Woensdag 17 Mei 2023

36ONE nommer 9

Almal ouer as 70 jaar kan verniet vir die 36ONE inskryf. Ek neem aan borge respekteer die deudringends vermoeë van enige 70-jarige person wat 36ONE kilometer in 36.1 uur wil ry en dat daar ook darem ook nie te veel van ons sal wees nie. Wel ek is een van hulle en laat nie so ‘n geleentheid maklik verby gaan nie, dus is ek in vir 2023 se 36ONE op 12 Mei 2023.

 

Johann de Buyn was ook van plan om te ry, maar sukkel nog mt sy skouer nadat hy die derde laaste dag op die Epic geval het. Ek het toe besluit om vir Danie Kotze te vra of hy nie wil saam gaan nie, dan kan hy sommer as ondersteunings bestuurder optree. Ons vertrk dus Donderdag 11 Mei so net na 10:00 uit die Kaap. Dit is trietserig en nat! Die weervoorspelling vir Oudtshoorn lyk ook nie te belowend nie, alhoewel die reënval liggies gaan wees en die minimum temperatuur darem net 9 grade.

 

Ons het so net voor 18:00 in Oudtshoorn aangekom en na ‘n pizza redelik vroeg in die bed gekom. Ek het vir ons ontbyt van eiers, spek, sampioene en brood voorgesit en daarna is ons na Kleinplasie om te registreer. Hier loop ek ‘n paar ou vriende raak wat ook vanjaar weer gaan deelneem. Ons eet middag ete by Beans about Coffee en gaan rus dan in afwagting van die wegspring. Dit reën heel oggend redelik deurdringend, maar hou so elke nou en dan op vir so ‘n paar minute. Die hoop beskaam nie! Ons vertrek net na 14:00 na Kleinplsie toe vir die wegspring. Dit reën dit nie meer nie en die vooruitsigte vir goeie weer redelik goed. Die wolk sit hoog en lyk nie dreigend nie. Die vraag is natuurlik, wat het al die reën aan die pad oppervlakte gedoen?

 

 So net voor 15:00 begin ons naderstaan vir die wegspring. Op hierdie staium lyk die weer goed. Bewolk, maar geen reën nie. Die eerste paar kilometer is maar altyd redelik rustig. Alhoewel dit nie reën nie, is die pad redelik nat. Op 6.5 kilometer draai ons regs net voor Buffelsdrift Game lodge. Nou klim ons vir 10.5 kilometer. Op 18.5 kilometer draai ons weer regs in die rigting van Dysseldorp. So elke nou en dan val daar ‘n paar druppels, maar die lug lyk redelik oop vorentoe en die pad is nie te modderig nie. Ek en die ryer langs my begin gesels en dit blyk dat hy Pieter Jansen van Rensburg van Parys is, maar hy het ook ‘n plek op Oubaai. Ons ry ‘n ruk saam en gesels baie lekker. Op ‘n kol verloor ons mekaaar, maar ons paaie sou nog ‘n paar keer voor die einde weer kruis. Ons is albei nimmer einders! Op kilometer 26 draai ons regs op ‘n plaaspad. Ons is weereens gelukkig aangesien die oppervlakte sanderig is en dus redelik ferm is, wat ry omstandighede baie bevoordeel. Na 31 kilometer kruis ons die De Rust/Oudtshoorn pad. Ons is nog steeds op goeie plaaspaaie. Op kilometer 34.5 sluit ons weer by ‘n distrikspad aan, wat na ‘n verdere 1.5 kilometer wes draai en op 44 kilometer weer suid wes. Die roete neem ons kruis en dwars oor die Klein Karoo! Op 55 kilometer klim ons op die pad wat ons deur die Hotomskloof neem en na waterpunt 1 wat ons na 55 kilometer bereik. Ek is nou al 2:53 aan die gang, ‘n hele 22 minute langer as verlede jaar. 

 

Die weer het tot nou goed gehou en baie belowend gelyk met groot oop kolle in die lug. Na 3 minute rol die wiele weer. Intussen het daar ‘n redelike sterk suid wester opgekom en die vlae wapper in die lug en daar val ‘n swaar reëbui! . Ons klim weer vir so 3 kilometer, waarna die pad links draai, wat reg teen die wind sal wees. Gelukkig is ons nou teen die regterkant van die hang en waai die wind bo-oor ons en die reën het opgehou. Toe ons bo kom, is daar, wonder bo wonder, nie veel meer van die wind oor nie. Op 71.5 kilometer draai ons links op die Heimersrivier pad. Van hier tot net voor Louvain is dit ‘n geval van rooi ligte wat oor ‘n bult verdwyn en wanneer ons by die bopunt kom, sien ons weer die rooi ligte, maar nou hoër. So hou dit aan tot op 95 kilometer, waar ons regs draai Louvain toe. Op 98 kilometer word ons afgelei op ‘n “single track” om ons onder deur die R62 te neem. Aanvanklik gaan dit goed, maar hoe later, hoe kwater! Die pad raak al meer modderig. Teen die tyd wat ek by Louvain aan kom klink my ratte vreeslik. Gelukkig is daar ‘n tuinslang, maar ons moet in ‘n tou staan om ‘n beurt te kry om ons fietse skoon te spuit. Verder word ons in gelig dat die volgende 7 kilometer nog erger is! Ek het nou 101 kilometer ge ry en is al 6:58 aan die gang, 45 minute langer as verlede jaar. Die nat toestande het darem sekerlik iets daarmee te doen. Dit is waterpunt 2 en kontrole punt 1 en ek kry vir Danie hier. Ek neem ‘n ekstra warm baadjie, ruil handskoene en neem my spaar battery uit die sakkies wat hy vir my bring. Na 34 minute en twee koppies sampioen sop, pak ek die volgende skof aan. 


