Woensdag 07 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 6

 Die hotel eienaar was betyds en ons het ons fietse 07:00 gekry nadat ons in die kamer ontbyt ge-eet het en die wiele het 7:07 begin rol.

Aangesien Pitigliano op ‘n “rots” gebou is, daal ons weer vining met ‘n kronkelpad tot by die rivier en moet dan weer die bult anderkant uit met ‘n soortgelyke kronkelpad. Dit word gevolg deur ‘n geleidelike afdraand totdat ons afdraai na ‘n natuurreservaat. Hier ry ons aanvanklik met ‘n teerpad al langs ‘n rivier. Die pad raak later grond en ons begin klim. Ons is omring deur bome en dit laat my dink aan Knysna se bosse. Na ‘n lang klim plat die pad af voordat ons weer verder klim. Die eerste 10 km het ons 30 minute geneem. Ons ry gedurende die volgende dertig minute net 3.5 km! 12.5 vir die eerste uur.

Die roete word weer gereeld afgewissel tussen sekondêre teerpaaie en redelik goeie grondpaaie. Elke nou en dan ry ons deur ‘n laning bome wat baie mooi is en ook koelte verskaf. Na omtrent 38 km kom ons langs ‘n rivier. Die pad kronkel saam met die rivierloop vir die volgende 20 km. Ons stop by ‘n groterige olyfboom om in die koelte te sit en rus terwyl ons ‘n ietsie eet. Langs die rivier is koring en “chick pea” landerye. Na ongeveer 3:40 ry ons Albinia binne. Ons hou by ‘n restaurant stil vir iets om te eet.

Na Albinia loop die roete oor ‘n soort van eiland voordat dit ongeveer 15 km suid weer by die land aansluit. Die eiland is aan die noorde en suide kant met die land verbind met small stroke land! Tussen die stroke is daar twee groot mere. Hennie het besluit hy gaan hierdie gedeelte uitsluit en direk deur ry van Albinia na Ansedonia waar hy dan weer die offisiële roete sal optel. Ek gaan by die offisiële roete hou. Nadat ons klaar ge-eet het, skei ons paaie. Hennei behoort so 2-3 uur voor my by die einde aan te kom.

Van Albinia na die eiland is ‘n plat pad met heelwat vakansie plekke aan albei kante. Die pad se naam is Strata Provincale della Giannella. Wanneer ek die “eiland” bereik styg die pad en om die draai het ek die mooiste uitsig. Noord is dele van die Italianse kus en suid is die “eiland” se kus. Dit is nie so big bebou en die helling is nie heeltamal so styl soos Clifton nie, maar dit laat my daaraan dink. Om die draai is die mooiste dorpie met ‘n hawe en baie klein seevaartuie. Die dorpie se naam is Potro Santo Stefano.

In die dorp draai die roete links en begin die eerste groot klim van die eiland. Die pad is aanvanklik teer maar raak later grond. Na ‘n hele paar kilometer word ek gelei na ‘n enkelspoor paadjie wat seker eintlik ‘n wandelpad is maar skynbaar ook deur bergfietse gebruik word. Die pad kronkel die berg uit. Daar is ‘n paar boerdery bedrywighede, maar op ‘n redelike klein skaal. Dele van die pad se helling is kwaai, maar ek kry dit reg om alles te ry behalwe vir een gedeelte van ongeveer 30 keter wat te veel los klippe het. Ek is nou aan die weste kant van die eiland en kan die see sien.

Hier is geen strande nie en die topografie is baie soos by Chapman’s Peak met rotse tot by die water. Die paadjie kronkel weereens teen die heuwel op totdat ek oor ‘n nek gaan. Anderkant ry ek met ‘n kontoerpad teen die hang langs totdat ek weer oor ‘n nek gaan. Hier is daar so ‘n paar huise en ‘n paar rybare paaie, waarvan sommiges geteer is. Nadat met ‘n baie styl (18%) teerpad weer oor ‘n nek gelei word, kom ek af op ‘n area wat skynbaar redelik ekslusief is. Die huise is redelik groot en modern en daar is ook ‘n paar strande. Ek ry al met die kus langs oor nog ‘n nek totdat ek op ‘n klein, weereens skynbaar redeleik eklusiewe, kusdorpie, af kom met die naam Porto Ercole.

