Dinsdag 03 Mei 2022

Brandkop MTB

 Saterdag 30 April 2022

Carine het voorgestel ons "deel" die naweek saam met haar, Henk, sy broer en skoonfamilie op Nieuwoudville waar die Brandkop MTB en Trail Run op 30 April plaasvind. Dit het redelik met ons besoek aan die Oos Kaap vir 'n troue ingepas en ons arriveer dus op Vrydag 29 April in Nieuwoudville vir die wedren op Saterdag 30 April. Carine reël dat ons Vrydagaand almal "burgers" saam met Henk se familie eet en ons kry hulle dus daar.

Ek het die vorige Woensdag op Nooitgedacht in Victoria Wes distrik gery. Dit was baie lekker, maar daar was ongelukkig 'n magdom duweltjies, met die gevolg dat ek nie my fiets se wiele behoorlik styf kon kry nie.  Ek het ook nie genoeg "sealant" by my gehad op die lekke te stop, nie. Ek reël toe om te kyk of die ouens by die wegspring my die Saterdagoggend kon help. Ek is net na 06:15 weg na die wegspring, so 20 km Noord van Nieuwoudville op die Loeriesfontein  pad. Daaraan gekom sê die ou van "Bike and Tackle" hy sal albei bande "dokter". Dit werk toe en ek koop ook 'n spaar bottle "sealant" vir die wis en onwis.

Ons spring so net na 07:08 weg. Die "racing snakes" is gou weg, maar daar is 'n groep van 12 wat teen 'n lekker pas ry. Die eerste 9 km is plat pad en ons bly by mekaar. Die eerste blut is so 800 meter lank met 70 meter se klim en val die groep uitmekaar. Dit word gevolg deur 'n afdraend en dan weer 'n gelyk stuk van so 4 km. Hierna begin die groot klim! Van 14 tot by 34 km klim ons aanhoudend. Die aanvanklike klim is kwaai en die oppervlakte is baie rof, met die gevolg dat dit moeilik is om momentum te behou. Vanaf km 14 to 17 klim ons 230 meter. Hierna raak die klim meer gelydelik. Ons ry die meeste van die tyd op "jeep tracks". Dit neem my 3:00 om die eerste 38 km af te lê. Teen die pas gaan ek sukkel om binne my mikpunt van 6 uur klaar te maak. Ek vertrou egter dat die tweede helfte van die wedren meer afdraendes sal hê en dat ek die orige 42 km in 3:00 sal kan aflê. Die pad opervlakte maak dit moeilik om 'n goeie gemiddelde spoed te handhaaf.

Dit was toe dat ek verdwaal! Net na 38 km ry ek deur 'n pan. Daar is 'n pyl in die middel van die pan, maar die wys regop in die lug op. Ek aanvaar dit beteken reguit aan en die spore in die sand wys dat ander deelnemers ook so gedink het. Na 40 km sien ek egter geen spore nie. Ek draai om en ry terug pan toe om 'n afdraai te soek, maar kry niks. Ek ry weer aan tot waar ek vroeër omgedraai het en ry nog verder maar kry steeds geen spore of borde nie. Ek draai maar weer om ry terug, deur die pan totdat ek weer die inkomende spore verloor. Ek ry heen en weer op soek na die regte pad. Na 17 km 1:10 uur se soek kry ek spore en volg dit. Na 'n rukkie besef ek dit is die pad weermee ek gekom het. Ek besluit egter dit is beter om terug te ry soos ek gekom het, as om verder na die regte roete te soek!

Ek onthou toe dat ons vroër 'n stukkie op 'n baie goeie distrikspad gery het. Ek maak die gevolgtrekking dat die regte roete die pad in 'n suidelike rigting moet kruis. By die pad gekom, draai en suid en na 'n verdere 4 km kry ek weer die regte roete. Nou kan ek weer in alle êrens voort ry, op die regte pad! Die vraag is nou, hoe lank gaan my 80 km wedren wees! 