 

Aanvanklik is die pad nie so slegs as wat ek verwag het nie, maar op 116 kilometer moet ons deur ‘n geploegde land gaan waar die modder so dik is dat ek my fiets ‘n ent moet sleep aangesien die wiel te dik gekoek is van die modder. Ons kruis die R62 op 125 kilometer en daal deur die Paardekloof af na die Heimerrivier pad en waterpunt 3 op 134 kilometer. Na ‘n paar glasies Coke en  stukkies piesang brood, val ek weer in die pad na 9 minute. Ek sien weer vir Pieter Jansen van Rensburg hier. Ons ry nou met ‘n baie rowwe plaaspad om vorentoe by die Heimersrivier pad aan te sluit. Ons gaan, onder andere, deur ‘n stroompie. Alhoewel ek sien van die ouens trek hulle sokkie uit en stap deur, het ek my nog nooit deur ‘n water stroompie laat terug hou nie en ek besluit om deur te ry. Ongelukkig loop die stroompie in die middel ‘n bietjie sterker as waarvoor ek gereed was! Ek verloor my balans en land in die water. Gelukkig is net my bene en handskoene nat. My reën baadjie het sy werk gedoen en my lyf is nie nat nie. Met die val het ek my knie gestamp en ek kan hom nou voel. Weereens is die geluk aan my kant en ek kan sonder te veel pyn aan ry. Die Heimersriveir pad van hier tot by Zebra is nie juis veel anders as die deel wat ons vroeër gery het nie. Dit weereens ‘n geval van bult op en bult af en gewoonlik is die volgende bult hoër. Die weer is goed en ek kan selfs die maan sien, so dit lyk belowend vir die res van die wedren. Op 142 kilometer word ons weer oor plaaspaaie en langs die treinspoor, onder deur die R62 geneem. Dit is minder modderig hier as tydens die vorige episode! Daar was een jaar ‘n waterpunt net nadat ons oor ‘n rivier so ‘n paar kilometer na Zebra is, maar hulle het duidelik besluit dat dit nie nodig was nie. Ek moet maar voort sukkel tot by kilometer 155 waar ons waterpunt 4 kry. Hier stop ek vir 7 minute. Alhoewel ek nou al 1:04 agter verlede jaar se tyd is, voel ek heel goed. Dit bly nog steeds ‘n geval van op en af met ‘n paar afdaendes wat skrik vir niks. Iets wat in die donker ekstra gevaarlik is, maar ek oorleef dit.  My hande en voete is nog klam, maar my bene is droog. Ek ry meeste van die tyd op my eie. So elke nou en dan kom daar ‘n paar ryers by my verby. Op 162 kilometer begin ons om in die Kandelaarsrivier vallei af te daal en op 171 kilometer sluit ons by die R328 aan. Nou is dit teerpad tot by waterpunt 5, wat ook kontrole punt 2 is. Ek arriveer hier na 177.74 kilometer en 11:43 se ry. My lig het begin rooi wys en ek ruil dus batterye en gooi die ou battery in die boks met spaar klere wat ek hierna toe laat stuur het. Ek gebruik nie enige van die klere nie, wat seker ‘n tegniese fout was, want daar was nog ‘n lekker warm baadjie in die boks. Ek rus lekker, eet pasta en drink koffie omdat die Milo op is! Na 34 minute val ek weer in die pad. 

 

Van Volmoed af klim ons konstant vir die volgende 25 kilometer. Daar is so hier en daar ‘n afdraend, maar die meeste van die tyd gaan die pad op. Dit sluit ‘n aaneenlopnede klim van 5 kilometer gevolg deur een van 3 kilometer. Na 200 kilometer in jou bene, is dit redelik moordend. Na, wat soos ‘n ewigheid voel, kom ons by waterpunt 6 aan. Ek moet sê ek het gedink die waterpunt kom nooit. Teen 38 kilometer na Volmoed, is dit nogal ‘n lang “stoot”! Ek vertoef vir 8 minute. Elke bult word darem gewoonilk gevolg deur ‘n afdraend en ons daal geleidelik totdat ons die Gouritsrivier kruis. Van hier af is daar weer ‘n baie geleidelike klim oor ‘n afstand van 18 kilometer! Ons klim van 110 meter tot by 230 meter. So die gradiënt is nie moeilik nie, maar meendoenloos! Dan is daar nog so ‘n paar “knoppe” tot by waterpunt 7, net voor die begin van Rooiberg. Na 7 minute is ek weer aan die gang. Ek meet gewoonlik my rite met my Garmin 830 en met my Fenix 6. By die waterpunte neem ek dan die tyd wanneer ek daar aan kom en weer wanneer ek vertrek. Ek het skynbaar die “stop” knoppie van die Fenix 6 gedruk toe ek vertrek het in plaas van “lap”! Dus hou Fenix 6 se rit hier op! Ons kry nou te doen met die die meeste modder sedert vroeg gister aand. Dit is so erg dat ek moet stop om die meeste af te krap en ook ‘n stok by my hou om so in die ry die modder van my bande af te krap. ‘n Baie modderige 5 kilometer, bring ons aan die voet van Rooiberg. My pas wissel so tussen 3.5 en 6 kpu. Dit neem my 1:15 om die 6 kilometer tot bo op die pas af te lê. Ek het selfs so ver gegaan om ‘n paar stukkies te stoot! Daar is deesdae ‘n “onoffisiële“ waterpunt aan die bopunt. Ek vertoef nie lank nie en durf die pad af aan.


Daar is aan die pad gewerk en baie van die rowwe gedeeltes is heelwat beter as vorige jare. Ek moet ook sê dat my hande en gewrigte heel wat beter gevoel het toe ons weer op gelykke grond gekom het. Die stuk tussen die voet van die pas en die Calitzdorp Spa pad is ook minder sinkplaat. Na die “drag” Calitzdorp toe, arriveer ek daar na 282 kilometer en 21:16 uur in die saal. Danie is weer hier en ek gee my lig en reën baadjie vir hom. Hy het egter my sakkie met droëklere en by Louvain vergeet, so ek het geen ander keuse nie as om aan te gaan met wat ek aan het. Ek is darem nie meer nat nie, maar alles is klam. Na 24 minute durf ek die laaste skof aan. Pieter Jansen van Rensburg kom hier aan net toe ek vertrek.

 

Nadat ek so ‘n rukkie aan die gang was, kom ek tot die besef dat ek in die donker gaan klaar maak en dus my lig nodig gaan hé. Ek skakel vir Danie en vra hom om my op die Calitzdorp dam pad te kry en my lig vir my te bring. Hy kry my na so 5 kilometer. Dit reën nie, maar die lug is klam en ek besluit, wyslik, om ook weer my reënbaadjie te neem. Oor die volgende 25 kilometer klim ons van 253 meter tot by 657 meter, met baie min verligting, dus 16 meter per kilometer se klim. Enige iets oor 10 begin styl raak en 16, na 290 kilometer is moordend!  Verder is die pad modderig, met ander woorde ek kan nie opstaan om te trap nie, want dan gly my agterwiel. Dit as gevolg van ‘n konstante gedrup! Dit reën nie hard nie, maar dit hou ook nie op nie! Ek besef dat ek baie gelukkig is dat ek weer my reënbaadjie by Danie geneem het. Indien ek dit nie gedoen het nie, sou ek nie die wedren kon voltooi nie as gevolg van hypertermia veroorsaak sou word deur die reën en koue! Ek het na my 4de 36ONE vir Sue gesê sy moet my skiet indien ek die wedren weer ry. Nou is ek jammer sy het dit nie gedoen nie! Daar kom ‘n ryer by my verby en ek sê vir ek dink ons moet Maandag ‘n sielkundige gaan sien. Geen  normale mens onderwerp jou, vrywillig, aan sulke marteling nie. Ek het die begeerte gehad om 10 te doen, maar vanaand besluit ek 9 is genoeg. Dit neem my 3:26 om die 25 kilometer af te lê. Op 312 kilometer kry ek die tweede laaste waterpunt. Ek kla hier oor my nat handskoene en Carl Heroldt bied my ‘n paar handskone aan wat iemand die vorige aand by Louvain vergeet het. Hulle is nie baie dik nie en ook nie waterdig nie, maar het “inners” en is droog! 

 









Die waterpunt was in die verlede bo-op die volgende bult en ek het gewonder hoekom dit geskuif is. Net na die waterpunt draai ek links op die Kruisriveir pad. Om die draai kry ek drie bakkies in die pad. Ek word gestop en hulle wys my hoe die rivier lyk. Hy loop so sterk dat ek nie eers my fiets daar deur gestoot sal kry nie! Nog twee deelnemers daag op en ons word op die bakkie gelaai en kruis die rivier so. Anderkant word obs afgelaai en ry op ons eie aan. Daar is nou nog twee klimme voor ons regs draai by die Swartberg Natuur Reservaat. Ek het die stuk van die afdraai tot by die begin van die Lategansvlei pad die afgelope paar jaar nog altyd lekker gery en vanjaar is geen uitsondering nie. Ek ry soos ‘n maniak deur die poort en handhaaf ‘n spoed van so 20 en 30 kpu, aangedryf deur suiwer adrienalien, want van energie is daar nie meer veel sprake nie. Al wat ek nou aan dink is die links draai op die teer pad, want dan is daar net 6 kilometer oor huis toe. Ek dryf voort en kort voor lank draai ek links. Die teer pad het nie veel van ‘n skouer nie, en ek moet elke keer links op die grond ry wanneer ek ‘n motor hoor aan kom. Gelukkig is die oppervalkte lekker gelyk. Daar is so ‘n klein bultjie en dan ‘n afdraend, links verby die hospital en die weermag tot op die einde van die dorp waar ek regs draai verby Langenhoven Hoër na die lig onder in die pad wat die indraai na Kleinplasie aandui. Na 28:48:44 kom ek by die eindstreep aan. Dit was voorwaar ‘n ontbering! Ek is dan ook die 3de 70-jarige wat klaar maak! Die teverdenheid en genoegdoening van die vermoeë om so ‘n moeilik wedren klaar te maak, is onbeskryflik. Ek het al ‘n paar keer gesê daar is niks lekker aan die ry van die 36ONE nie, al wat lekker is, is die feit dat jy kan sê jy het deurgedruk. Ek dink nie ek was al ooit in my lewe so na aan opgee soos vandag nie!

 



Sue het my toe nie na 4 geskied nie en Sondagoggend, na ‘n gespek met Fred van Zyl en die manne van Dryland word ek oortuig om wel nommer 10 in 2024 aan te pak! “Some people are suckers for punishment”! Ek merk ook op dat Pieter Jansen van Rensburg wel klaar gemaak het. Die ou doring!










 Hier is 'n foto van Pieter Jansen van Rensburg, wat deur gedruk het en klaar gemaak het as "last man standing"! Welgedaan Pieter!








