Saterdag 30 Oktober 2021

Oranje Avontuur Dag 4

Dit het omtrent heelnag saggies gereent met die gevolg dat alles buite nat is. Kondendasie het ook die binnekant van die tent klam gemaak. Om sake te vererger het 'n waterbottel in motor op my klere gelek met die gevolg dat van my klere nat is. Daar was darem droeë klere vir die dag. 

Aangesien ek stadiger as die ander is, het ek so lank begin ry terwyl hulle oppak. Aan die begin was die paaie nat maar dit het nie gereent nie. Die eerste paar kilometers was teer. Daarna gaan ek oor na die nuwe geteerde Sanipas aan die SA kant. Die pad is vir omtrent 10 van die 15 kilometer reeds geteer. Die laaste 5 kilometer is nog onder konstruksie. Dit is hierdie deel waar ek 'n stadige lek op my voorband optel met die gevolg dat ek moet stop en dit pomp. Dit het intussen ook weer liggies begin reent. 

Die deurgang deur Paspoortbeheer is gou en maklik. Ek moet weer die wiel pomp voordat ek kan begin ry. By die eerste waterpoel kyk of ek kan sien waar die lek is maar sonder sukses. Die pad tussen die SA en Lesotho Papoortbeheersposte is baie rof. Dit is ook die deel waarvan mens altyd die fotos sien met ernstige klim en haarnaald draaie. 


Ek loop 2 voertuie met fietse raak en leen 'n voetpomp om die wiel te pomp. 'n Rukkie later kom Leonico en Derick met ons ondersteunings voertuig verby. Die mis is ongelukkig so dig dat ons nie die uitsig kan geniet nie. Die pad is baie styl en soos bogenoem rof met groot klippe en spoelslote. 'n Tweede voertuig met fietse kom af en ek vra weer vir 'n voetpomp. Ons pomp my voorwiel tot op 2 bar. Ek moes die wiel 7 keer pomp voordat ek die bopunt bereik. Ek vra die ouens hoe ver nog en die antwoord is "ver" en dat dit styl en rof is! So twee kilometer van bo, kom Philip Hanekom by my verby. Ollie Greaves kom net voor ons die bopunt bereik, ook verby. Hy neem 'n paar "selfies" en ook 'n foto van by die bord wat die bopunt van Sanipas aandui.

Leon kom daar aan terwyl ons besig is met Paspoortbeheer. Ek is nou redelik nat en die temperatuur is ingeveer 2 grade Cesius. Paspoort beheer verloop glad, behalwe dat hulle daarop aandring dat ons 'n Covid toets moet ondergaan en dit kos R300 in kontant. Hulle lig ons egter in dat die Gesondheidsbeampte nie tans daar is om die toets te doen nie, maar ons kan maar gaan! R300 later!

Daar is 'n gastehuis en kroeg en ons ry daarheen. Hier is daar 'n lekker vuur en "hot chocolate"! Ons bestel ook middagete. 

Ons vertoef redelik lank hier voordat ons die tog Mokhotlong toe aanpak. Die pad is deur die Chinese geteer en in 'n baie goeie toestand. In Mokhotlong koop ons kos en ry Noord na die oorsprong van die Sengu/Oranje. 


Die pad is baie sleg en na ons deur 'n sytak ry sien ons 'n plek waar ons kan kamp. Ons hou net daar stil en maak onsself tuis. So eindig ons eerste dag in Lesotho. 



Afstand gery 24.27 km; tyd 3:57:17; hoogte geklim 1,402 meter. Die temperatuur wat my  Garmin Fenix aandui is omtrent 17 garde te hoog.





Oranje Avontuur Dag 3

 Ons is vroeg op en ry Alpine Swift toe om vir Leon en Ollie op te tel. Ons kom eers lank na 08:00 daar weg as gevolg van die groot pak!



Wanneer ons selfoon ontvangs het, begin ons soek vir 'n band. Iemand in Mataliele kan ons help. Ons kom net na 13:00 daaraan, maar ons moet deur Kokstad toe om band daar te kry, wat een van sy werkers deurbring vanaf Harding. Ons eet Steers vir middagete. Die band arriveer 15:30 en ons kon 16:00 weg.

Ons besluit om eder aan die voet van Sanipas te slaap by 'n kampplek. Daar aangekom slaan ons tente op en braai steak en maak broodjies.


Ons kom eers 23:00 in die bed. Dit begin saggies reent!

