Sondag 18 Junie 2023

Richtersveld ekskursie en Trans Augrabies MTB


 Richtersveld Ekskursie

 

Wynand het my oortuig bom die week af te vat en ‘n draai in die Richtersveld te gaan maak en dan die drie daagse Trans Augrabies MTB te gaan ry. Ek is toe Sondagaand 11 Junie na Crine-hulle op Citrusdal om die rit The Growcery, so 19 km wes van Vioolsdrift so ‘n bietjie korter te maak. Maandagoggend laai ek vir Carine by haar skool af en vat die pad The Growcery toe. Die reën omtrent heeltyd tot by Steinkopf. Ek het my motor Sondag volgemaak en die meter het toe aangedui ek kan 1,020 km op die tenk kry. Soos ek ry kom die getal af, maar toe ek deur Springbok ry wys dit ek maklik The Growcery en terug te behoort te maak. Toe ek by The Growcery stil hou, dui die meter aan dat ek nog 80 km oor het en die naaste fulstasie is Steinkopf, wat 87 km weg is! Sal maar ‘n plan moet maak om te kyk of ek ‘n paar lieter diesel by een van boere kan koop!

 







Nadat ek in bespreek het, verken ek die omgewing ‘n bietjie met my bergfiets. Ek soek onder andere ‘n pad wes van The Growcery al langs die Oranjerivier, wat deel van die pad terug van Eksteenfontein is. Die pad op my kraate bestaan egter nie, alhoewel daar ander paaie is. Ek daar dus maar om. Gerrit Bruwer het my sy suster se telefoon nommer gegee. Hulle boere naby waar ek bly. Ek besluit om hulle te gaan opsoek. Internet ontvangs is sleg en selfone werk net met Namibiese foonkraate of “roaming” wat baie duur is. Ek ry by ‘n plaas in en doen navraag. Gerrit se suster is net so 2 km die pad af. Daar aangekom moet ek hoor dat hulle vir die dag Springbok toe is. Ek ry dus maar terug The Growcery toe. Anndete is deel van my bespreking en ek word aangenaam verras net die kwaliteit van die ete. Die verblyf is maar karrig maar goed genoeg vir een person. My plan is om die volgende dag ‘n sirkel roete deurEksteenfontein te ry.

 

As gevolg van die probleme om die pad Wes gister te kry, besluit ek om maar net ‘n gedeelte van die pad Eksteenfontein toe te ry en na so 30 km om te draai en ‘n goedgunstige boer, wat my ‘n paar lieter diesel sal verkoop, op te soek. Die rit oor die Helskloofpas is baie interessant. Die pad is oor die algemeen in ‘n baie goeie toestand. Dele van die pas is rof, maar ek sal, met sorg, die met my Q5 kan aanpak. Op 30 km draai ek om. Oppad terug soek ek weer die pad langs die Oranje en kry dit die keer. Die eerste deel verskil wesenlik, maar na ‘n rukkie kry ek ‘n baie interssante pad wat al langs die rivier afloop. Ek ry tot op die einde en dan in die kloof, waar die pad wat ek terug van Eksteenfontein wou ry, op. Daar bestaan ‘n pad wat later in die riveirloop oploop en dus redelik sanderig sal wees. Ek draai op die punt om. 

 














Terug by die hoofpad, ry ek weer na Gerrit se suster en die keer is ek gelukkig. Hulle is tuis. Ek en haar man gesels lekker en hy is bereid om my 6 liter diesel te verkoop. Ek reël om dit die volgende oggend 09:00 te kom haal.


Na nog ‘n interessante aandete en goeie nag se rus, pak ek op. Na ontbyt gaan haal ek die diesel en kan toe sommer Springbok toe ry met die eksta wat ek ingegooi het. Ek maak op Springbok vol en vat die pad Augrabies toe. Die reis is voorspoedig en en kom so teen 14:00 daar aan. 

 

Ek bespreek in, kry ‘n staanplek en slaan my tent op. Net na 17:00 registreer ek. “Race briefing” is 18:00 en aandete 19:00. Ek is net voor 21:00 in die bed.

 


 

Trans Augrabies Dag1

 

Ontbyt is 07:30, maar net na 06:00 is ek wakker. Die wedren begin eers 09:00. Ek trek aan en kry my fiets reg. Ek ry so ‘n bietjie in die kamp rond om die tyd te verwyl. Daar is 4 wegspring groepe, met 5 minute posesse. Groep 2 spring stiptelik 09:00 weg. Die res van ons spring almal saam 5 minute later weg. Ek ry lekker rustig en redelik agter. Op die oop pad besluit ek om ‘n bietjie meer “effort” in te sit en skuif so ‘n paar plekke op. Ons ry op die Natuurpark se diens paaie wat soos ‘n distriks pad is, maar baie sinkplaat. Na 16 km draai ons af na die eerste waterpun waar daar lekkr beesbiltong, droëwors en ander lekkernye is. Van hier af ry ons op ‘n rowwe “jeep track” wat afgewissle word met lekker gelyk gedeeltes deur die veld, ‘n paar lekker dik sanderige gedeeltes en ook klipbanke. Daar is ook ‘n paar lekker  skerp klimme en afdraendes. So ‘n kilometer en ‘n half voor ons weer by ‘n grootpad aansluit,  gaan ons by ‘n baie rowwe en steil afdraende af. Die ergste is dat dit duidelik is dat ons later weer hier sal mpet op!