Donderdag 27 April 2023

Erioca SA Hero

 Saterdag 22 April 2023 was weer tyd vir Erioca SA. Erioca gaan daaroor om die gees van die Tour ‘d France van die vroeë jare vas te vang deur met ‘n staalfiets, wat voor 1990 vervaardig is, op ‘n grondpad te ry, sonder enige bystand van derde partye. Vanjaar het twee opsies gehad. 40-70 km en jy kon enige tyd tussen 07:00 en 10:00 begin. Langs die pad was daar drie verversings stasies waar jy allehande versnapings kon kry, insluitende alkohol! Die tweede opsie, wat vir die meer ernstige deelnemers en manne en vroue bedoel was, was oor 170 km Noord Ooste van Montagu. Hier was daar vier waterpunte, een waar daar twee keer gestop sou word en ook geen alkohol beskikbaar nie. Ek het hierdie opsie gekies. Ons spring 05:00 weg! Ek het al in Desember 2022 ingeskryf en my verblyf is gedurende Februarie gefinaliseer.

 

Ek het beplan om so teen 15:00 op Vrydag 21 April te ry. Ek kry egter ‘n WhatsApp boodskap op die Erioca groep oor iemand wat ‘n geleentheid Montagu toe soek. Ek bied aan om een person te help en kry dus vir Kai Pringle 14:00 by Eden on Big Bay. Ons gesels lekker tydens die rit Montagu toe en kom so 17:00 daar aan. Nadat ek geregistreer het, meld ek by my gasheer en vrou vir die naweek aan. Leon, my broer se seun, is ook hier en ons eet die aand by ‘n restaurant in die dorp.





Die foto hierbo is ek saam met Chris Bradley wat van Southampton in Engeland gekom het vir Erioca!

 

Ek het ‘n paar keer getwyfel oor die wysheid om 170 km te ry en veral om 05:00, wanneer dit nog pik donker is, te begin. Die weer het ook nie te wonderlik gelyk nie, alhoewel die moontlikheid van reën, volgens die weer voorspelling, hier na die einde van die week redelik afgeneem het. Ek het myself egter voorberei vir lae temperature. Gedurende die nag het ek ‘n paar keer wakker geword met die klank van reën druppels op die dak gehoor. My wekker het 03:45 afgegaan, want ons moes 04:30 by die wegspring wees. Ek het vining by die deur uit geloer en gesien die grond is nat, maar dit reën nie. Ek is net na 04:15 by die voordeur uit en “verwelkom” met ‘n paar verdwaalde druppels. Gelukkig niks ernstig nie. “Race briefing” het eers 05:05 plaasgevind aangesien daar ‘n paar manne was wat verslaap het. Ons kom 05:12 aan die gang. Die eerste paar kilometer is “neutraal” en wanneer die wedren begin is die pas heel rustig. Almal spaar hulle kragte vir die 170 km wat voorlê. Ons is so tussen 20 en 30, waarvan seker die helfte “garvel” fietse is. Hulle ry dieselfde roete as ons en hulle wedren staan as Nova bekend. Hulle het ook ‘n paar Strava seksies waar hulle tyd gemeet word. 

 

Na 4.3km draai ons links op ‘n grondpad, in die rigting van Oubergpas. Dit reën nou liggies, maar darem nie so dat ek deurnat raak nie. Die temperatuur is 10 grade Celius. Dit is nog steeds donker en ek ry maar versigtig in die lig van my koplig om seker te maak ek slaan nie ‘n klip en kry ‘n papwiel nie. Die grootste probleem met die staalfiets op die grond pad is die moontlikheid van papwiele, veral as gevolg van die dun wiele wat maklik deurstamp. Op die probleem te adreseer, het ek my wiele kliphard gepomp, met die gevolg dat die rit redelik stamperig is. My pas is rustig en heelwat deelnemers kom by my verdy. Na 14 km begin ons Oubergpas klim. Dit begin nou lig raak en ek kan my lig afskakel. Teen die tyd wat ons bo uit kom, is die al heel lig, maar daar is geen sig van ‘n son nie. Dit is bewolk. Gelukkig het dit opgehou reën en die weer is eintlik idiaal vir fietsry, veral indien jy reg aangetrek is. Ek is dankbaar vir die warm handskoene en twee baadtjies wat ek aan het. 

 

Die afdraendes is op Erioca vir my die “moeilikste”. Ek moet baie versigtig wees om nie ‘n klip teen ‘n spoed te slaan nie, want dit sal onmiddellik ‘n papwiel tot gevolg hé. Waar ek met my bergfiets teen 40 kpu bult af sal gaan, beperk ek myself nou tot so 20-30 kpu!. Ek bereik waterpunt 1 na 2:45 en is redelik ver agter in die groep van deelnemers. My gemiddelde spoed is 12 kpu. Teen die pas gaan ek eers na donker klaar maak! Hier kry ek koffie en ‘n boerewors rol. Ek spandeer so 13 minute hier en val dan weer in die pad. Die pad is nou redelik gelyk, wat help dat ek ‘n beter pas handhaaf, maar die oppervlakte is rof en daar is ook ‘n paar sanderige driffies waar die dunwiele deur gestoot moet word. Dit neem my 2:25 tot by waterpunt 2. Die afstand was 44 km, dus ‘n gemiddelde spoed van 18 kpu. Dit lyk darem of ek voor donker gaan klaar maak! Ek drink weer koffie en eet van die verversings wat beskikbaar is. Ek vertoef 12 minute.