Na 78 km kry ek 'n waterpunt! Ek wou eers verby ry, maar kan nie die vriendelike uitnodiging vir 'n koeldrank en iets om te eet, van die hand wys nie. Hulle stel voor ek volg die grootpad, maar ek wys dit van die hand. Ek wil darem graag die "groot afdraend" na die einde toe aandurf. Na so 'n minuut of twee is ek weer oppad.



Die "groot afdraend" is toe, na my mening, nie vergelykbaar met die "groot opdraend" wat ons na 17 km aangepak het nie. Die profiel is volgens my Garmin is ook meer geleidelik. Op 95 km is ek terug op die pad waarmee ons begin het en na 99.2 km haal ek die eindstreep. Dit na 6:59 in die saal. Indien ek dus nie die 17 km "verdwaal" het nie, hoort ek teen ongeveer 5:45 klaar te gemaak het, wat so 15 minute vinneger as my mikpunt sou wees! Dit blyk ook dat baie van die deelnemers probleme gehad het om die regte roete te volg en dit is hoekom ek die spore in die sand na die pan gesien het!

So dit was maar 'n alleen rit, maar goeie oefening vir die 36ONE oor twee weke!








Maandag 14 Maart 2022

Cape Town Cycle Tour nommer 31

Dit is weer sulke tyd. Die Cape Town Cycle Tour, of te wel die Argus vind op 13 Maart 2022 plaas. My vvorbereiding het goed afgeloop en ek is reg vir die groot dag. Dit wil voorkom asof die weer nie gaan saam speel nie. Hulle voorspel 4.8 mm reën vir Sondag! 

Ek het besluit om weer met my fiets stad toe te ry. Toe ek my kop by die deur uitsteek, was daar 'n "nattigheid" in die lug, maar niks ernstig nie. Dinge verander egter redelik drasties toe en deur Paared Eiland ry met die reën wat harder begin val. 'n Ander fietsryer sluit by my aan en vra "Are you having fun"! Hy kom van Lithuania. Die reën hou gelukkig op voordat ons die stad bereik en sal ook so bly toe by Simonstad.

My wegspringtyd is 06:50, maar alaml spring ongeveer 5 minute laat weg. Ons kom 06:54 aan die gang. Die pad is baie nat so ek ry redelik versigtig by Hospitaaldraai af. Ek will op my fiets klaar maak en nie in 'n ambulans nie! Soos gewoonlik haal die voorste manne van die groep wat na my weggespring het, my in Nuweland is. Daar is, soos gewoonlik heelwat mense langs die pad teen Edinburgh Drive op en hulle moedig is lekker aan. Anderkant is ek weer versigtig, maar haal darem 60 kpu. 

Deur Muisenberg en langs die kus af kom daar gereeld vinniger groepe by my verby. Soms hou ek vir 'n rukkie by, dan laat gaan ek hulle weer. Daar is 'n hele aantal deelnemers wat skynbaar dieselfde pas as ek ry, want elek nou en dan sien ek hulle weer voor my. Nie seker waar hulle verby gekom het nie, maar na 'n rukkie gaan ek by hulle verby. Netnou is hulle weer voor my. Elke nou en dan kry ons ook 'n sterk wind van voor. Gelukkig is hy nie konstant nie. Ek gaan na 1:19 by Jubilee Square in Simonstad verby. Ek is dus op koers vir 'n 3:45-4:15 tyd. 

Teen Smitswinkelbaai se bult is ons 'n groot klomp. Party vinniger, nader stadiger. Na die Kaappunt afdraai is dit meesal afdraand tot by Scarborough. Ek neem maar weer eder 'n konserwatiewe benading in en steek net mooi op 2:00 die halfpad merk oor. Dus gaan ek sukkel om onder 4:00 in te kom. Ek wonder soms of ek vandag die einde gaan haal! Moet maar deurdruk!



Dit het in Simonstad begin reën en daar val nog steeds 'n konstante vlaag water van bo. Nie hard nie, maar deurdringend. Teen hierdie stadium is en deur nat. Gelukkig is die nie te koud nie, maar my kakkebeen is moeg van bewe! Die temperatuur daal na so net onder 11 grade Celius. Wanneer ek trap skeo ek genoeg liggamshitte om die ergste koue te verdryf.


