Bennie en Anine se kinders kuier by hulle met die gevolg dat ons in 'n huisie so 2 km weg bly. Hulle gee vir ons tjops, sosaties en wors, wat ons op die binne braai, braai. In tussen het dit renerig geraak en ons reël met Bennie om ons te kom haal sodat ons die rugby tussen die Stormers en Benneton kon kyk. Gelukkig maak die Stormers dit darem toe die moeite werd. Gedurende die nag woed die wind en daar val heelwat reën.
Ek eet Weetbix en Leon bak vir ons eiers vir ontbyt. Ons kom 08:32 aan die ry. Daar is 'n paadjie reguit af en ons dink dit is 'n kortpad na die grootpad. Ongelukkig werk dit toe nie uit nie en ons moet terug draai toe ons agter kom die pad loop berg op en dan dood. Dus terug verby die huis, so 'n stukkie bult op en dan vat ons die grootpad Hottentotskloof toe. Daar is 'n paar lang bulte op en af wat ons moet aandurf.
Ons het gisteraand besluit om met 'n draai terug te ry Bucklands toe. Dit "drup, drup" so elke nou en dan en Leon ry verby die eerste afdraai pad. Ek aanvaar hy het dit maar net gemis, of miskien besluit om maar eder kortpad te vat as gevolg van die reën. Ek sien hom ook nie by die tweede afdraai nie en ek ry aan. Die volgende oomblik kom hy by my verby en sê hy het vir my in die sloot gewag. Die afdraai is nou te ver agter en ons besluit om na ander opsies te kyk om ekstra kilometers in te sit.
Die pad val redelik van Hadley na Bucklands, maar daar is ook heelwat bulte. Die stuk deur die kloof is nogal besonders. Op 22 km kry ons die afdraai na Trentyre, wat ons dan na Bucklands toe neem. Alhoewel dit 'n plaaspad is, is die toestand goed en ons handhaaf 'n goeie pas. Daar is geen ernstige bulte nie, net erosie walle! Op 26 km draai ons regs deur 'n kloof en dan anderkant weer links Bucklands toe. Hier is dit 'n regte tweespoor plaaspad. Die oppervlakte is darem so dat ons nog 'n goeie pas kan handhaaf. Teen hierdie trant gaan ons in onder 3 uur klaar maak!
So 'n ent af is daar 'n split. Volgens die kaart lyk dit of ons regs moet gaan, dus draai ons regs. My GPS sê reguit, maar hier het ek volgens gevoel geplot aangesien die GPS kaart nie die pad aangedui het nie, so ons probeer die ander opsie. Heel interessant, maar na so net meer as 'n kilometer ry ons in 'n wildsheining vas, so ons moet weer terug.
Ons besluit om die ou Ossewa pad te volg eder as om reguit terug Bucklands toe te ry. Dié neem ons, met 'n redelike klipperige pad, teen 'n rant op. Die pad klim geleidelik die rant uit totdat ons heel bo is met 'n mooi uitsig oor die Grootrivier en omliggende heuwels. Ons volg die baie onduidelike pad al op die rant langs. Plek, plek moet ons mooi kyk om te sien waar die "pad" nou eintlik loop! Daar is net so 'n vae aanduiding van waar die pad is. Dit is egter baie "lekkerder" as om op 'n distrikspad te ry.
Ons bereik die einde van die rant en daal af na die vlakte. Weereens baie kilpperig en ek lê maar weer versigtigheid aan die dag. Onder kruis ons die Grootrivier en dan weer oor die volgende rant. So gaan ons aan en kry die "tyd in die saal" wat ons beplan het. Na nog so 'n paar ops en afs sluit ons weer by die Trentyre/Bucklands pad aan. Weer deur die Grootrivier en dan op verby 'n paar werkers huisies tot by Bucklands.
Ons het toe die rit vir die dag van 41 na 55 km gerek en ook 'n ekstra 2 uur se oefening in gekry. Die Ossewa pad was voorwaar iets besonders.
Data vir die dag: tyd 4:27:22; afstand 53.33 km; vandag het ons net 697 meter geklim.






Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking