die hoof toevoer pad, dus het almal gee totale privaatheid. Hier is ook geen selfoon ontvangs nie, dus die perfekte plek indien mense heeltemal wil wegbreek. Vir party mense mag dit "te" afgeleë wees. Daar is net sonkrag en gas. Jy moet ook jou eie drink water saam neem. Ons het gewonder wat hulle doen vir algemeen water gebruik, want hier is nie water nie en ons sien nie opgaar tenke nie. Die Chalets is onderskeidelik 14.2 km, 21.6 km en 24.2 km van die ingangshek af! Die twee op 21.6 is regoor mekaar.


Ons kom by 'n vurk wat regs na Doringrivier en Kantoor wys en links na Chalets. Die GPS wys ons moet links hou. Hier is die pad nog steeds redelik goed en ons ry so teen 10-20 kpu. Ons ry ook verby die twee chalets wat op 21.6 km reg teen die pad is! Woorvaar afgesonder. Ek sê vir Henk dat die huisie so naby aan die pad is, dat hulle probleme met die verkeer gaan hé! Gelukkig sal daar nie veel verkeer op die afgleë plek wees nie!



Na die huisie "verwyn"die pad vir die eerste keer. Ons tel gelukkig gou weer 'n spoor op en ry aan. Op 37 km "verdwyn" die pad weer. Ons is op 'n koppie en klim op 'n hoë klip om te kyk of ons kan sien waar die pad nou gaan. Ons sien in die verte 'n pad, maar hier by ons is niks! Ons besluit om maar die GPS so na as moontlik te volg. Ons moet nou stoot, want hier kan ons nie ry nie. Na so 'n entjite tel ons weer 'n spoor op, maar dit is nie die een wat ons van die koppie af gesien het nie, maar dit stem darem ooreen met die GPS. Dele is baie sanderig wat tot gevolg het dat "hike a bike" aan die orde van die dag is. Na 'n ruk se gestoot tel ons weer 'n paadjie op en kan ons darem weer ry. Dit is egter bult op so die vordering is nie te vinnig nie. Die bult is nie te styl nie en ook nie te lank nie en spoedig is ons weer goed aan die gang.



So op ongeveer 43 km kom ons op twee geboue met 'n onder andere 'n oond in die rots langs aan en 'n klipkring waar daar vuur gemaak kan word. Ons water is min en ons het al 'n paar kranne langs die pad gekry wat heeltemal droog was. Ons kry 'n 20 liter waterkan wat so halfvol is in die een hut en maak ons waterbottels vol. Gelukkig is ek lig op water, maar Henk se water was amper op. Nadat ons 'n vinnige breek geneem het, is ons weer aan die gang.




Henk ry so 100 meter voor my. Ons bereik 'n punt waar die GPS aandui dat ons regs op 'n baie onduidelike sandpaadjie moet draai, terwyl die pad waarop ons is heelwat beter lyk. Ek besluit om aan te hou op die beter pad, in die hoop dat die twee weer bymekaar sal uitkom. Wanneer ek weer by Henk kom noem ek dit vir hom en ons voel albei dat die beter pad 'n beter opsie is. Die pad waarop ons is word op die GPS aangedui as deel van die Whupperthal 4x4 trail, so daar is hoop! Later sal ons ons oordeel bevraagteken! 





Ons klim  weer 'n maklike bult uit. Ons albei sien, wat ons dink 'n bakkie en dus beskawing is in die verte, maar toe ons nader kom is dit net 'n rots!  Ons trek nou al op 57 km en ry al vir 6:15 uur lank en het nog nie 'n lewende siel gesien nie! My beplanning was om na 5:30 by Whupperthal te wees. Nou is ons al 45 minute langer aan die gang en ons het nie 'n idee waar Whupperthal is nie! Ons is nou ook redelik ver van waar die GPS roete loop, maar vertrou dat ons ons bestemming sal bereik. Ons boenner 'n lekker tegniese bult, wat rybaar is, af. Na 'n rukkie sien ons 'n paar huise en 'n dam vol water! Ons hou by die dam stil, drink water en maak weer ons bottels vol. Ons gewaar geen lewe nie en ry aan.  By 'n vurk gaan ons links. Na so ongeveer 500 meter kom ons by 'n stomp in die pad, gevolg deur 'n groot krans. Daar is 'n baie rowwe pad links af, maar die loop onder in die vallei dood. Ons moet maar omdraai en die regter vurk probeer!