Oranje Avontuur Dag 2

 Dit het deur die nag baie gereent! Ek word 07:00 wakker en vang 'n vinnige stort. Eet Weetbix vir ontbyt en maak vir ons "plunger" koffie. Toe ons wil ry reën dit so hard dat ons eers moet wag om in die motor te klim!


Ons ry rustig deur tot op Bethulie, waar ons 11:30 aankom. Philip sal eers 13:00 daar wees, dus gaan eet ons iets by 'n oulike B&B wat ook eetgoed bedien.

Philip kom net na 13:00 daar aan. Anette van Oude Schuur, waar ons beplan om oppad terug te slaap, bied aan dat hy sy motor in haar motorhuis kan laat staan. Ons laai al die bedasie en sy fiets oor en vat die pad Rhodes toe.

Die grondpad tussen Barkley Oos en Rhodes is baie sleg met die gevolg dat ons so 20 meter van ons blyplek moet stil hou en die band, wat verwoes is, moet vervang.

Ons kry 'n lekker aandete by Elizma en ontmoet daarna vir Leon en Ollie by die hotel. Na 'n lekker kuier is ons bed toe. Môre oggend rol die wiele 06:30 en ons moet nog 'n spaarband ook soek!




Oranje Avontuur Dag 1

 Die groot dag het aangebreek. Leonico en Derick tel my 14:00 op. Ons is nou net drie en die Land Cruser lyk klaar asof ons Afrika gaan aandurf. Nou-ja ons gaan mos Lesotho aandurf! Dit gaan interessant wees om te sien hoe dit gaan lyk wanneer ons 6 is met vier fietse en al die begasie! 


Ons het vanaf Matjiesfontein tot in Richmond baie reën gekry. Hoop dit breek die 7 jaar se droogte! Op Beaufort Wes stop ons by die Spur vir aandete en by Drie Susters vir koffie. Ons bereik ons slaapplek, net buite Richmond so teen 22:00.

Donderdag 14 Oktober 2021

CTCT nommer 30

 10 Oktober 2021

Die 2021 CTCT is verskuif vanaf Maart na 10 Oktonber as gevolg van Covid-19. My voorbereiding het goed verloop e nek is reg vir die groot dag.

 

Ek her besluit om weer met ny fiets in te ry stad toe en val dus 05:20 in die pad om seker te maak ek is betyds vir my 06:47 wegspring tyd. Ons is veronderstel om ‘n “rolling start” te hé, maar die begin is nie vee lander as in  die verlede nie. Die groep is net ‘n bietjie kleiner. Terwyl en so staan en wag sien ek Hoffie Conradie, wat ‘n gedeelte van BB2BB en ‘n Trans Baviaans saam met my gery het, staan langs my in die wegspting blok. Klein wêreld!

 

Ons spring presies 06:47 weg.


Die weer is baie gunstig e nek het ‘n baie aangename rit. Ek verloor so ‘n paar bondels, maar kry dit dare mook reg on by ‘n paar te hou. Ek klim Smitswinkel teen ‘n goeie pas en gaan by heelwat deelnemers verby.

 



Deur Scarborough en Misty Cliffs is ek redlek alleen, maar na Ocean view se bult val ek weer by ‘n lekker groep in. Teen Chapman’s Peak rye k my eie pas en haal weer ‘n paar mense teen die bopunt in. Ek ry redelik alleen deur Houtbaai en teen Suikerbossie op. 

 


By Llandudno aft el ek weer ‘n lekker groep op en van hier tot by die eiende gaan die goed. 

 

‘n Kenmerk van vanjaar se wedren is die gebrek aan “voorvalle”. Niemand het naby my geval nie en daar was nie eers gevalle skielike gerem nie. Baie lekker ger yen tevrede met my tyd.

 

Na die ty dry ek rustig huis toe en kim 11:50 daar aan.

 




Imbuko Big 5

 18 September 2021


In 2020 het ek probeer inskryf vir die Imbuko Big 5, maar word toe in kennisgestel dat hulle nie inskrywings van persone oor 70 aanvaar nie. Vanjaar het ek besluit ek moet kyk of ek nie wel aanvaar kan word vir die uitdaging nie. Na ‘n bietjie korrespondensie en oorreding, besluit hulle toe wel om my inskrywing te aanvaar. Imbuko Big 5 verwys na die 5 groot klimme van die roete van 75 km. Dit vorm ook deel van een van die Cape Epic se skofte.

 

Ek reël met Johann de Bruyn om hom op te tel en ons kom so net na 06:30 by Imbuko aan. Die wind waai ‘n snot skoot, maar verder lyk die weer goed.