 

Onder draai ons links op die pad en ry verby vrugteboorde tot by ‘n brug wat ons oor die Oranjerivier neem. Anderkant draai ons regs deur Vredesvallei en dan die heuwels in, met ‘n geleidelike klim op ‘n baie goei pad. Na so ‘n uur se ry word ons links verwys op ‘n “jeep track” wat al hoe rowwer raak hoe verder ons ry! Dit is ook ‘n gedurige op en af met baie klippe. Hulle het in die “race briefing” van “albasters” gepraat. Nou kon ek duidelik sien wat hulle bedoel het. Op die stadium lyk dit of ek so 6 uur gaan trap. Op 41 km bereik ons die volgende waterpunt, wat net so goed soos die vorige een bevoorraad is. Na ‘n paar glasies Coke, stukke biltong en “jelly babies”, val ek weer in die pad. Ons kry nou die enigste “single track”vir die dag. Dit is 8.3 km lank en neem my 43 minute, maar dit is regtig iets besonders. Dit word afgewissel tussen redelik lekker gelyk dele met ‘n paar gemiddelde klimme wat ons gelydelik al hoër neem. Dan kom die afdraend! Hier het die ouens hulleself werklik oortref. Dit is lekker tegnies, maar met die regte pas en vertroue kan alles gery word. Daar is ook ‘n paar skerp draaie en los gruis, so ons moet mooi konsentreer. Dit is ook seker die enigste plek waar ‘n “single track” met rooskwats uitgemerk word! Die laaste 3 km is weer op ‘n distrikspad en dan doen ons weer by waterpunt 2 aan vir die terugtog. 

 

Die eerste gedeelte is baie soos die vorige “single track”, net makliker met een deurgang tussen twee groot rotse wat net breed genoeg is om ‘n bergfiets se hanvatsel te akkommodeer! Na so 3 km is ons weer op ‘n distrikspad en meesal af, wat beteken ons handhaaf ‘n goeie spoed. Ons ry weer deur Vredesvallei en oor die Oranje terug na die “groot bult” wat Augrabies Monster gedoop is! Nie so kwaai soos die Tankwa Trek se Marino Monster nie, maar ‘n monster op sy eie. Gelukkig is dit nie te lank nie en ek kry hom uitgetrap, behalwe vir die keer toe my ketting aan die binnekant van my groot rat afgespring het. Ek kry dit gou reg en trap voort. Die pad terug na die volgende waterpunt, op 66 km, is dieselfde een waarmee ons vanoggend gekom het. Dit is interessant dat die sandkolle, wat nou die hitte van die dag ervaar, nou ‘n bietjie moeiliker trap! Ek is besig om goed tyd op te maak en hoort onder 6 uur in te kom. 

 

Ek bereik die laaste waterpunt op 5:05. Na ‘n glasie Coke en ‘n paar stukke van die lekker biltong, vat ek weer die pad. Ek handhaaf ‘n baie goeie pas en dit lyk of ek 5:45 sal maak. Die pad deur die veld raak al beter en dit is meeste van die tyd afdraend. Ek handhaaf ‘n gemiddeld spoed van meer as 20 kpu en trap dat die byle huil. Met 5 km oor sien ek ek hoort 5:30 te maak en ek sit ‘n bietjie ekstra in. By die kamp se ingang lei hulle ons weer op ‘n “single track”, waar ons ‘n hele aantal “toeskouers” in die vorm van bobbejane , het. Hulle pla ons darem nie en so maak ek dan klaar in 5:31:50 vir die 81.17 km. ‘n Goeie dag se oefening.

 








 

Trans Augrabies Dag 2

 

Ek slaap so lekker dat die wekker my wakker maak. Skeer en oggend roetine met ‘n 07:30 ontbyt. Weet nie wat ek gister verkeerd gedoen het nie, maar ek is opgeskuif na die B groep. Ons spring 09:05 weg en ry die eerste 2 km rustig agter ‘n bakkie. Toe hy aftrek verander die pas nie noemenswaardig nie. Mettertyd tel die pas op. Die eerste 12 km is die teenoorgestelde van gistermiddag se laaste deel. Op 14.73 kruis ons ‘n grootpad. Daar is geen pyltjies nie en almal ry aan. Na ‘n rukkie stop die voortse ryers. Ons is op verkeerde roete. Ons moes by die grootpad links gedraai het, maar daar was geen teken nie. Die roete op my Garmin wys ook so, maar ek het soos alle skape agter die trop aan gery!. Ons handhaaf ‘n goeie pas op die grootpad en kom  na 1:05 by die eerste waterpunt. Na die beruiklike Coke ens val ek weer in die pad.

 

Ons is nou op ‘n “jeep track” wat wissel van baie goed tot baie rof met ‘n voordurende klim en daal en klim en daal. Dit is nou opregte bergfiets terrein. Daar is heelwat tegniese gedeeltes, ‘n paar sand kolle en elke hier en daar ‘n skerp bultjie wat baie energie verg om uit te ry, maar dit is ‘n lekker uitdaging. Dit hou vir 26 km aan. 26 km se bergfiets genot uit die boonste rakke! Dit neem my 2 uur om die 26 km af te lê. Alhoewel daar ‘n paar ryers by my verby kom, haal ek ook ‘n hele aantal in, veral na die einde se kant toe. Dit bring ons by waterpunt 2. 

 


Ons is nou weer op ‘n grootpad met ‘n redelike hellings en afdraendes, met die gevolg dat my gemiddelde spoed redelik gou verbeter. Ek haal weer ‘n klomp ander deelnemers in. Van ons ry ‘n rukkie saam, maar dan raak hulle agter wanneer ons deur ‘n rivierbedding gaan wat gevolg word deur ‘n kort sterk klim. Na 4:19 en 68 km kom ons by die laaste waterpunt. Ek stop vir 4 minute en val dan weer in die pad. Ons ry ‘n verdere 9 km op die pad en dan gaan ons oor na die Klipspringer voetslaanpad. Dit is ‘n voetpad waar San Parke vir ons spesiaal toestemming gegee het om dit met ons fietse te ry. Dit is “single track” uit die boonste rake. Baie tegniese en uitdagende gedeeltes, maar weklik besonders. Daar is selfs ‘n gedeelte waar ek my fiets ala Freedom Challenge styl ‘n bult moet uit dra. Die oprganiseerders het darem mense voorsien om fietse te dra vir die deelnemers wat nie kans gesien het om dit self te dra nie. Die 6 km neem my 30 minute.


Nou is ons weer op ‘n grootpad en al wat nou nog voor lê is Maanrots. Dit bereik ons na 89 km en vir die volgende 2 km ry ons oor hierdie masiewe rots wat van 674 na 695 meter klim en dan weer na 658 meter daal. Al wat nou oorbly is die laast paar kilometer huis toe.

 

Ek voltooi die 92 km in 5:55. Heel te vrede met ‘n dag se goeie oefening en wonderlike “mountain biking”.

 


Trans Augrabies Dag 3

 

Ek slaap weer lekker en word deur my wekker wakker gemaak. Ek beplan om na die wedren deur te ry Victoria Wes toe om ‘n dag by Martin en Helene Marais van Nooitgedacht, te kuier, so ek begin met die oppak proses voor en na ontbyt. 

 

Die laaste skof is in die vorm van ‘n tydtoets en ons spring twee=twee weg. My tyd is 09:17. Die eerste gedeelte is die teenoorgeselde van die vorige dag met ‘n ekstra stukkie Klipspringer in. Die Maanrots is baie styler van hierdie kant wat ‘n stukkie stoot noodsaaklik maak. Anderkant gaan dit lekker en ek laat die deelnemer saam met wie ek begin het, agter. Ons gaan oor ‘n stukkie dienspad en dan is dit die Klipspringer. Die ekstra gedeelte is baie soos gister syne met lekker gladde veld paadjies en baie klipperige gedeeltes. Ek geniet die uitdaging terdee en gaan by ‘n hele aantal ander deelnemers verby. Daar is ook ‘n paar ander vinnige manne wat by my verby kom. Die eerste 15 km neem 1:15 om te voltooi. Ons gaan oor na ‘n goeie “jeep track” en dan ‘n entjie op die dienspad voordat ons weer op ‘n “jeep tack” die veld in gelei word. Die pad klim gelydelik en ek sukkel weer met my ketting wat aan die binnekant van die groot rat afglip en dan tussen die spekke vas geknyp word. Na ‘n gesukkel. Kry ek hom uit en trap ‘n stylerrige bult uit. Hierna vloei die roete lekker deur die veld met ‘n goeie mengsel van op en af, harde veld pad en sand kolle. Op 18 km stop ek by die enigste waterpunt van die dag. Ek vul al my “voorrade” aan en laat maak ook my waterbottel vol. 

 

Nou is dit voet in die hoek tot by die einde. Die volgende 2 km is teen ‘n gelydelike helling en my spoed wissel so tussen 12-18 kpu. Daarna verander die helling en ek tel spoed op. Hierdie terrein duur voort tot op 33 km. Nou betree ons plaasgrond en ry vir die volgende 6 km tussen tafeldruif wingerde deur. Na 2 km deur die veld tussen twee plase kom ons by die Pecanneut plantasie vir die volgende 4 km. Nog so ‘n entjie deur die plaasgrond en dan is ons weer in die park. Eers met ‘n veld paadjie en dan is ons op die laaste dienspad kamp toe. 

 

Die dag eindig op 49 km en na 3:17 in die saal. 

 

Samevatting. Dit was voorwaar een van die aangenaamste bergfites wedrenne wat ek in ‘n lank tyd aan deel geneem het. ‘n Biejie korter as die Tankwa Trek, maar in graad van uitdaging en genot, beslis op dieselfde vlak. 

 

Totale: afstand 222 km; tyd 14:44; klim 3,015 meter. 