Nadat ek met ‘n fietspad, wat langs die grootpad loop, oor nog ‘n nekkie gelei word, sluit die pad aan by die strook land wat die eilnad met die vasteland verbind. Hierdie is ‘n natuur reservaat wat bekend staan as Dana Feniglia. Die roete gaan deur ‘n dene bos tot by Ansedonia. Die laaste bult van die dag volg voordat ek met ‘n sanderige pad langs ry tot by nog ‘n teerpad.

Op 112 km besluit my Garmin om te “vries”. Dit het al van tevore gebeur. Al genade is om hom af te skakel en dan weer aan te skakel. Die problem is dat ek dan al my data vir die dag verloor! Baie frustrerend. Ek kry hom weer aan die gang en ry die laaste 6 km na die einde, waar Hennie, wat 12:26 klaar gemaak het met sy korter roete, my in wag.


Die einde is by ‘n sport klub en al wat daar is, is ‘n boek waar jy jou naam, die tyd, die datum inskryf en teken. Geen offisiële verwelkomming nie. Regtig baie “low key”.

Hennie koop vir my ‘n Coke en bottle water en ons twee ry die 2 km na ons bly plek waar die vrouens ons in wag. Ek word met ope arms en baie foto’s verwelkom. Dit maak op vir “low key”einde!

So eindig ‘n merkwaardige ondervinding. Die landskap waar ons deur gery het was voorwaar iets besonders. Die mense wat on slangs die pad ontmoet het, veral die ander deelnemers was altyd vriendelik en behulpsaam.

Dankie aan Hennie wat hierdie ondervinding saam met my geniet het. Dankie ook aan Sue en Helena wat ons so goed bygestaan het en daar was toe ons klaar gemaak het.

Laaste, maar baie belankrik, dankie aan ons Hemelse Vader wat ons die krag  en vermoë gegee het om hierdie wonderlike ses dae op ‘n fiets te geniet. Ons het absoluut geen meganiese problem gehad nie, net kettings ge-olie!

Data vir die dag: tyd 8:40, afstand 106 km, klim ongeveer 1,550 meter.

Totale tyd, slaap ingesluit, 5 dae 7 uur en 40 minute, 530 km en 10,300 meter se klim!






Dinsdag 06 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 5

Tuscany Trail Dag 5

Ons het vir 'n 06:00 ontbyt gereël en val 06:24 in die pad. Aanvanklik klim ons 50 meter in die eerste half uur. Dit word gevolg deur die wonderlikste afdraand en ons daal gedurende die volgende 10 minute 300 meter met 'n pad wat teen die heuwel af kronkel. Dele van die pad is sement. Dit word gevolg deur teer en grondpaaie oor drie heuwels en twee afdraends. Ons ry deur koringlande en wingerde wat afgewissel word deur inheemse bome en struike. 


Dan kom ons aan die voet van die Radicofani bult. Dit is 'n klim 500 meter oor 7 km. Dit neem my ongeveer 'n uur om tot by die dorp te kom.

Ek hou by die eerste kafee stil om vir Hennie te wag. Hy daag 10 minute later op. Terwyl ek daar wag, daag 'n groep bergfietsryers ook daar op. Een het 'n Joburg2C top aan. Dit blyk toe Gary Green van Winterton, wat verlede jaar die Freedom Challenge gedoen het, te wees. Hy en sy vrou is op 'n bergfiets toe, met 'n plaaslike gids vanaf Siena na Rome, ongeveer 300 km. Ons ontspan lekker, drink koffie en eet van ons padkos. Ons vertrek 45 minute later nadat ons ons waterbottels gevul het.

 Anderkant af daal ons 550 meter in minder as 10 minute. Nou is ons weer in die Toskaanse platteland met sy lieflike rollende heuwels en valleie. Ons ry ook op 'n teerpad langs 'n rivier op deur 'n nasionale park. Nadat ons weer 'n heuwel uit is, begin ons daal voordat ons die klim na Sorano toe begin. Dit is 'n lieflike middeleeuse stad op 'n heuwel. Baie indrukwekkend om binne te ry. 

Ons hou by die eerste kafee stil en Hennie eet 'n skyf pizza. Ons het vir 'n 06:00 ontbyt gereël en val 06:24 in die pad. Aanvanklik klim ons 50 meter in die eerste half uur. Dit word gevolg deur die wonderlikste afdraand en ons daal gedurende die volgende 10 minute 300 meter met 'n pad wat teen die heuwel af kronkel. Dele van die pad is sement. Dit word gevolg deur teer en grondpaaie oor drie heuwels en twee afdraends. Ons ry deur koringlande en wingerde wat afgewissel word deur inheemse bome en struike. 