 

Die wiele begin op die kop 07:00 rol. Aanvanklik is dit afdraand en dan op ‘n redelik gelyke teerpad tot op 3 km en dan begin die eerste klim vanaf ‘n hogte van 140 meter. Ons klim oor die volgende 12 km na 749 meter, al teen die hange onder Du Toitskloof pas. Dit is ‘n gemiddelde van 50.75 meter se klim per km gery! Die paaie is hier meesal ou bosboupaadjies. Die eerste 3 km is redelik en ons klim net 60 meter. Oor die volgende 8 km klim ons 530 meter, ‘n gemidelede van 66 meter per km.  Dit is rof is enige taal! Verder waai die wind meeste van de tyd reg van vooraf! Dit neem my 1:30 om die eerste 15 km af te lê. Van die bopunt, net onder waar die pas oor die kruin gaan, daal ons oor 4 km af na 372 meter en die eerste waterpunt. 

 

Wat afgaan, moet weer opgaan en ons begin sommer onmiddelik weer klim. Die wind is darem nou van agter! Ek het ‘n probleem met my ketting, wat eintlik vervang moet word, en die val elke nou en dan af. Ek moet dan maar stilhou en dit weer opsit. Die klim is 4 km lank en ons styg 300 meter. Dus omtrent 75 meter per km. Dit word al erger! Dit neem my 45 minute om die 4 km af te lê. Na 2:35 het ek net 24 km gery. Dus ‘n gemidelde van 8 kpu! Die paadjies is hier oor die algemeen “single tracks” wat spesiaal vir fietsry uit gelê is.

 

Oor die volgende 7 km daal ons weer 460 meter., reg vir die volgende klim! Dit is 13 km lank met ‘n “dip” na 4 km en ‘n total styging van 560 meter. Ons is nou redelik hoog op teen die Lemietberg net agter Wellington. Vanaf 44 tot 51 km daal ons weer ‘n vinnige 550 meter oor 7 km. Ek het agter gekom dat my ketting probleem minder ernstig is indien ek ‘n redelik spanning op die ketting handhaaf. Dit het tot gevolg dat ek harder as normal moet trap, maar dit help om die frustrasie van ‘n ketting wat gedurig af val, te beperk. Nou het ons darem al drie van die Groot 5 agter die rug. Totale afstand staan op 51 km en ek ry al 5:15. Ek kry dit net nie reg om my gemiddelde spoed bo 10 kpu te kry nie!

 

Ons is nou in die meer bekende deel van Welvanpas en die paadjies teen Groenberg se hange net bo Val du Charon. Hulle het dit egter goed gedink om ons op te laat ry waar ons gewoonlik af kom. Dit was nogal ‘n uitdaging met die gevolg dat daar heelwat “gestoot” is in plaas van net te ry. Dit neem 40 minute om 5 km te ry! Ander kant af is daar baie los gruis met die gevolg dat ek ook maar stadig die bult af ry. 

 

Onder in die vallei verminder die klim voor ons die aanloop na die laaste klim begin. Die bopunt van die klim is redelik hoog op teen Beulah se bult, maar ons pak hom aan met dieselfde pad waar ons na vanoggend se eerste klim af gekom het. Ons klim dan van 60 km en 215 meter na 508 meter oor ‘n afstand van 11 km. Heel skaflik aan die einde van so ‘n dag! Daar is ook ‘n lekker “dip” van 65 na 68 km. Die draaipunt is op 71 km en dan is dit 4 km afdraand Imbuko toe! Ek voel heel self voldaan dat ek hierdie uitdgaing suksesvol agter die rug gekry het.

 

Totale tyd 7:46; afstand 75.5 km; klim 2,768 meter en ry teen ‘n gemiddelde spoed van 9.7 kpu. Ek eindig 162 uit 168 deelnemers wat klaar gemaak het. Daar het net drie persone ouer as 60 die wedren voltooi en ek was die derde een. 





Woensdag 08 September 2021

2021 Trans Baviaans Repeat

 Na die aanskuif en latere kansellasie van die 2020 Trans Baviaans, kon ons weer die kloof in 2021 aandurf, maar weereens nadat die datum met twee weke aangeskuif is.