Woensdag 17 Mei 2023

36ONE nommer 9

Almal ouer as 70 jaar kan verniet vir die 36ONE inskryf. Ek neem aan borge respekteer die deudringends vermoeë van enige 70-jarige person wat 36ONE kilometer in 36.1 uur wil ry en dat daar ook darem ook nie te veel van ons sal wees nie. Wel ek is een van hulle en laat nie so ‘n geleentheid maklik verby gaan nie, dus is ek in vir 2023 se 36ONE op 12 Mei 2023.

 

Johann de Buyn was ook van plan om te ry, maar sukkel nog mt sy skouer nadat hy die derde laaste dag op die Epic geval het. Ek het toe besluit om vir Danie Kotze te vra of hy nie wil saam gaan nie, dan kan hy sommer as ondersteunings bestuurder optree. Ons vertrk dus Donderdag 11 Mei so net na 10:00 uit die Kaap. Dit is trietserig en nat! Die weervoorspelling vir Oudtshoorn lyk ook nie te belowend nie, alhoewel die reënval liggies gaan wees en die minimum temperatuur darem net 9 grade.

 

Ons het so net voor 18:00 in Oudtshoorn aangekom en na ‘n pizza redelik vroeg in die bed gekom. Ek het vir ons ontbyt van eiers, spek, sampioene en brood voorgesit en daarna is ons na Kleinplasie om te registreer. Hier loop ek ‘n paar ou vriende raak wat ook vanjaar weer gaan deelneem. Ons eet middag ete by Beans about Coffee en gaan rus dan in afwagting van die wegspring. Dit reën heel oggend redelik deurdringend, maar hou so elke nou en dan op vir so ‘n paar minute. Die hoop beskaam nie! Ons vertrek net na 14:00 na Kleinplsie toe vir die wegspring. Dit reën dit nie meer nie en die vooruitsigte vir goeie weer redelik goed. Die wolk sit hoog en lyk nie dreigend nie. Die vraag is natuurlik, wat het al die reën aan die pad oppervlakte gedoen?

 

 So net voor 15:00 begin ons naderstaan vir die wegspring. Op hierdie staium lyk die weer goed. Bewolk, maar geen reën nie. Die eerste paar kilometer is maar altyd redelik rustig. Alhoewel dit nie reën nie, is die pad redelik nat. Op 6.5 kilometer draai ons regs net voor Buffelsdrift Game lodge. Nou klim ons vir 10.5 kilometer. Op 18.5 kilometer draai ons weer regs in die rigting van Dysseldorp. So elke nou en dan val daar ‘n paar druppels, maar die lug lyk redelik oop vorentoe en die pad is nie te modderig nie. Ek en die ryer langs my begin gesels en dit blyk dat hy Pieter Jansen van Rensburg van Parys is, maar hy het ook ‘n plek op Oubaai. Ons ry ‘n ruk saam en gesels baie lekker. Op ‘n kol verloor ons mekaaar, maar ons paaie sou nog ‘n paar keer voor die einde weer kruis. Ons is albei nimmer einders! Op kilometer 26 draai ons regs op ‘n plaaspad. Ons is weereens gelukkig aangesien die oppervlakte sanderig is en dus redelik ferm is, wat ry omstandighede baie bevoordeel. Na 31 kilometer kruis ons die De Rust/Oudtshoorn pad. Ons is nog steeds op goeie plaaspaaie. Op kilometer 34.5 sluit ons weer by ‘n distrikspad aan, wat na ‘n verdere 1.5 kilometer wes draai en op 44 kilometer weer suid wes. Die roete neem ons kruis en dwars oor die Klein Karoo! Op 55 kilometer klim ons op die pad wat ons deur die Hotomskloof neem en na waterpunt 1 wat ons na 55 kilometer bereik. Ek is nou al 2:53 aan die gang, ‘n hele 22 minute langer as verlede jaar. 

 

Die weer het tot nou goed gehou en baie belowend gelyk met groot oop kolle in die lug. Na 3 minute rol die wiele weer. Intussen het daar ‘n redelike sterk suid wester opgekom en die vlae wapper in die lug en daar val ‘n swaar reëbui! . Ons klim weer vir so 3 kilometer, waarna die pad links draai, wat reg teen die wind sal wees. Gelukkig is ons nou teen die regterkant van die hang en waai die wind bo-oor ons en die reën het opgehou. Toe ons bo kom, is daar, wonder bo wonder, nie veel meer van die wind oor nie. Op 71.5 kilometer draai ons links op die Heimersrivier pad. Van hier tot net voor Louvain is dit ‘n geval van rooi ligte wat oor ‘n bult verdwyn en wanneer ons by die bopunt kom, sien ons weer die rooi ligte, maar nou hoër. So hou dit aan tot op 95 kilometer, waar ons regs draai Louvain toe. Op 98 kilometer word ons afgelei op ‘n “single track” om ons onder deur die R62 te neem. Aanvanklik gaan dit goed, maar hoe later, hoe kwater! Die pad raak al meer modderig. Teen die tyd wat ek by Louvain aan kom klink my ratte vreeslik. Gelukkig is daar ‘n tuinslang, maar ons moet in ‘n tou staan om ‘n beurt te kry om ons fietse skoon te spuit. Verder word ons in gelig dat die volgende 7 kilometer nog erger is! Ek het nou 101 kilometer ge ry en is al 6:58 aan die gang, 45 minute langer as verlede jaar. Die nat toestande het darem sekerlik iets daarmee te doen. Dit is waterpunt 2 en kontrole punt 1 en ek kry vir Danie hier. Ek neem ‘n ekstra warm baadjie, ruil handskoene en neem my spaar battery uit die sakkies wat hy vir my bring. Na 34 minute en twee koppies sampioen sop, pak ek die volgende skof aan. 