Oppad vurk toe, sien ons iemand loop. Ons ry nader om te hoor of die pad Whupperthal toe gaan. Dit is 'n jongerige meisie en sy bevestig dat die pad wel Whupperthal toe gaan, maar is meer bekommerd dat ons onwettig op privaat grond is, en sê sy gaan haar pa roep. Sy het ook iets gesê van 'n hek wat gesluit is. Dit is egter nie vir ons 'n pribleem nie, trouens ons is al vandag oor 'n paar gesluite hekke! Ons draai om en laat spander in die rigting van die regter vurk. Die pad is redelik goed en dit lyk of daar saailande was, maar nou groei daar net onkruid. Ons kry die hek, klim oor en kom weer op 'n situasie af waar daar geen pad is nie! Ons ry tussen die bossies deur en na 'n rukkie tel ons 'n ou verweerde pad op. Na nog 'n entjie se ry sien ons die pad wat van Clanwillaim se kant na Whupperthal toe loop, so daar is hoop! Whupperthal is onder in die kloof, maar dit is ten minste nog 10-15 km weg.


Tussen ons en Whupperthal is daar 'n redelike hoogte verskil! Die pad volg die kontoer van die bult af en is so rof en styl dat ons verplig is om ons fietse te stoot! Alhoewel ons 400 meter daal oor 4 km, is ons gemidelde spoed slegs 3 kpu! Die pad word as 'n "4x4 trial" beskryf, maar ons albei voel dat selfs 'n geharde 4x4 ryer gaan sukkel op die pad op of af te ry. Onder in die vallei kan ons uiteindelik weer ry. Ons kom na 8 ure se ry en 70 km in Whuppertal aan. 





Dit is nou 15:40 en ons soek iets om te eet. Hier is nie meer 'n restourant nie, net 'n klein winkeltjie wat koeldrank en lekkers verkoop! Die dame agter die toonbank lig ons in dat sy wel "slap chips" het en ons verlustig ons aan 'n Coke en "slap chips". Hier is selfoonontvangs en Henk bel die Sanddrif ontvangs by Dwarsrivier en vra dat hulle vir  Carine moet laat weet dat sy ons op Esselbank moet kry. Toe ons die rit bespreek het, het ons die moontlik genoem dat sy in Eselbank se rigting moet ry indien dit laat word en ons is nog nie tuis nie. Teen die huidige pas gaan die donker ons vang en ons het nie daarvoor reggemaak nie.


Na so 'n 20 minute is ons weer oppad. Ons het nou 'n 400 meter klim oor 5 km wat voor lê voordat ons die plato, wat na Esselbank lei, bereik. Dit neem my 50 minute om tot bo te kilm. Die hele pad is sement met 'n gradieënt wat wissel tussen 10% en 18%. So dit is rybaar, maar dit neem tyd! Ek gebruik altyd 'n spoed van 3.5 kpu of stadiger as 'n teken om af te klim en te stoot. My spoed draai 'n paar keer by 3.7 kpu, maar ek hou aan met trap. Wanneer ek bo kom voel ek darem dat ek eintlik 'n baie goeie dag agter die rug het, ten spyte van dit feit dat ons op 'n stadium redelik bekommerd was oor wanneer ons weer beskawing sou bereik.



Bo op die plato is die pad redelik en op 80 km bereik ons Esselbank. Ons soek weer koeldrank maar kry net "minder nugter" mense! Iemand lig ons dat daar koeldrank "net naderkant die elektriese paal" te kry is. Ons ry aan, maar sien niks wat lyk soos 'n plek wat koedrank verkoop nie. Net toe ons by die laaste huise verby ry, kom Carine om die hoek! Ons stop net daar en laai die fietse op die bakkie. Ons ry terug dorp toe en vind toe die huis waar die koeldrank verkoop word. Daarna vat ons die pad terug Sanddrif toe. Die pad is so sleg, dit het Carine 'n uur en 'n half geneem om die 30 km af te lê en sy het ons 17:30 gekry, met die gevolg dat ons eers 19:00 by Sanddrif aankom! 


So eindig 'n besonder gebeurtenisvolle dag op 'n fiets, waar ons heelwat langer as beplan in die saal was.




<iframe src='https://connect.garmin.com/modern/activity/embed/7782024323' title='Cederberg Namakwapad dag 2 verkenning' width='465' height='500' frameborder='0'></iframe>