 

Van so ‘n entjie voor waterpunt 2 en tot by 3 is die pad in ‘n uitstekende toestand. Die oppervlakte is lekker glad, daar is geen bulte nie en ook baie min klippe. Die gevolg is dat ek ‘n besonder goeie pas handhaaf. Ek gaan ook by ‘n hele aantal deelnemers verby. Ek handhaaf ‘n pas van so tussen 20-30 kpu. Na 7 uur in die saal en 112 km, kom ek by waterpunt 3 aan. My gemiddelde spoed oor die 35 km was 23 kpu. Nou lyk ‘n ligdag einde al hoe meer ‘n werklikheid! Ek word hartlik ontvang deur Johan, ‘n prokureur van Johannesburg, wat deeltyds hier boer. Kry weer koffie en ook ‘n vetkoek met “mince” en ‘n pannekoek. Die gasvryheid maak die moeilik om weg te kom en ek val na 17 minute weer in die pad. 



 

Die pad oppervlakte het aansienlik verswak en is nou baie stamperig en vol los klippe, so ek moet versigtig ry. Na 16 km sluit ek weer aan by die pad, waarmee ons vanoggend uit gekom het, maar nou in die teenoorgestelde rigting, aan. Waar die pad tussen waterpunt 2 en 3 lekker gelyk was, is die gedeelte redelik op en af, maar gelukkig is die klimme nie te ernsitg nie. Dit neem my 1:23 om die 26 km tussen waterpunt 3 en 4 af te lê, ‘n gemiddelde spoed van net onder 18 kpu. My gemiddelde spoed vir die dag staan nou op 15.9 kpu. Heelwat beter as die 12 kpu van 6 urr gelede! Waterpunt 1 en 4 is op dieselfde plek. Hier kry ek weer koffie en hoeder kerrie en rys! My stop neem 16 minute in beslag.

 



Nou net die laaste 33 km huis toe, maar dit sluit Oubergpas af in. Op was moeilik, maar ek moes dit maar net uit “grind”. Af gaan ook moeilik wees, want dit is baie klipperig en ek wil nie nou ‘n papwiel kry nie! Dit gaan maar moeilik, maar ek kry dit darem reg om so 20-30 kpu te handhaaf, behalwe vir die verspoelde dele waar ek baie stadig ry. Ek moet heeltyd rem en dit plaas baie druk op my hande en polse. Ek is dankbaar toe ek na ‘n half uur weer op gelyk pad kom. Tydens die 2019 Freedom Challenge het ons ook hier afgekom en toe het ek meer as 20 driffies van hier tot by Montagu getel. Die res van die pad is redelik gelyk en meesal afdraend tot net voor Montagu, waar daar ‘n paar kort bultjies is. Die oppervlakte is ook baie klipperig en ek moet hard konsentreer om seker te maak ek slaan nie ‘n klip en kry ‘n papwiel nie. Dit sal nogal ‘n “tragedie” wees om op hierdie stadium met ‘n papwiel te sukkel! Die laaste 4 km is weer teer.

 

Na 10:40 in die sal, kom ek weer by De Bos aan na. Totale afstand 172 km. My verbassing was groot toe ek in kennis gestel word dat ek die eerste staalfiets is. Ek het regtig  nie gedink ek is eerste nie en my doel was net om klaar te maak en, indien moontlik, sonder enige papwiele. Dit het ek dan ook reg gekry. Stan Engelbrecht, die onganiseerder, was byderhand en neem ‘n “in pompto” video van die “wenner”! Ek moes later agter kom dat hulle ‘n fout gemaak het en dat ek eintlim tweede gekom, maar “so what”, ek het my doel bereik. Erioca gaan nie oor wie gewen het nie, maar om klaar te maak! Dit was ‘n baie suksesvolle dag op me 32 jaar oue Le Jeune waarmee ek al 32 Argusse voltooi het. Ek wonder of vandag se fietse dit sal kan doen.














Sondag 12 Maart 2023

CTCT nommer 32

Sondag 12 Maart en tyd vir my 32ste toer. Die vorbereiding het geod afgeloop en die weer lyk baie goed. Die wekker gaan 04:30 af en ek val 05:20 in doe pad stad toe. Meeste van die straat ligte tussen Bloubergstrand en Paarden Eiland is af, wat dit moelik maak om te sien waar ek ry, maar ek maak dit en kom 06:30 by die begin aan. Ek moet 'n bietjie vir die C-groep soek, maar kry dit en nou moet ons vir 07:00 wag. Die groepe spring met 3 minutes gapings weg. 06:50 gaan die krag af!


Dit kom eers 5 minute later weer aan en ons spring dus 07:03 weg. Ons word ook nie offisieël afgetel nie, ons hou sommer asn met ry toe ons oor die begin streep ry!

Daar is 'n ligte Suid Oos, maar nie so dat dit ernstige probleme skep nie. Die groot ding van die wedren is om die regte tyd in die regte bondel te wees. Almal ry maar hulle eie pas teen Oostelike Boulevard uit. Anderkant af tel ons vinnig spoed olp en dan klim ons weer voor Ikeys verby. Van Pricess Anneweg tot by die begin van die Edinburghrylaan klim, is die pas weer warm want die is bult af. Ek ry Edinburghrylaan op teen my eie pas, wat stadiger as sekere ryers is, maar darem ook vinniger as hele klomp ander. Anderkant af laat waai ons weer, maar aan die begin van die M5 is ek op my eie, wat nie goed is nie. Na 'n ruk kom daar 'n grpeo verby en ek kry dit reg om by hulle aan te hak tot onder by die Westlake afdraai. Deur Muizenberg, St James, Kalkbaai en Vishoek bly ek in bondels. Die samestelling wissel, maar ons ry teen 'n goeie pas. So gaan dit deur Glen Cairn tot in Simonstad. In die dae toe ek onder 3 uur gery het, was dit altyd my mikpunt om tot by Jubilee Square in Simonstad in minder as 60 minutes te ry. Nou neem dit my 1:20! Die jare stap aan. 