 

Aanvanklik is die pad nie so slegs as wat ek verwag het nie, maar op 116 kilometer moet ons deur ‘n geploegde land gaan waar die modder so dik is dat ek my fiets ‘n ent moet sleep aangesien die wiel te dik gekoek is van die modder. Ons kruis die R62 op 125 kilometer en daal deur die Paardekloof af na die Heimerrivier pad en waterpunt 3 op 134 kilometer. Na ‘n paar glasies Coke en  stukkies piesang brood, val ek weer in die pad na 9 minute. Ek sien weer vir Pieter Jansen van Rensburg hier. Ons ry nou met ‘n baie rowwe plaaspad om vorentoe by die Heimersrivier pad aan te sluit. Ons gaan, onder andere, deur ‘n stroompie. Alhoewel ek sien van die ouens trek hulle sokkie uit en stap deur, het ek my nog nooit deur ‘n water stroompie laat terug hou nie en ek besluit om deur te ry. Ongelukkig loop die stroompie in die middel ‘n bietjie sterker as waarvoor ek gereed was! Ek verloor my balans en land in die water. Gelukkig is net my bene en handskoene nat. My reën baadjie het sy werk gedoen en my lyf is nie nat nie. Met die val het ek my knie gestamp en ek kan hom nou voel. Weereens is die geluk aan my kant en ek kan sonder te veel pyn aan ry. Die Heimersriveir pad van hier tot by Zebra is nie juis veel anders as die deel wat ons vroeër gery het nie. Dit weereens ‘n geval van bult op en bult af en gewoonlik is die volgende bult hoër. Die weer is goed en ek kan selfs die maan sien, so dit lyk belowend vir die res van die wedren. Op 142 kilometer word ons weer oor plaaspaaie en langs die treinspoor, onder deur die R62 geneem. Dit is minder modderig hier as tydens die vorige episode! Daar was een jaar ‘n waterpunt net nadat ons oor ‘n rivier so ‘n paar kilometer na Zebra is, maar hulle het duidelik besluit dat dit nie nodig was nie. Ek moet maar voort sukkel tot by kilometer 155 waar ons waterpunt 4 kry. Hier stop ek vir 7 minute. Alhoewel ek nou al 1:04 agter verlede jaar se tyd is, voel ek heel goed. Dit bly nog steeds ‘n geval van op en af met ‘n paar afdaendes wat skrik vir niks. Iets wat in die donker ekstra gevaarlik is, maar ek oorleef dit.  My hande en voete is nog klam, maar my bene is droog. Ek ry meeste van die tyd op my eie. So elke nou en dan kom daar ‘n paar ryers by my verby. Op 162 kilometer begin ons om in die Kandelaarsrivier vallei af te daal en op 171 kilometer sluit ons by die R328 aan. Nou is dit teerpad tot by waterpunt 5, wat ook kontrole punt 2 is. Ek arriveer hier na 177.74 kilometer en 11:43 se ry. My lig het begin rooi wys en ek ruil dus batterye en gooi die ou battery in die boks met spaar klere wat ek hierna toe laat stuur het. Ek gebruik nie enige van die klere nie, wat seker ‘n tegniese fout was, want daar was nog ‘n lekker warm baadjie in die boks. Ek rus lekker, eet pasta en drink koffie omdat die Milo op is! Na 34 minute val ek weer in die pad. 

 

Van Volmoed af klim ons konstant vir die volgende 25 kilometer. Daar is so hier en daar ‘n afdraend, maar die meeste van die tyd gaan die pad op. Dit sluit ‘n aaneenlopnede klim van 5 kilometer gevolg deur een van 3 kilometer. Na 200 kilometer in jou bene, is dit redelik moordend. Na, wat soos ‘n ewigheid voel, kom ons by waterpunt 6 aan. Ek moet sê ek het gedink die waterpunt kom nooit. Teen 38 kilometer na Volmoed, is dit nogal ‘n lang “stoot”! Ek vertoef vir 8 minute. Elke bult word darem gewoonilk gevolg deur ‘n afdraend en ons daal geleidelik totdat ons die Gouritsrivier kruis. Van hier af is daar weer ‘n baie geleidelike klim oor ‘n afstand van 18 kilometer! Ons klim van 110 meter tot by 230 meter. So die gradiënt is nie moeilik nie, maar meendoenloos! Dan is daar nog so ‘n paar “knoppe” tot by waterpunt 7, net voor die begin van Rooiberg. Na 7 minute is ek weer aan die gang. Ek meet gewoonlik my rite met my Garmin 830 en met my Fenix 6. By die waterpunte neem ek dan die tyd wanneer ek daar aan kom en weer wanneer ek vertrek. Ek het skynbaar die “stop” knoppie van die Fenix 6 gedruk toe ek vertrek het in plaas van “lap”! Dus hou Fenix 6 se rit hier op! Ons kry nou te doen met die die meeste modder sedert vroeg gister aand. Dit is so erg dat ek moet stop om die meeste af te krap en ook ‘n stok by my hou om so in die ry die modder van my bande af te krap. ‘n Baie modderige 5 kilometer, bring ons aan die voet van Rooiberg. My pas wissel so tussen 3.5 en 6 kpu. Dit neem my 1:15 om die 6 kilometer tot bo op die pas af te lê. Ek het selfs so ver gegaan om ‘n paar stukkies te stoot! Daar is deesdae ‘n “onoffisiële“ waterpunt aan die bopunt. Ek vertoef nie lank nie en durf die pad af aan.