Deur Misty Cliffs en tot by Sea View hou dit aan met reën, maar dan hou dit op en die temperatuur styg. Alhoewel daar oral pyne is, veral in die skouers en arms, sukkel ek nie om die bulte uit te kom nie. Ons ry deur Sun Valley en Noordhoek en pak Chapman's Peak aan, waar ek 'n goeie pas hanghaaf. Ek gaan na 3:11 oor die bopunt van Chapman's Peak. My my laaste oefen rit het dit my 1:30 geneem toe by Groenpunt. Nou het ek die voordeel van "bondels" en hoort dit darem vinniger af te lê. Met my laaste twee wedrenne het dit my ongeveer 50 minute geneem.




Deur Houtbaai en Suikerbossie, waar daar weer 'n enorme klomp mense is, uit en anderkant by Llandudnou af. Ek sien 'n paar tandens verby gaan, maar ek het nie die energie om by hulle te probeer "aanhak" nie. Daar is darem 'n paar ander deelnemers wat 'n redelike pas handhaaf en ons vorm 'n lekker groep. So werk ons saam verby die Twaalf Apostels Hotel en deur Kampsbaai en verby Clifton. Deur Seepunt en eindstreep toe. 

Na 4:06 haal ek die einde, sonder enige porbleme on ingevalle, behalwe vir 'n paar "pyne". So eindig nommer 31 met dieselfde Le Jeune!



Nou lê die 24 km huis toe nog voor! Gelukkig het die temperatuur nou na 19 gestyg en daar waai 'n ligte windjie van agter. Ek arriveer net na 12:00 by die huis met 'n dag se goeie oefing agter die blad. Nou vir 'n lekker stort en die res ban die dag rustig deurbring.







Nissan Trailseeker #1 Banhoek


Saterdag 29 Januerie 2022. Nissan Trailseeker #1 Banhoek, Simondium



















 

Maandag 17 Januarie 2022

Attakwkas nommer 13

Saterdag 15 Januarie 2022 was dit weer tyd vir die Attakwas. Ons is al Donderdagmiddag uit die Kaap weg om in Witsand oor te slaap, want Johann de Bruyn het 'n werks vergadering in George vir Vrydagoggend geskeduleer. Na die vergadering en middagete, is ons deur Oudtshoorn toe. 

 

Die temperatuur was al reeds in die hoë dertigs. Nadat ons geregistreer het, het ons by Karoo Soul ingeklok. Geluukig was daar 'n swembad om ons te help afkoel. 

 

Ek het 'n uitnodiging vir die lede van die Ratelklub (mense wat meer as 10 Attakwasse voltooi het) gekry en is 19:00 daarheen terwyl Johann-hulle by die Spur gaan eet het. 

 






Aangesien ek deel van die "uitgesoekte" Ratelklub lede was, val die twyfelagtige voorreg my toe om in die A groep weg te spring. As gevolg van Covid, begin ons weer in Oudtshoorn en ry "neutraal" tot by Chandelier, waar kilometer "0" begin, 'n afstand van 11 kilometer wat 44 minute neem om af te lê.

 

Dus begin die Attakwas eers nou. Op hierdie stadium is die temperatuur 'n skaflike 30 grade. Ons ry op 'n tweespoor plaaspad deur die veld en begin onmiddellik met 'n redelike klim, wat aanvanklik nie te styl is nie maar so elke nou en dan is daar 'n bultjie wat eksta krag vereis. 

 

Johann, wat in groep B weggspring het, haal my hier in en ons ry saam tot by waterpunt 1. Dit het my dieselfde tyd (1:39) as met die vorige Attakwas geneem om tot hier toe kom. Nadat ons verfris is, val ons weer in die pad. Soos ons aan ry raak die hitte al erger. Die son steek! Ons handhaaf 'n redelik pas tot by die eerste groot bult van die dag. Johann is so 'n entjie voor my en ons "grind" maar die bult uit. So driekwart pad besluit ek dat dit in die hitte beter gaan wees om te stoot. Bo gekom sien ek Johann kyk redelik moedeloos, maar dit is te wagte onder die omstandighede! Ek val in die pad terwyl Johann nog asem skep. Die temperatuur staan op 43 en dit is nog nie eers 09:00 nie!