Dan kom ons aan die voet van die Radicofani bult. Dit is 'n klim 500 meter oor 7 km. Dit neem my ongeveer 'n uur om tot by die dorp te kom. Ek hou by die eerste kafee stil om vir Hennie te wag. Hy daag 10 minute later op. Terwyl ek daar wag, daag 'n groep bergfietsryers ook daar op. Een het 'n Joburg2C top aan. Dit blyk toe Gary Green van Winterton, wat verlede jaar die Freedom Challenge gedoen het, te wees. Hy en sy vrou is op 'n bergfiets toe, met 'n plaaslike gids vanaf Siena na Rome, ongeveer 300 km. Ons ontspan lekker, drink koffie en eet van ons padkos. Ons vertrek 45 minute later nadat ons ons waterbottels gevul het.

 Anderkant af daal ons 550 meter in minder as 10 minute. Nou is ons weer in die Toskaanse platteland met sy lieflike rollende heuwels en valleie. Ons ry ook op 'n teerpad langs 'n rivier op deur 'n nasionale park. Nadat ons weer 'n heuwel uit is, begin ons daal voordat ons die klim na Sorano toe begin. Dit is 'n lieflike middeleeuse stad op 'n heuwel. Baie indrukwekkend om binne te ry. 




Ons hou by die eerste kafee stil en Hennie eet 'n skyf pizza. Ek besluit om 'n volle pizza te bestel. Daar is ook vier ander deelnemers, twee van Italië en twee van Latvia. Ek het toevallig op dag twee so 'n rukkie saam met die Latviers gery. Ons gesels lekker, in gebroke Engels, en vertoef 'n half uur. Ons roete die dorp uit kronkel eers vinnig af met 'n pad wat deur die plaaslike sandsteen uit kerf is. Die wande is loodregop en ongeveer 6-8 meter hoog. Ek het nog nooit so iets beleef nie. Nadat ons oor die rivier is, moet ons weer anderkant, met 'n kronkelende pad die bult uit. Ons het net nog 9 km om te ry Pitigliano toe, waar ons beplan om te slaap.

Die wind het intussen begin waai en ons ry meesal reguit teen 'n redelike sterk suide wind in. Ons tel ook 'n ander deelnemer "op" en hy ry agter ons aan. Dit neem ons nie lank om die lieflike Pitigliano van die pad af te sien nie, maar dit lê baie hoër as die pad! Ook nie lank nie voordat ons op 'n voetpaadjie, wat so styl soos die eerste dag se sementstroke is, opgelei word nie. Dit bring ons by 'n stel platterige trappe waar, ons verplig us om ons fietse op te stoot. Bo-op die trappe raak die GPS 'n bietjie deurmakaar as gevlog van die hoë geboue en nou straatjies, maar ons kry darem die pad. Ons drie stop by die eerste kafee en bestel iets koels om te drink. Die ander ryer, 'n Fransman van Strassbourg, het reeds vooraf by 'n hotel bespreek. Hy gee ons die naam en ons kry 'n kamer met twee enkel beddens vir Euro 75.00. Nadat ons klaar gedrink het, volg ons hom hotel toe. Daar aangekom is daar geen lewe nie. Hy skakel die nommer en die eienaars daag 5 minute later op. Hulle kan ons egter nie twee enkels beddens op kort kennisgewing gee nie. Ons moet dus maar weer die dubbelbed aanvaar. Die volgende probleem is die fietse. Gelukkig is die winkel langsaan, wat reeds toe is, ook hulle eiendom en hulle stoor ons fietse daar.  Die volgende probleem is dat die winkel eers 08:00 oopmaak. Ons wil 06:00 ry! Na baie gesmeek, onderneem hulle om 07:00 vir ons te kom oopsluit sodat ons ons fietse kan kry. So eindig ons tweede laaste dag  van hierdie ongelooflike ondervinding.





Tydens aandete kom ek en Hennie tot die gevolgtrekking dat ons mekaar op dag twee misgeloop het toe ek verkeerd gery het op die eerste bult. Hy is by my verby voordat ek na hom begin soek het! So werk die noodlot!