Daar is aan die pad gewerk en baie van die rowwe gedeeltes is heelwat beter as vorige jare. Ek moet ook sê dat my hande en gewrigte heel wat beter gevoel het toe ons weer op gelykke grond gekom het. Die stuk tussen die voet van die pas en die Calitzdorp Spa pad is ook minder sinkplaat. Na die “drag” Calitzdorp toe, arriveer ek daar na 282 kilometer en 21:16 uur in die saal. Danie is weer hier en ek gee my lig en reën baadjie vir hom. Hy het egter my sakkie met droëklere en by Louvain vergeet, so ek het geen ander keuse nie as om aan te gaan met wat ek aan het. Ek is darem nie meer nat nie, maar alles is klam. Na 24 minute durf ek die laaste skof aan. Pieter Jansen van Rensburg kom hier aan net toe ek vertrek.

 

Nadat ek so ‘n rukkie aan die gang was, kom ek tot die besef dat ek in die donker gaan klaar maak en dus my lig nodig gaan hé. Ek skakel vir Danie en vra hom om my op die Calitzdorp dam pad te kry en my lig vir my te bring. Hy kry my na so 5 kilometer. Dit reën nie, maar die lug is klam en ek besluit, wyslik, om ook weer my reënbaadjie te neem. Oor die volgende 25 kilometer klim ons van 253 meter tot by 657 meter, met baie min verligting, dus 16 meter per kilometer se klim. Enige iets oor 10 begin styl raak en 16, na 290 kilometer is moordend!  Verder is die pad modderig, met ander woorde ek kan nie opstaan om te trap nie, want dan gly my agterwiel. Dit as gevolg van ‘n konstante gedrup! Dit reën nie hard nie, maar dit hou ook nie op nie! Ek besef dat ek baie gelukkig is dat ek weer my reënbaadjie by Danie geneem het. Indien ek dit nie gedoen het nie, sou ek nie die wedren kon voltooi nie as gevolg van hypertermia veroorsaak sou word deur die reën en koue! Ek het na my 4de 36ONE vir Sue gesê sy moet my skiet indien ek die wedren weer ry. Nou is ek jammer sy het dit nie gedoen nie! Daar kom ‘n ryer by my verby en ek sê vir ek dink ons moet Maandag ‘n sielkundige gaan sien. Geen  normale mens onderwerp jou, vrywillig, aan sulke marteling nie. Ek het die begeerte gehad om 10 te doen, maar vanaand besluit ek 9 is genoeg. Dit neem my 3:26 om die 25 kilometer af te lê. Op 312 kilometer kry ek die tweede laaste waterpunt. Ek kla hier oor my nat handskoene en Carl Heroldt bied my ‘n paar handskone aan wat iemand die vorige aand by Louvain vergeet het. Hulle is nie baie dik nie en ook nie waterdig nie, maar het “inners” en is droog! 

 









Die waterpunt was in die verlede bo-op die volgende bult en ek het gewonder hoekom dit geskuif is. Net na die waterpunt draai ek links op die Kruisriveir pad. Om die draai kry ek drie bakkies in die pad. Ek word gestop en hulle wys my hoe die rivier lyk. Hy loop so sterk dat ek nie eers my fiets daar deur gestoot sal kry nie! Nog twee deelnemers daag op en ons word op die bakkie gelaai en kruis die rivier so. Anderkant word obs afgelaai en ry op ons eie aan. Daar is nou nog twee klimme voor ons regs draai by die Swartberg Natuur Reservaat. Ek het die stuk van die afdraai tot by die begin van die Lategansvlei pad die afgelope paar jaar nog altyd lekker gery en vanjaar is geen uitsondering nie. Ek ry soos ‘n maniak deur die poort en handhaaf ‘n spoed van so 20 en 30 kpu, aangedryf deur suiwer adrienalien, want van energie is daar nie meer veel sprake nie. Al wat ek nou aan dink is die links draai op die teer pad, want dan is daar net 6 kilometer oor huis toe. Ek dryf voort en kort voor lank draai ek links. Die teer pad het nie veel van ‘n skouer nie, en ek moet elke keer links op die grond ry wanneer ek ‘n motor hoor aan kom. Gelukkig is die oppervalkte lekker gelyk. Daar is so ‘n klein bultjie en dan ‘n afdraend, links verby die hospital en die weermag tot op die einde van die dorp waar ek regs draai verby Langenhoven Hoër na die lig onder in die pad wat die indraai na Kleinplasie aandui. Na 28:48:44 kom ek by die eindstreep aan. Dit was voorwaar ‘n ontbering! Ek is dan ook die 3de 70-jarige wat klaar maak! Die teverdenheid en genoegdoening van die vermoeë om so ‘n moeilik wedren klaar te maak, is onbeskryflik. Ek het al ‘n paar keer gesê daar is niks lekker aan die ry van die 36ONE nie, al wat lekker is, is die feit dat jy kan sê jy het deurgedruk. Ek dink nie ek was al ooit in my lewe so na aan opgee soos vandag nie!