 

Van hier is dit maar redelik op en af tot by waterpunt 2. Ek kom hier aan na 'n verdere 1:43, so 10 minute langer as laas keer. Gooi water oor my kop, by my bors af en op my rug. Vul my waterbottel, drink Coke, eet 'n dadel bolletjie en neem 'n piesang vir die pad. Johann kom hier aan net toe ek omtrent reg is om weer te ry. Hy besluit hy het genoeg van die hitte gehad en bel vir Duncan om hom te kom haal. Ons roep vaarwel en ek val weer na 8 minute in die pad. Die temperatuur bly in die 40tigs!

 

Ek het verwag dat dat die deel tussen waterpunt 2 en 3, in die hitte, die moeilikste van vanjaar se Attakwas sal wees en dit is ook so. Ek stoot groter dele van die kwaai bulte aangesien dit net te warm en vermoeiend is om te probeer trap, maar ek vorder darem. Bo-op King of the Mountain is daar water en koeldrank, nie 'n offisiële waterpunt nie maar welkom in die hitte. Daar is op die stadium egter net ys en water van ys wat gesmelt het en 'n paar blikkies koeldrank. Ek gooi van die yswater oor my kop, in my bors af en op my rug en drink 'n koeldrank. 

 

Ek loop vir Mark le Roux van Bigshot Media hier raak en hy voer 'n impromptu onderhoud met my. Ek bevestig dat dit my warmste Attakwas is, maar ek gaan klaar maak! Hier registreer my Garmin 47 grade! Ek val weer in die pad en ry dat dit klap die bult af, maar oowee, skielik is iets fout! My ketting slaan vas. Onmiddelik kom my onderhoud na my terug. Sal ek dalk vandag nie klaar maak nie as gevolg van 'n meganiese probleem! Ek hou stil maar kan geen fout sien nie. Ek wikkel die ketting 'n bietjie rond en kry die wiel weer aan die draai. Gelukkig is dit nou afdraande so ek hoef nie te trap nie. Op die gelyk pad kom ek agter dat die middelste ratte darem redelik werk. Wanneer ek egter by 'n styl bult kom en die grootste rat probeer gebruik, glip die ketting aan die binnekant af en moet ek eers stilhou om hom los te wikkel. Die “voordeel” is dat ek nou nie die keuse het anders as om die styl bulte uit te stoot nie. Dit kry ek gedoen teen 2 tot 3 kpu, terwyl ek gewoonlik so 4 tot 5 handhaaf. Die hitte eis voorwaar sy tol! Teen die gelyk gedeeltes werk die ratte redelik, maar wanneer ek die kleiner ratte will gebruik, slaan die “drive chain” vas. Ek moet dus maar “spin”. Daar waai gelukkig so ‘n ligte briesie van agter, wat ons darem so ‘n bietjie afkoel. 

 


Ek kom na 2:32 by waterpunt 3 aan, ‘n half uur langer as verlede keer! Daar is gelukkig ‘n “mechanic” wat sal kyk of hy die fiets reg kan kry. Ek drink Coke en gooi myself behoorlik nat. Die temperatuur het sedert waterpunt 2 nog nie onder 40 grade gedaal nie! Ek is nie honger nie en eet net ‘n dadel bolletjie. Die “mechanic” sê my ketting het gebuig en hy kon dit gelukkig reg kry. Ek rus so ‘n bietjie op die stoel onder die skaguwee van sy “gazeebo”. Voel nogal verbasend goed terwyl ek so in die koelte sit. Ek is seker ek sal ‘n ander deuntjie sing wanneer ek weer aan die gang kom! Na 13 minute is ek weer aan die oppad.