Deur Simonstad, verby Boulders en dan begin Smitswikelbaai se klim. Die klim is nie te styl nie en die gradiënt by redelik konstant. Ek bly gedurig in die omgewing van dieselfde ryers en ry selfs vir 'n paar weg teen die laaste gedeelte, wat 'n bietjie styler is. Anderkant af tel die spoed weer goed op, maar die pad oppervlekte is hier redelik ongelyk, so ons moet mooi kop hou. Die pas is goed en die roete loop redelik op en af van hier tot by die begin van Chapmans Peak. Die "ops" is egter redelik kort en nie te styl nie, met die uitsondering van die Slankopweg wat langer is, maar ook nie te styl nie. Ons ry sonder enige voorvalle en met ouens wat lekker saamwerk tot aan die voet van Chapmans Peak se eerste klim. 


Chapmans Peak se eerste deel is net meer as 1.23 kilometer lank met 58 meter se klim. Dan volg 'n klein afdaend, gevolg deur die eintlike klim van 352 meter oor 2 kilometer. Ek ken nou al die bult goed en weet hoe om die regte pas te handhaaf. Dit neem my so 11 minute om die 2 kilometer af te lê. Ek is nou al vir 3 uur aan die gang en sal my stert moet roer indien ek my mikpunt van 3:55 wil haal. Daar is nog 27 kilometer oor en ek moet dit in 55 minute aflê, met Suikerbossie langs die pad. 



Chapmans Peak af is altyd vinnig en dan deur Houtbaai en aan na Suikerbossie. Die klim is ook ongeveer 124 meter oor 1.78 kilometer. Die een kry ek in 10 minute gedoen. Nou is dit voet in die hoek, huis toe. Na die Twaalf Apostels Hotel vorm daar 'n redelike groep, maar ons ry net teen 28-29 kpu en idt is te stadig indien ek onder 4:00 wil klaar maak. Na 'n rukkie tel die momentum darem op en ry so teen 32-34. Deur Bakoven, Kampsbaai en deur Clifton. Onder in Beachweg regs en nou deurdruk eindstreep toe. My tyd lyk goed en ek hoef my nie te ooreis om my mikpunt te haal nie. Ons ry nou so teen 37-39 kpu en ek hou maklik by. Deur eindstreep toe in 'n tyd van 3:53, 'n hele twee minute beter as my mikpount van 3:55.

My offisiële tyd was 3:52:26 en ek iendig 4,724 uit 17,972 wat klaar gemaak het en 6de in die 75-79 ouderdoms groep.

So eindig nog 'n suksesvolle CTCT. Ek wonder hoeveel sal ek nog kan byvoeg!













 

Dinsdag 14 Februarie 2023

Tankwa Trek Dag 4

 



Vir een of ander rede het ek dit weer reggekry om in die C Groep te beland. Die wiele begin 06:52 rol. Vir die eerste 1.5 km volg ons dieselfde pad uit as al die vorige kere. Dan draai ons links en volg die roete van ‘n vorige keer se “Prolog” in ‘n suid oostelike rigting van Kaleo. Na ‘n aanvanklike “jeep track” tot by die teerpad, waar daar ‘n oponthoud is om oor ‘n A-raam te kom, ry ons al langs die pad om ‘n lekker “single track”. Ooe die grootpad en teen die bult uit. Na ‘n rukkie is Johann de Bruyn, wat agter my in ons groep weggespring het, agter my. Hy deel my weereens die “goeie nuus” deel dat my agterwiel besig is om pap te word! Ek hou stil en pomp maar weer en maak seker dat die wiel lekker styf is! Ons is nou meesal op “single tracks” en die pas is goed. Ons kruis weer die grootpad volg ‘n stukkie van Saterdag se roete en dan al teen ‘n heining af in ‘n noord oostelike rigting. Die pad oppervlakte is goed, my agerwiel hou en ons “laatwaai”! Die eerste waterpunt is op 24 km. Ek gebruik die geleentheid om my agterwiel met ‘n voetpad pomp lekker hard te pomp, gryp ‘n galsie of twee Coke, maak my waterbottel vol gen val weer in die pad.

 

N a’n entjie op ‘n distrikspad, draai ons weer af op “single tracks” deur die veld en dan weer teen ‘n rant uit. Die roete is redelik tegnies en die pas verslap aansienlik. Party van die deelnemers sukkel maar om momentum te behou teen die tegniese gedeeltes bult op. Ek kry dit darem reg om aan die gang te bly en ry lekker. Dit lyk darem of my agterwiel probleem opgelos is. Ons ry om ‘n redelik groot koppie en sluit aan by ‘n gedeelte wat ons Donderdag tydens die ”Prolog`” gery het. Op 42 km is daar weer ‘n waterpunt. Na ‘n kort stop, rol die wiele weer. Ons ry onder andere ook by die styl damwal, waar ‘n paar mense Donderdag geval het, af. Dit word gevolg lekker “Single tracks” en ‘n lekker uitdagende afdraende, waardeur ek, stadig maar sonder enige probleme, navigeer. Die pas is lekker hoog en die einde kom nou vining nader. Oor nog ‘n paar bultjies en dan by die swemgat verby einde toe.

 

55 km in 4:02 met 831 meter se klim en so eindig nog ‘n Tankwa Trek. Dit was voorwaar ‘n besondere naweek en ek het die uitdagings wat die roete aan ons gestel het werlik geniet. Totale tyd was 21:12:23 oor 270.09 km met 4,987 meter se klim.












Tankwa Trek Dag 3

 Ek is opgegradeer na Groep C! Ek verkies eintlik om in die laaste groep weg te spring want dan weet ek ten misted at ek beter as almal gedoen het wat na my klaar maak. Nou is dit ‘n geval van dat almal wat binne 8 minute na my klaar maak, beter as ek gedoen het. Die gaping tussen die groepe is 8 minute.