 



Sue het my toe nie na 4 geskied nie en Sondagoggend, na ‘n gespek met Fred van Zyl en die manne van Dryland word ek oortuig om wel nommer 10 in 2024 aan te pak! “Some people are suckers for punishment”! Ek merk ook op dat Pieter Jansen van Rensburg wel klaar gemaak het. Die ou doring!










 Hier is 'n foto van Pieter Jansen van Rensburg, wat deur gedruk het en klaar gemaak het as "last man standing"! Welgedaan Pieter!








Donderdag 27 April 2023

Erioca SA Hero

 Saterdag 22 April 2023 was weer tyd vir Erioca SA. Erioca gaan daaroor om die gees van die Tour ‘d France van die vroeë jare vas te vang deur met ‘n staalfiets, wat voor 1990 vervaardig is, op ‘n grondpad te ry, sonder enige bystand van derde partye. Vanjaar het twee opsies gehad. 40-70 km en jy kon enige tyd tussen 07:00 en 10:00 begin. Langs die pad was daar drie verversings stasies waar jy allehande versnapings kon kry, insluitende alkohol! Die tweede opsie, wat vir die meer ernstige deelnemers en manne en vroue bedoel was, was oor 170 km Noord Ooste van Montagu. Hier was daar vier waterpunte, een waar daar twee keer gestop sou word en ook geen alkohol beskikbaar nie. Ek het hierdie opsie gekies. Ons spring 05:00 weg! Ek het al in Desember 2022 ingeskryf en my verblyf is gedurende Februarie gefinaliseer.

 

Ek het beplan om so teen 15:00 op Vrydag 21 April te ry. Ek kry egter ‘n WhatsApp boodskap op die Erioca groep oor iemand wat ‘n geleentheid Montagu toe soek. Ek bied aan om een person te help en kry dus vir Kai Pringle 14:00 by Eden on Big Bay. Ons gesels lekker tydens die rit Montagu toe en kom so 17:00 daar aan. Nadat ek geregistreer het, meld ek by my gasheer en vrou vir die naweek aan. Leon, my broer se seun, is ook hier en ons eet die aand by ‘n restaurant in die dorp.





Die foto hierbo is ek saam met Chris Bradley wat van Southampton in Engeland gekom het vir Erioca!

 

Ek het ‘n paar keer getwyfel oor die wysheid om 170 km te ry en veral om 05:00, wanneer dit nog pik donker is, te begin. Die weer het ook nie te wonderlik gelyk nie, alhoewel die moontlikheid van reën, volgens die weer voorspelling, hier na die einde van die week redelik afgeneem het. Ek het myself egter voorberei vir lae temperature. Gedurende die nag het ek ‘n paar keer wakker geword met die klank van reën druppels op die dak gehoor. My wekker het 03:45 afgegaan, want ons moes 04:30 by die wegspring wees. Ek het vining by die deur uit geloer en gesien die grond is nat, maar dit reën nie. Ek is net na 04:15 by die voordeur uit en “verwelkom” met ‘n paar verdwaalde druppels. Gelukkig niks ernstig nie. “Race briefing” het eers 05:05 plaasgevind aangesien daar ‘n paar manne was wat verslaap het. Ons kom 05:12 aan die gang. Die eerste paar kilometer is “neutraal” en wanneer die wedren begin is die pas heel rustig. Almal spaar hulle kragte vir die 170 km wat voorlê. Ons is so tussen 20 en 30, waarvan seker die helfte “garvel” fietse is. Hulle ry dieselfde roete as ons en hulle wedren staan as Nova bekend. Hulle het ook ‘n paar Strava seksies waar hulle tyd gemeet word. 

 

Na 4.3km draai ons links op ‘n grondpad, in die rigting van Oubergpas. Dit reën nou liggies, maar darem nie so dat ek deurnat raak nie. Die temperatuur is 10 grade Celius. Dit is nog steeds donker en ek ry maar versigtig in die lig van my koplig om seker te maak ek slaan nie ‘n klip en kry ‘n papwiel nie. Die grootste probleem met die staalfiets op die grond pad is die moontlikheid van papwiele, veral as gevolg van die dun wiele wat maklik deurstamp. Op die probleem te adreseer, het ek my wiele kliphard gepomp, met die gevolg dat die rit redelik stamperig is. My pas is rustig en heelwat deelnemers kom by my verdy. Na 14 km begin ons Oubergpas klim. Dit begin nou lig raak en ek kan my lig afskakel. Teen die tyd wat ons bo uit kom, is die al heel lig, maar daar is geen sig van ‘n son nie. Dit is bewolk. Gelukkig het dit opgehou reën en die weer is eintlik idiaal vir fietsry, veral indien jy reg aangetrek is. Ek is dankbaar vir die warm handskoene en twee baadtjies wat ek aan het. 