 

Een van die manne by gisteraand se funksie het van die “wit pad” wat die son weerkaats, na waterpunt 3 gepraat. Vandag voel die hitte wat van die pad opslaan so ‘n bietjie erger. Die temperatuur bly bo 40. Elke keer wanneer daar ‘n skadu kolletjie is, sien ek mense in die koelte rus. Ek druk maar aan, al is dit teen ‘n redelike vertraagde pas! Ek kry dit darem reg om die opdraand teen so net meer as 4 kpu uit te trap. Ons ry nou deur dene plantasies met die gevolg dat daar heelwat skadu kolle is. Hier is weer ‘n ongeskeduleerde waterpunt en ek stop vir ‘n koeldrank en koue water om my liggam af te koel. Ek ry meesal alleen. Heelwat ryers kom verby, maar rus dan weer in die koelte, waar ek hulle weer verby gaan. Netnou kom hulle weer verby. Ek verkies om aan die gang te bly eder as om te rus en dan weer te sukkel om aan die gang te kom. Daar is heelwat toeskouers waar ons die R328 kruis. Almal moedig ons aan en klap hande. Na ‘n entjie op die teerpad, by Outeniqua Moon, draai ons af Botterlierskop se rigting toe en waterpunt 4, waar ek na ‘n verdere 1:40 aan kom, 24 minute langer as verlede keer! Die hitte maak my stadiger.

 

Na ‘n 3 minute is ek weer aan die gang. Ons het nou ‘n redelik tegniese afdraand tot by ‘n rivier, waar ek in die water afklim om my voete af te koel, en dan onder nette oor ‘n nuwe sitrus boord tot by ‘n goeie grondpad Elke nou en dan, wanneer ek net lekker spoed optel, slaan my ketting vas. Moet maar stilhou en los wikkel en daar gaan ons weer. Nou is dit weer bult op. Nommer 14 van die 17 vir die dag! Net langer as ‘n kilometer met 100 meter se klim. Dit word gevolg deur ‘n paar lekker afdraandes en ‘n klimmetjie na Ruiterbos en waterpunt 5, die laaste! Maar voor Ruiterbos is daar die Moordkuilrivier se kilm. ‘n Regte bul van ‘n bult. Nie lank nie, maar styl en na ‘n dag in die son lê dit soos ‘n uitdaging voor my. 140 meter se klim oor 1.5 kilometer. Ek besluit egter om te kyk hoe ver ek kom en voorwaar, ek trap die hele bult uit en kom na 1:45 by waterpunt 5 aan. Ek verloor nog ‘n verdere 17 minute. Ek loop my skoonseun se broer en vrou hier raak en sy “kiek” my.

 


‘n Vinnige 3 minute stop ek die einde is in sig. Nou weer bult af en dan die laaste bult voor die jaag tog eindstreep toe. Die laaste bult is weer 140 meter se klim maar darem oor 3 kilometer. Nou skouer aan die wiel, einde toe. Iewers laat val ek nog ook my waterbottel toe ek hom wou uithaal om te drink en ry bo oor hom. Hy oorleef dit en ek hou stil om hom op te tel. Nou is dit redelik gelyk tot by die laaste afdraend. Ek tel twee meisies en ‘n ou op en ry lekker in hulle glystroom. Net voor die laaste afdreand slaan my ketting weer vas en ek verloor hulle. Gelukkig weet ek darem nou al van die ketting en hou gou stil om hom los te wikkel. Spring weer aan die gang ek kyk of ek hulle weer kan vang. Dit werk egter nie, maar ek is die laaste bult teen ‘n spoed af. Draai links na Pine Creek toe en bereik die einde na 10:40, 11:20 met die eerste 11 kilometer ingesluit. Voorwaar ‘n grootse poging om die een te voltooi! Seker maar te dom astrand om op te gee, maar die satisfakise om so ‘n uitmergelende wedren te voltooi, maak op daarvoor! 


Ek is 305ste uit die 337 van die deelnemers klaar gemaak het. 874 het ingeskryf, dus het net 38% van die deelnemers die wedren voltooi!









Dinsdag 09 November 2021

Namakwapadmaker verkenning

Op 5 November durf ek en Henk Bruwer die Namakwapadmaker roete van die ingang na Cedar Rock/Cederberg Chalets tot by Whupperthal aan. Min wetende wat op ons wag!