 

Ons kom 06:51 aan die gang. Ons volg dieselfde pad as gister tot by die begin van die Witzenberg valllei. Hier draai ons egter nou links om met die ou Gydopas af te ry. Johann de Bruyn, wat In Groep D weggespring omdat hy die vorige dag vir Egbert gewag het, haal my aan die begin van die pas, na 51 minute se ry, in. Dele van die pas is redelik rof end it is ‘n goeie vervanging vir Du Toits Drop waar osn in die verlede af gegaan het. Die het egter verspole en is nog nie weer reggemaak nie. Onder is daar ‘n verpligte “portage” om onder deur die teerpad te gaan. Dit word gevolg deur ‘n paar kilometer deur boorde voordat ons die heuwels Oos van Prins Alfred Hamlet aandurf. ‘n Deelnemer, wat by my verby kom, lig my in dat my agterwiel papperig is. Ek hou stil en pomp hom styf en ry aan. Dit is na 1:33 se ry en 25 km. Na 2:14 (35 km) kom ek by waterpunt 1 aan. Ek toets die wiel en hy is nog styf. Nadat ek iets gedrink het en waterbottel vol gemaak het, ry ek verder. 

 

Die roete van waterpunt 1 tot 2 is redelik op en af met geen lang klimme nie, maar ‘n paar kort en veeleisende bultjies. Die oppervlakte is ook baie klipperig end it is moeilik om ‘n goeie pas te handhaaf. Op 54 km (3:55) kom ek by waterpunt 2.


Die wiel hou nog! Hierna begin die erstige klimme van die dag. Ons klim  oor die volgende 20 km van 733 meter na 1,801 meter en dit neem my bykans 3 uur! ‘n gemiddelde spoed van net 6.67 kpu. Die eerste 3 km na die begin van die Ou Wapad neem 12 minute. Die maksimum temperatuur wat ek op my Garmin gesien het, was 46.5 grade Celsius. Dit is warm! Die Ou Wapad is 4 km lank en ons klim 260 meter gedurende die volgende 30 minute.


Dit word gevolg deur ‘n redelike “bedeesde” stuk van 5 km waartydens ons 20 meter klim tot by waterpunt 3. Nadat ek weer ‘n paar glasies Coke gedrink eh ten my waterbottel vol ys en water gemaak het, pak ek die Merino Monster! 

 

Die Monster is ongeveer 9 km lank en ons klim bykans 1,000 meter. Die gemiddelde gradient is so tussen 8 en 12% maar daar was ‘n paar keer wat ek 18 en selfs eenkeer 21% gesien het. Gelukkig trek daar ‘n windjie en die temperatuur het afgekom na so ongeveer 38 grade Celsius. Op 68 km moet ek vir die eerste keer stil hou om my agterwiel te pomp. Die “ordeal” deur voort vir die res van die pad boontoe en ek stop vyf keer om die wiel te pomp. Ek ry die laaste 500 meter op ‘n baie pap wiel! Ten spyte van die stoppe vir die wiel, kry ek dit reg om heeltyd te trap en nooit te stoot nie. Die gevolg is dat ek heelwat deelnemers verby gaan, wat dan weer by my verby kom wanneer ek vir die wiel moet stop. Bo gekom, besluit ek om nie ‘n kans te vat en net die wiel te pomp, maar om ook “sealant” in te sit. Johan Breunissen neem ‘n video bamn my toe en by die waterpunt aan kom. Nadat ek, my waterbottel en my agterwiel na omgesien is, pak ek die tog af aan.





 


 

Merino Monster op is ‘n kwaai klim. Merino Monster, anderkant af, is baie rof en styl. Ons daal 800 metyer in 6 km en die grootste gedeelte van die pad is baie rof en baie styl. Jy moet voorwaar jy ry ken om momentum te behou en nie te val nie. Dit is ‘n geval van ‘n goeie balans tussen spoed en versigtig wees! Dit neem my 40 minute on onder te kom.

 

Van hier toe by die einde, nog 15 km, is nie moeilik nie, maar na so ‘n lang dag is die pad maar lank! Daar is nog so ‘n laaste bultjie op 93 km tussen proteas en rotse deur, maar op hierdie stadium is ek nie meer lus vir sukkel nie! Die vermoeienis veroorsaak ook foute en ek en my fiets verlaat mekaar met nog so 500 meter na die einde oor. Gelukkig het ek dit sien kom en nie te hard geval nie.

 

Na 98 km en 8:34 in die saal met 2,134 meter se klim, bereik ek die einde. Die afsny punt vir die dag is 9:00, so ek maak dit darem met nog so 26 minute oor.





Tankwa Trek Dag 2

 Ek het nie baie lekker geslaap nie met baie onderbrekings en die toilet lig wat van die een kant en die maan van die ander kant in ons tent skuin. Ontbyt is vanaf 05:00 en ek gaan eet net voor 06:00. Ek spring weer in D weg en ons kom net voor 07:00 aan die gang. 


Almal wat stadig is is in die groep en ons bly redelik naby mekaar. Ons volg jeep tracks aan die Weste kant van Kaleo tot by die teerpad. Daar neem hulle ons met ’n baie lae “culvert” onderdeur die pad. Dan volg ons weer ’n jeep track teen die hang van die berg. Ons gaan onderdeur die teerpad na die Witzenberg vallei en ry met die ou wapad. Dit is redelik rof met ’n paar lekker styl gedeeltes. Bo gaan ons oor die teerpad en dan weer anderkant af met die “single en jeep tracks” wat basies die ou wapad volg. Onder in die vallei draai ons regs op die Hanekoms se “single tracks”. Ons ry lekker met ’n paar lekker afdraendes wat gereeld gevolg word deur opdraendes. Alles is egter rybaar. 