 

Die afdraendes is op Erioca vir my die “moeilikste”. Ek moet baie versigtig wees om nie ‘n klip teen ‘n spoed te slaan nie, want dit sal onmiddellik ‘n papwiel tot gevolg hé. Waar ek met my bergfiets teen 40 kpu bult af sal gaan, beperk ek myself nou tot so 20-30 kpu!. Ek bereik waterpunt 1 na 2:45 en is redelik ver agter in die groep van deelnemers. My gemiddelde spoed is 12 kpu. Teen die pas gaan ek eers na donker klaar maak! Hier kry ek koffie en ‘n boerewors rol. Ek spandeer so 13 minute hier en val dan weer in die pad. Die pad is nou redelik gelyk, wat help dat ek ‘n beter pas handhaaf, maar die oppervlakte is rof en daar is ook ‘n paar sanderige driffies waar die dunwiele deur gestoot moet word. Dit neem my 2:25 tot by waterpunt 2. Die afstand was 44 km, dus ‘n gemiddelde spoed van 18 kpu. Dit lyk darem of ek voor donker gaan klaar maak! Ek drink weer koffie en eet van die verversings wat beskikbaar is. Ek vertoef 12 minute.

 

Van so ‘n entjie voor waterpunt 2 en tot by 3 is die pad in ‘n uitstekende toestand. Die oppervlakte is lekker glad, daar is geen bulte nie en ook baie min klippe. Die gevolg is dat ek ‘n besonder goeie pas handhaaf. Ek gaan ook by ‘n hele aantal deelnemers verby. Ek handhaaf ‘n pas van so tussen 20-30 kpu. Na 7 uur in die saal en 112 km, kom ek by waterpunt 3 aan. My gemiddelde spoed oor die 35 km was 23 kpu. Nou lyk ‘n ligdag einde al hoe meer ‘n werklikheid! Ek word hartlik ontvang deur Johan, ‘n prokureur van Johannesburg, wat deeltyds hier boer. Kry weer koffie en ook ‘n vetkoek met “mince” en ‘n pannekoek. Die gasvryheid maak die moeilik om weg te kom en ek val na 17 minute weer in die pad. 



 

Die pad oppervlakte het aansienlik verswak en is nou baie stamperig en vol los klippe, so ek moet versigtig ry. Na 16 km sluit ek weer aan by die pad, waarmee ons vanoggend uit gekom het, maar nou in die teenoorgestelde rigting, aan. Waar die pad tussen waterpunt 2 en 3 lekker gelyk was, is die gedeelte redelik op en af, maar gelukkig is die klimme nie te ernsitg nie. Dit neem my 1:23 om die 26 km tussen waterpunt 3 en 4 af te lê, ‘n gemiddelde spoed van net onder 18 kpu. My gemiddelde spoed vir die dag staan nou op 15.9 kpu. Heelwat beter as die 12 kpu van 6 urr gelede! Waterpunt 1 en 4 is op dieselfde plek. Hier kry ek weer koffie en hoeder kerrie en rys! My stop neem 16 minute in beslag.

 



Nou net die laaste 33 km huis toe, maar dit sluit Oubergpas af in. Op was moeilik, maar ek moes dit maar net uit “grind”. Af gaan ook moeilik wees, want dit is baie klipperig en ek wil nie nou ‘n papwiel kry nie! Dit gaan maar moeilik, maar ek kry dit darem reg om so 20-30 kpu te handhaaf, behalwe vir die verspoelde dele waar ek baie stadig ry. Ek moet heeltyd rem en dit plaas baie druk op my hande en polse. Ek is dankbaar toe ek na ‘n half uur weer op gelyk pad kom. Tydens die 2019 Freedom Challenge het ons ook hier afgekom en toe het ek meer as 20 driffies van hier tot by Montagu getel. Die res van die pad is redelik gelyk en meesal afdraend tot net voor Montagu, waar daar ‘n paar kort bultjies is. Die oppervlakte is ook baie klipperig en ek moet hard konsentreer om seker te maak ek slaan nie ‘n klip en kry ‘n papwiel nie. Dit sal nogal ‘n “tragedie” wees om op hierdie stadium met ‘n papwiel te sukkel! Die laaste 4 km is weer teer.

 

Na 10:40 in die sal, kom ek weer by De Bos aan na. Totale afstand 172 km. My verbassing was groot toe ek in kennis gestel word dat ek die eerste staalfiets is. Ek het regtig  nie gedink ek is eerste nie en my doel was net om klaar te maak en, indien moontlik, sonder enige papwiele. Dit het ek dan ook reg gekry. Stan Engelbrecht, die onganiseerder, was byderhand en neem ‘n “in pompto” video van die “wenner”! Ek moes later agter kom dat hulle ‘n fout gemaak het en dat ek eintlim tweede gekom, maar “so what”, ek het my doel bereik. Erioca gaan nie oor wie gewen het nie, maar om klaar te maak! Dit was ‘n baie suksesvolle dag op me 32 jaar oue Le Jeune waarmee ek al 32 Argusse voltooi het. Ek wonder of vandag se fietse dit sal kan doen.