Ons spring die oggend net na 06:00 in Citrusdal weg en ry met Henk se bakkie tot by Sanddrif, waar ons as familie die naweek gaan deurbring. Ons parkeer sy bakkie daar en begin 07:42 met die groot trap. 


Die pad vanaf Sanddrif na Matjierivier is 'n goeie grondpad en ons lê die in 9.75 km in 30  minute af. Ons kruis ons die Eselbank/Whupperthal pad, tel ons fietse oor die hek en begin "offisieël" met ons verkennings tog. Die Namakwapadmaker begin by Mount Ceder en eindig 774 km later by die Gariepriveir so 14 km stroom af vanaf Vioolsdrif. Die eerste skof is van Mount Ceder tot by die Cederberg Chalets en die tweede skof is vanaf Cederberg Chalets tot by Doringbos, oor Whupprethal. Die doel van ons rit was om te sien hoe lyk die pad vanaf die ingang na die Cederberg Chalets tot by Whupperthal. Vandaar sou ons dan terug Sanddrif toe ry. Ek het die hele roete op my GPS afgelaai, so ons het darem 'n idee waar ons moet ry!



Nadat ons oor die hek geklim het, is dit bult op! Ons klim vanaf 771 meter tot by 1,135 meter oor 'n afstand van 9 km en dit neem ons net mooi een uur. Alhoewel dit net 'n "jeep track" is, is die pad oppervlakte goed en sekere gedeeltes is sement, met klippe wat ingelê is om beter vastrap plek te gee.


Hierna daal ons na 698 meter. Die pad is besaai met losserige klippe, wat dit moeilik maar om vinnig te ry. Ons spoed wissel so tussen 10 en 30 kpu, afhangende van die pad oppervlakte. Ons is nou in die Cederberg Chalets se grondgebied (sonder toestemming) maar sien geen huisies nie. Daar is net vier huisies en almal is van klip gebou en ver van die hoof toevoer pad, dus het almal gee totale privaatheid. Hier is ook geen selfoon ontvangs nie, dus die perfekte plek indien mense heeltemal wil wegbreek. Vir party mense mag dit "te" afgeleë wees. Daar is net sonkrag en gas. Jy moet ook jou eie drink water saam neem. Ons het gewonder wat hulle doen vir algemeen water gebruik, want hier is nie water nie en ons sien nie opgaar tenke nie. Die Chalets is onderskeidelik 14.2 km, 21.6 km en 24.2 km van die ingangshek af! Die twee op 21.6 is regoor mekaar.


Ons kom by 'n vurk wat regs na Doringrivier en Kantoor wys en links na Chalets. Die GPS wys ons moet links hou. Hier is die pad nog steeds redelik goed en ons ry so teen 10-20 kpu. Ons ry ook verby die twee chalets wat op 21.6 km reg teen die pad is! Woorvaar afgesonder. Ek sê vir Henk dat die huisie so naby aan die pad is, dat hulle probleme met die verkeer gaan hé! Gelukkig sal daar nie veel verkeer op die afgleë plek wees nie!



Na die huisie "verwyn"die pad vir die eerste keer. Ons tel gelukkig gou weer 'n spoor op en ry aan. Op 37 km "verdwyn" die pad weer. Ons is op 'n koppie en klim op 'n hoë klip om te kyk of ons kan sien waar die pad nou gaan. Ons sien in die verte 'n pad, maar hier by ons is niks! Ons besluit om maar die GPS so na as moontlik te volg. Ons moet nou stoot, want hier kan ons nie ry nie. Na so 'n entjite tel ons weer 'n spoor op, maar dit is nie die een wat ons van die koppie af gesien het nie, maar dit stem darem ooreen met die GPS. Dele is baie sanderig wat tot gevolg het dat "hike a bike" aan die orde van die dag is. Na 'n ruk se gestoot tel ons weer 'n paadjie op en kan ons darem weer ry. Dit is egter bult op so die vordering is nie te vinnig nie. Die bult is nie te styl nie en ook nie te lank nie en spoedig is ons weer goed aan die gang.