Na 26 km bereik ons die eerste waterpunt. Ek drink ’n paar koppies Coke en eet ’n halwe piesang terwyl iemand my waterbottel vol ys en water maak. Net na die waterpunt is daar ’n rouwe jeep track teen die heuvel uit. Bo gekom draai ons links om die volgende klomp “single tracks” van die Hanekoms te volg. Dit is baie rof, baie tegnies met ’n paar kwaai kort klimme wat my verplig om af te klim en te stoot. Dit is egter ’n goeie uitdaging vir ons tegniese vermoëns en baie vervullend. 

Na omtrent 15 km sluit ons by ’n goeie distriks pad aan en handhaaf ons ’n goeie pas. Ons word afgely na ’n “jeep track” langs die rivier en deur vrugteboorde. Dit eindig met ’n kort en uitdagende klim na waterpunt 2 op 48 km. Ek gaan weer vir die standaard koppies Coke en piesang. Ek neem ook ’n blokkie fudge en vul weer my waterbottel met ys en water.

Hierdie waterpunt word gevolg deur ’n lang geleidelike klim deur ’n denne plantasie. Wanneer ons uit die plantasie kom, gaan ons oor na ’n “jeep track” wat teen die kant van die berg op en af kronkel. Elke keer wanneer ek dink ons is nou bo, volg daar nog ’n klimmetjie. Na wat soos ’n ewegheid gevoel het, begin ons daal.


Die pad is baie rof en ek moet mooi konsentreer om my balans te behou. Ons begin nou in die Witzenberg vallei afdaal. Hier het hulde ’n baie interessante “feature” ingebring deur die roete deur ’n natuurlik gat in ’n rots te laat loop. Dit word gevolg deur ’n rouwe plaaspad en dan deur ’n bos waar waterpunt 3 in die verlede was, na die teerpad. Na 5 km op die pad word ons weer met plaaspaadjies omgelei na waterpunt 4. Ek volg die gewone prosedure en val gou weer in die pad. 




Ons gaan weer met ’n “culvert” onderdeur die teerpad en pak die ou wapad waar ons vroeër afgekom het, in die teenoorgestelde rigting aan. Die is maar ’n “grind” maar die einde is in sig en ek moet deurdruk. Ons ry nou alles wat ons vanoggend gery, maar net anders om! Die temperatuur het sedert ons die teerpad bereik het nog nie onder 43 grade Celsius gedaal nie. Gelukkig was die maksimum net 45! Dit kon erger gewees het. Na 75 km kom ons by waterpunt 4, wat in ’n plantasie is, aan. Ek stop net vir die nodige en val weer in die pad. Nou is die einde behoorlik in sig.

Ek het al vantevore die “jeep track” wat ons gebruik op ’n elektroniese kaart gesien en gedink dit is ’n pad wat mens kan ry. Nou weet ek! Daar is egter 'n paar elktroniese hekke waardeur mens sal moet kom indien jy dit op 'n ander geleentheid wil ry. Ons gaan weer met die lage “culvert” onderdeur die pad en dan is dit voet in die hoek einde toe. Die pad deur die rotse net bo die swemgat bly besonders en is ook redelik uitdagend. Daar is gelukkig geen verdere uitdagings en ek bereik die einde sonder enige probleem. 

Ek voltooi die 87:97 km in 6:46:51 met 1,621 meter se klim.





Tankwa Trek Dag 1

 Leon bel my 9:00 en vra of saam met my kan ry. Ek stem in en tell hom 11:15 op. Ons besluit om oor die “nuwe” Bainskloof te ry en stel vas dat dit korter as al die ander opsies is. Sal seker langer neem want oor die pas kan mens nie ’n goeie gemiddelde spoed handhaaf nie. Ons stop in Ceres vir ’n Cheese burger, chips en Coke. Ons kom net voor 14:00 by Kaleo aan. Johann de Bruyn, wat iemand anders se inskrywing oorgeneem het, laat weet my daar is vir my ’n bed in ’n luukse tent! Ons registreer eers, Leon neem sy goed en ek schuif my motor na die parkering by die luukse tent. 


Die “prolog”begin 15:00 en ek spring in groep D weg. Die pas is onmiddelik redelik zwaai en dit is ook niet lang toe is ek omtrent heelagter. Gelukkig is daar ’n paar tegniese gedeeltes en na 26 minute gaan ek die eerste deelnemers verby. Na 37 minute gaan ek by nog twee verby. Dit neem my 50 minute om vir Johann en Egbert Robertson, wat saam met hom ry, in te haal. 

Die rotte is nou redelik tegnies en die pas is maar stadig. Daar is ook ’n paar opeenhopings waar ons moet wat dat die voorste mensen weg kom. Ek gaan by Egbert verby by een so ’n tegniese gedeelte. Ons ry oor ’n damwal met ’n redelike styl afdraend. Iemand het geval en dit neem ’n redeljke tydjie voordat ons weer aan die gang kom. 

Die grootste gedeelte van die Prolog bestaan uit “single tracks” en dit is regtig baie lekker en uitdagend. Daar is op 18 km ’n waterpunt. Ek stop net om my waterbottel volks en water te maak en ry gou weer. Die laatste gedeelte van die rotte vilg dele wat ons al van tevore op die laatste dag gery het. Net voor Kaleo lei hulde ons agter om die Chalets  en dan deur die bloekombos aan die Suidooste kan van Kaleo. 

Ek voltooi die 29.42 km in 1:49:17 met 401 meter se klim.