Statestiek vir die dag: 87.66 km, tyd 8:26:40  totale klim 1,660 meter, daal 1,771 meter. 

Tuscany Trail Dag 4

Tuscany Trail Dag 4

Die hotel gee nie ontbyt nie, dus het ek en Hennie sommer in die kamer ontbyt genuttig. Ons het op die kop 06:00 aan die gang gekom, maar Hennie sukkel met sy Garmin met die gevolg dat ons eers 06:20 begin ry. 

Die hotel gee nie ontbyt nie, dus het ek en Hennie sommer in die kamer ontbyt genuttig. Ons het op die kop 06:00 aan die gang gekom, maar Hennie sukkel met sy Garmin met die gevolg dat ons eers 06:20 begin ry. 

Ons het besluit om saam te ry en indien ek so voel, kan ek die laaste 20 km teen 'n vinniger pas aflê. Ons daal amper 300 meter binne die eerste 30 minute, maar met bergfiets ry beteken 'n afdraand dat daar 'n opdraand gaan volg, veral in Tuscany!  Dit word dus gevolg deur 'n uur se klim waar tydens ons weer 260 meter klim. Die roete bly baie mooi met golwende heuwels in die Toskaanse plattteland.
Ons eerste mikpunt is Siena, wat ons na 3:40 bereik. Daar is so baie toeriste dat ons soms ons fietse moet stoot! Die roete neem ons oor die stadsplein en ons stop vir 'n ligte ete. Die plein is baie besonders en daar word blykbaar nog jaarliks 'n perde wedren om die plein gehou. Ek weet net nie hoe die perde op die gladde klippe gehardloop kry nie! Ons kom na 33 minute weer aan die gang.

Ons het die vorige aand besluit tot waar ons sou ry, en indien ek vinniger as Hennie ry dan reël ek slaapplek en wag daar. Ek voel egter nie te sterk nie en Hennie ry baie goed.  Ons word elke nou en dan van die groter paaie weggeneem op onder andere die Francigena Pelgrims wandelpad, maar ook oor private plaasgrond. Ons is gedurig in verwondering oor hoe goed die roete saamgestel is. Terwyl ons nog so ry gaan my Garmin sommer vanself af! Ek moet hom weer aanskakel en alles werk reg! 


Ons kom na 84 km by Buonconveto en word om die dorp gelei. Terwyl ons ry gesels ek en Hennie oor afstand en ek het 106 km in my kom. Die afstand van Buonconvento na San Quirico is 21 km. Na 'n rukkie haal ons twee ander manne in. Ons ry so saam-saam maar ek en een van hulle is sterker en ry vinniger bult op. Toe ek bo kom besluit ek voel goed en begin vinniger ry oor die rollende heuwels. Ek haal ook 'n ander deelnemer in. Ek ry regtig baie lekker en vlieg teen die bulte uit. Net voor San Quirico haal ek die Sholtze in. Ons ry saam die dorp binne en stop in die hoofstraat by 'n kaffee sodat dit maklik sal wees vir Hennie om ons te kry. Ernst kry ook vir ons almal plek in 'n hotel. Hennie daag 30 minute later, saam met die twee ander manne op en is 'n bietjie ongelukkig. Hy weet nie wat van my geword het nie en ons het afgespreek om in Buonconvento te slaap! Ons is egter saam daardeur en het nie een daaraan gedink nie of daarna verwys nie. Na 'n bier voel hy beter. Tydens ons gesprek die volgende aand stem ons saam dat dit die regte besluit was om in San Quirico te oornag. 


Statesiek vir die dag: afstand 106 km; tyd 9:27:08, klim 1,581, daal 1.551 meter.



Sondag 04 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 3


My idee was om die wekker te stel sodat ek ek 07:30 in die pad kan val, maar toe maak ek 'n half uur fout met die gevolg dat ek eers 07:54 aan die gang kom. Die Scholtze het 06:30 begin.

Die eerste 20 km was plat fietsry paadjies langs die rivier wat deur Florence loop met die gevolg dat ek net voor 09:00 daar aan kom. Die roete neem ons deur die historiese stad, oor die beroemde brug met sy winkeltjies en aan die suide van die stad uit. 