So op ongeveer 43 km kom ons op twee geboue met 'n onder andere 'n oond in die rots langs aan en 'n klipkring waar daar vuur gemaak kan word. Ons water is min en ons het al 'n paar kranne langs die pad gekry wat heeltemal droog was. Ons kry 'n 20 liter waterkan wat so halfvol is in die een hut en maak ons waterbottels vol. Gelukkig is ek lig op water, maar Henk se water was amper op. Nadat ons 'n vinnige breek geneem het, is ons weer aan die gang.




Henk ry so 100 meter voor my. Ons bereik 'n punt waar die GPS aandui dat ons regs op 'n baie onduidelike sandpaadjie moet draai, terwyl die pad waarop ons is heelwat beter lyk. Ek besluit om aan te hou op die beter pad, in die hoop dat die twee weer bymekaar sal uitkom. Wanneer ek weer by Henk kom noem ek dit vir hom en ons voel albei dat die beter pad 'n beter opsie is. Die pad waarop ons is word op die GPS aangedui as deel van die Whupperthal 4x4 trail, so daar is hoop! Later sal ons ons oordeel bevraagteken! 





Ons klim  weer 'n maklike bult uit. Ons albei sien, wat ons dink 'n bakkie en dus beskawing is in die verte, maar toe ons nader kom is dit net 'n rots!  Ons trek nou al op 57 km en ry al vir 6:15 uur lank en het nog nie 'n lewende siel gesien nie! My beplanning was om na 5:30 by Whupperthal te wees. Nou is ons al 45 minute langer aan die gang en ons het nie 'n idee waar Whupperthal is nie! Ons is nou ook redelik ver van waar die GPS roete loop, maar vertrou dat ons ons bestemming sal bereik. Ons boenner 'n lekker tegniese bult, wat rybaar is, af. Na 'n rukkie sien ons 'n paar huise en 'n dam vol water! Ons hou by die dam stil, drink water en maak weer ons bottels vol. Ons gewaar geen lewe nie en ry aan.  By 'n vurk gaan ons links. Na so ongeveer 500 meter kom ons by 'n stomp in die pad, gevolg deur 'n groot krans. Daar is 'n baie rowwe pad links af, maar die loop onder in die vallei dood. Ons moet maar omdraai en die regter vurk probeer!



Oppad vurk toe, sien ons iemand loop. Ons ry nader om te hoor of die pad Whupperthal toe gaan. Dit is 'n jongerige meisie en sy bevestig dat die pad wel Whupperthal toe gaan, maar is meer bekommerd dat ons onwettig op privaat grond is, en sê sy gaan haar pa roep. Sy het ook iets gesê van 'n hek wat gesluit is. Dit is egter nie vir ons 'n pribleem nie, trouens ons is al vandag oor 'n paar gesluite hekke! Ons draai om en laat spander in die rigting van die regter vurk. Die pad is redelik goed en dit lyk of daar saailande was, maar nou groei daar net onkruid. Ons kry die hek, klim oor en kom weer op 'n situasie af waar daar geen pad is nie! Ons ry tussen die bossies deur en na 'n rukkie tel ons 'n ou verweerde pad op. Na nog 'n entjie se ry sien ons die pad wat van Clanwillaim se kant na Whupperthal toe loop, so daar is hoop! Whupperthal is onder in die kloof, maar dit is ten minste nog 10-15 km weg.


Tussen ons en Whupperthal is daar 'n redelike hoogte verskil! Die pad volg die kontoer van die bult af en is so rof en styl dat ons verplig is om ons fietse te stoot! Alhoewel ons 400 meter daal oor 4 km, is ons gemidelde spoed slegs 3 kpu! Die pad word as 'n "4x4 trial" beskryf, maar ons albei voel dat selfs 'n geharde 4x4 ryer gaan sukkel op die pad op of af te ry. Onder in die vallei kan ons uiteindelik weer ry. Ons kom na 8 ure se ry en 70 km in Whuppertal aan. 