 

Alles was dus gereël vir die naweek van 4 September. Ek en Johann de Bruyn vertrek met sy motor, saam met Danie Kotze wat as ondersteunings bestuurder optree, op Vrydagoggend 3 September uit die Kaap weg. Ek het vir Danie 07:30 opgetel en ons was 08:15 by Johann. Nadat die fietse opgelaai is, vertrek ons vanaf Pinehurst. Ons moet die Lowe’s, die Ehlerse en Andre Vancouillie (Kwaggs 2) langs die pad kry. Laas genoemdes het ‘n paar  probleempies met kinders aflaai by die skool en ons en die Lowe’s vertrek so lank en reël om mekaar by Shell naby Worcester te ontmoet vir koffie. Vandaar is dit Barrydale toe vir middagete by Diesel en Crème. Alles verloop voorspoedig en ons arriveer so net na 16:00 in Willowmore. Registrasie verloop glad en ons is so ‘n rukkie na 17:00 oppad Marlu toe. Die ander voetuie besluit langs die pad dat dit beter gaan wees om eers in Steylerville vol te maak voordat hulle plaas toe gaan. Ons kom dus so ‘n rukkie voeër as hulle daar aan. Ons word, soos gewoonlik, huldig ontvang en maak onself tuis voor aandete. Die res van die span is net na 18:30 ook daar. Die vyf wat op Sandkraal bly daag ook vir aandete op. Hulle is van Ladismith, Natal. Na ete verkas almal kamer toe, reg vir die tog Willowmore toe 04:30 die oggend.

 

Almal kom so teen net na 04:00 weg en ons is teen 04:50 in die dorp. Nou vir die finale reg maak . Teen 05:17 kry ons ons “lineards” en begin trap. Ons is heelwat gelukkiger as die ouens wat verlede week gery het, want die temperatuur is 4.0 grade Celsius. Op die hoër gedeeltes en met al die getrap, raak ek gou warm. Toe ons begin sak en die son sy kop begin uitsteek, daal dit na 0.0 garde! Gelukkig is ek reg vir die koue en pla dit my glad nie.




Al sewe van ons ry aanvanklik saam, maar later besluit Kwaggas 2 dat ons pas te stadig is, en trek hulle onder ons uit. Christine Lowe, wat Januarie begin fiets ry het, hou baie goed by. Teen Nuwekloofpas af gaan dit soos gewoonlik rof, maar ons vier kom “heel” onder uit en groepeer weer. Nou ry ons lekker saam, met die gewoonlike groepe wat aansluit en dan óf vooruit ry óf terugval. Ons handhaaf ‘n goeie pas en daag na 2:38 by waterpunt 1 op. Ons kry ook vir Kwagga 2 hier. Nadat almal iets ge-eet en gedrink het, is ons na 10 minute weer in die pad. 

 

Die stuk tussen Waterpunt 1 en 2 is redelik gelyk met geen ernstige bulte nie en alhoewel die profiel lyk of dit afdraend is lyk dit nie so wanneer dit gery word nie! Hierdie deel van die pad is altyd baie sinkplaat en alhoewel die pad geskraap is, is dit vanjaar nie veel anders nie. Ons bereik Waterpunt 2 na ‘n verdere 1:47. Ons gemiddelde spoed oor die 41 km was 23 kpu. En ons het nou in total 92 km afgelê. Hierna begin die groot klimme! Ons stop vir 14 minute.

 

Oor die eerste 92 km klim ons 803 meter. Oor die volgende 48 km klim ons 1,085 meter. Ons gaan na 6 uur se ry oor die halfpad merk, maar dit gee net rekenskap van 1,200 van die totale 2,900 se klim oor die roete! Ons kry vir Kwagga 2 hier langs die pad. Andre het ‘n bietjie hard met die grond kennis gemaak, maar is darem OK! Ons laat hulle daar en ry aan. Hy sou later weer val, maar het darem die ende in een stuk gemaak. Ons bereik Waterpunt 3 na 6:36 en het nou 124 km gery. Na ‘n stop van 17 minute is ons weer oppad. Net na die Waterpunt is daar ‘n lang ent wat ons deur die water moet ry wat op sy diepste so net onder die knie is. Ons wag eers dat daar ‘n redelike spasie tussen ons en die ouens voor ons is sodat ons nie momentum verloor indien hulle vashak nie. Ons word aangesê om regs te hou. Johann maak so maar ek hou, vir geen besondere, links. Net voor die iende steek Johann se voorwiel teen ‘n klip vas en het kry dit net betyds reg om ‘n voet uit te steek en sy ewewig te behou. Ek ry regdeur. Daar was vanjaar weer heelwat stories van ouens wat onder die water verdwyn het of net kop bo water gehou het as gevolg van in hierdie water val!

 

So ‘n entjie na die avontuur slaan ons die eerste van die “Fangs”. Dit is twee klien koppies waaroor ons moet ry. Hulle is nie baie lank nie, maar die klim is kwaai. Dit word gevolg deur die MAC waar ons 500 meter oor ‘n afstand van 8 km klim. Dit neem my byna ‘n uur om bo te kom. Ons gemiddelde spoed oor die 17 km tussen 3 en 4 was 8 kpu.




Dit is dan ook Waterpunt 4 en hier kry ons altyd lekker sop! In die verlede was dit gewoonlik donker wanneer ons hier kom, maar met vanjaar se vroeër begin, is dit nou eers 13:55 en die son is lekker warm. Ons het voorsiening gemaak om skoon en droë klere hier aan te trek, maar besluit daarteen. Na 17 minute is ons weer aan die gang. Die bene voel maar moeg, maar ons moet aandruk!

 



By die “Big Dipper” af moet ons maar versigtig wees vir die spoelslote en los klippe. Johann is hier heelwat vinniger as ek en moet dus so ‘n paar minute vir my aan die onderpunt wag. Van hieraf tot by Waterpunt 5 is baie soos tussen punt 1 en 2. Die voordeel vanjaar is dat ons hier in die daglig ry en kan sien hoe mooi die omgewing is. Ons handhaaf ‘n gemiddelde spoed van 22 kpu. Dit is ‘n offisiele ondersteuninhspunt en Danie was veronderstel om ons hier te ontmoet. Ons kry hom nêrens en daar is ook nie selfoon ontvangs nie!. Daar was gelukkig nie enige iets van belang wat hy vir ons moes gee nie. Na ‘n “Chip Roll” en ‘n paar glasies Coke, is ons 19 minute later weer aan die gang. So drie km verder kry ons vir Danie. Hy het hom toe met ons spoed misgis en dit is hoekom hy laat was. Hy moes egter ook vir die Lowes ondersteun so hy ry aan na Waterpunt 5 en ons ry voort na ‘n vinnige groet. 

 

Nou kom die “Never Ender”. Dit behels drie klimme oor ‘n afstand van 10 km waar ons van 185 meter na 420 meter klim. Die probleem is dat dit op 180 km van die wedren kom en dat dit uit drie klimme bestaan. Die probleem vir die oningeligtes of die wat dit vir die eerste keer ry, is dat daar ‘n lang klim is, gevolg deur ‘n vinnige afdraend, gevold deur nog ‘n klim en afdraend en dan ‘n finale klim. Dit neem ons bykans ‘n uur om die 10 km af te lê. Bo-op die laaste bult is daar ‘n “ombemande” kontrole punt en dan is daar ‘n paar op en af’s tot by Waterpunt 7. Die aanloop na die waterpunt is ‘n bietjie verskuif en ons moet ‘n giftige bultjie uitry voordat ons daar kom. Ons trek nou op 202 km en is al vir 12:48 aan die gang. Hier kry ons ‘n Javel met maalvleis. My eetlus is heeltemal weg en ek eet net die helfte. Ons vertoef 15 minute. 

 

Die einde is nou in sig met net die “Mini MAC” en die treinspoor “single track” wat oor is. Dit raak ook nou donker en ons moet weer ons ligte aansit. Die laaste 23 km is nie te moeilik nie, maar dit is nie maklik om ‘n goeie gemiddelde spoed vol te hou nie. Die eerste gedeelte is op ‘n redelike “Jeep track” wat die “Mini MAC” insluit, gevolg deur ‘n goeie distrikspad met ‘n paar lekke afdraendes, maar dan kom die laaste 10 km al langs die treinspoor af. Die toestand van die pad is goed, maar na 13:30 en 215 km is dit nogal ‘n uitdaging. Die pad is redelik gelyk, maar daar is ‘n paar lae A-raam bruggies wat redelik nou is en dan kruis ons ook nog die spoor ‘n paar keer. Dit gaan maar knor-knor, maar ons maak dit darem. Dit is met groot verligting dat ons die laaste draai omgaan en die ingang na die Fountains Mall sien. 

 

Ons ry, met groot vreugde in ons harte oor die eindstreep na 14:29 teen 19:48 die aand. Wat ‘n voorreg was dit nie om weereens ‘n Trans Baviaans te kan voltooi nie. Die is my 8ste en die laaste 5 was almal tussen 14:10 en 14:50.