Dit is nou 15:40 en ons soek iets om te eet. Hier is nie meer 'n restourant nie, net 'n klein winkeltjie wat koeldrank en lekkers verkoop! Die dame agter die toonbank lig ons in dat sy wel "slap chips" het en ons verlustig ons aan 'n Coke en "slap chips". Hier is selfoonontvangs en Henk bel die Sanddrif ontvangs by Dwarsrivier en vra dat hulle vir  Carine moet laat weet dat sy ons op Esselbank moet kry. Toe ons die rit bespreek het, het ons die moontlik genoem dat sy in Eselbank se rigting moet ry indien dit laat word en ons is nog nie tuis nie. Teen die huidige pas gaan die donker ons vang en ons het nie daarvoor reggemaak nie.


Na so 'n 20 minute is ons weer oppad. Ons het nou 'n 400 meter klim oor 5 km wat voor lê voordat ons die plato, wat na Esselbank lei, bereik. Dit neem my 50 minute om tot bo te kilm. Die hele pad is sement met 'n gradieënt wat wissel tussen 10% en 18%. So dit is rybaar, maar dit neem tyd! Ek gebruik altyd 'n spoed van 3.5 kpu of stadiger as 'n teken om af te klim en te stoot. My spoed draai 'n paar keer by 3.7 kpu, maar ek hou aan met trap. Wanneer ek bo kom voel ek darem dat ek eintlik 'n baie goeie dag agter die rug het, ten spyte van dit feit dat ons op 'n stadium redelik bekommerd was oor wanneer ons weer beskawing sou bereik.



Bo op die plato is die pad redelik en op 80 km bereik ons Esselbank. Ons soek weer koeldrank maar kry net "minder nugter" mense! Iemand lig ons dat daar koeldrank "net naderkant die elektriese paal" te kry is. Ons ry aan, maar sien niks wat lyk soos 'n plek wat koedrank verkoop nie. Net toe ons by die laaste huise verby ry, kom Carine om die hoek! Ons stop net daar en laai die fietse op die bakkie. Ons ry terug dorp toe en vind toe die huis waar die koeldrank verkoop word. Daarna vat ons die pad terug Sanddrif toe. Die pad is so sleg, dit het Carine 'n uur en 'n half geneem om die 30 km af te lê en sy het ons 17:30 gekry, met die gevolg dat ons eers 19:00 by Sanddrif aankom! 


So eindig 'n besonder gebeurtenisvolle dag op 'n fiets, waar ons heelwat langer as beplan in die saal was.




<iframe src='https://connect.garmin.com/modern/activity/embed/7782024323' title='Cederberg Namakwapad dag 2 verkenning' width='465' height='500' frameborder='0'></iframe>










Saterdag 30 Oktober 2021

Oranje Avontuur Dag 9

Anette by Oude Schuur het nie vir ons plek gehad nie, maar ons het toe by die Bethulie Royal Hotel geholpe geraak. Dit was heelwat duurder, maar wel ‘n baie besonderse ondervind waar ons kennis maak met Anthony Hocking en sy versameling van 120,000 boeke en 80,000 langspeelplate! 

 


Beurtkrag was vir 20:00 geskeduleer en dit was 18:30 toe ons daar aan kom, dus moes ons ons litte roer om darem nog kos by die Old Car Pub te kry voordat die krag afgaan. Buite het dit nou ook honde en katte gereent. 

 

Vrydagoggend het Anthony en sy personeel ons getrakteer met ‘n heerlike ontbyt. Na die laaste oppak, kom ons net na 08:00 aan die ry. 

 

Leon moes onderdele vir sy Land Cruiser by ‘n boer in die Richomnd omgewing kry. Ons draai dus net na Richmond af op ‘n grondpad Victoria Wes toe. Dit het hie rook goed gereent en die pad is redelik modderig. Ons kry die onderdele, ry deur Victoria Wes waar ons ‘n lekker middagete geniet en vat dan die pad Kaap toe via Drie Susters. Ons arriveer so net voor 21:00 in die Kaap.

 


So eindig ‘n besonderse Oranje/Sengu Avontuur!


Hier is die skakel na Philip Hanekom se verslag.


https://philipsewebjoernaal.wordpress.com/