Die klimme begin sommer nog voordat ons die stad verlaat. Die gradiënt is weereens redelik en ek  ry meesal op teer. Die baie klim bring egter my gemiddelde spoed vinnig af. Ek het beplan om tussen 12:30 en 13:30 in San Gimignano te wees. Dit blyk heeltemal te optimisties te wees. Ons word ook weer afgely op grondpaadjies en oor die algemeen gaan die pad of af of op. Ons ry selde op gelykpad. 

Na een van die klimme loop ek die Scholtze bo op 'n bult raak. Die het my 3:40 geneem om hulle voorsprong uit te wis. Ek groet en sê hulle moet laat weet wanneer hulle by San Gimignano is sodat ons 'n koffie kan saam drink. 

Die roete bly baie mooi sten spyte van die klimme. Ons ry tussen olyf boorde en wingerde deur. 'n Groot deel van die roete is oor plase en ons ry soms baie naby aan mense se huise verby. Party is redelik eenvoudig maar die meeste is heel indrukwekkend. Ons word omring deur koppies, party wat gehuggies bo-op het en ander met groot huise. Ek bereik Tavernalle na 4:15 se ry. 

Ons word baie gou weer afgely op 'n grondpad met 'n helling wat skrik vir niks. Ek is redelik seker dit was baie naby aan 30%! Die feit dat dit deur bome omring word en ek dus in die skadu ry, maak dit darem so 'n bietjie makliker! Ek kan darem nou al vir San Gimignano in die verte sien. Ons daal egter eers af na net oor die 100 meter voordat die klim na oor die 300 meter begin en dit alles in die laaste 10 km. 


Ek bereik my bestemming na 7:05 met 'n totale afstand van 92.6 km en ek het 1,766 meter geklim en 1,526 meter gedaal.

Saterdag 03 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 2

Ons het 06:24 in die pad geval. Die eerste bult het op 6 km begin. Die pad was 'n teerpad met 'n rybare gradient. Ons het teen 'n redelike spoed gery, alhoewel Hennie begin agter raak het. Hy het egter binne oogafstand gebly en 'n redelike pas gehandhaaf. Na 10 km was daar 'n grond afdraai paadjie wat ek gemis het. Ek het egter my fout agtergekom en omgedraai. Ek besluit toe om vir Hennie te wag. Dit was op 13 km. Na 10 minute het hy nog nie opgedaag nie en ek het toe maar bult af gery om hom te soek. So 'n entjie verder kry ek toe vir Diego en sy vriende. Diego se ketting het tussen sy "sprocket" en die speke in vasgeslaan en hy wag toe vir iemand om hom te kom help. Ek leen een van sy vriende se telefoon en skakel vir Hennie om te hoor waar hy is. Hy sê hy is oppad, besig om te stoot. Ek ry 5 km bult af op soek na Hennie maar kry hom nie. Ek besluit toe maar om aan te ry en vir hom bo op die bult te wag. By Diego sê ek vir hom dat hy vir Hennie moet sê ek wag bo op die bult wanneer hy daar verby kom. 

Toe ek weer by die grondpaadjie kom maak ek nie dieselfde fout nie en draai daar af. Die pad oppervlakte is goed en die gradiënt is rybaar. 
Ek maak goeie vordering en haal 'n drie tal met "clyclocross" fietse in.
Bo-op die bult neem ek 'n paar foto's en ry verder. Die pad kronkel voort en sluit later by 'n teerpad aan wat my by 'n kafee bring. Ek hou 10:20 hier stil om vir Hennie te wag. Ek eet 'n broodjie en drink twee koppies koffie terwyl ek wag. Ek probeer vir Hennie skakel maar hy antwoord nie. Ek stuur vir hom 'n Whatsapp om te sê waar ek wag.

12:20 kom Ernst en Hannelie verby en hou ook stil. Ek verneem of hulle nie vir Hennie gesien het nie maar hulle het nie. Hulle eet ook 'n broodjie en ons gesels lekker. Na 15 minute besluit hulle om te ry en ek besluit om saam met hulle te ry. Ernst probeer ook vir Hennie skakel maar sonder sukses. Hy stuur vir hom 'n boodskap om te sê ek is by hulle. Ons besluit ook, soos die vorige aand bedpreek, om voor Florence slaapplek te soek aangesien die verkeer in die laat middag te besig daar gaan wees en dit heel moontlik ook duur sal wees. Ons besluit om in Signa se omgewing slaapplek te soek.

Die aanvanklik pad is teer en weereens bult op maar die gradiënt is redelik maklik. Na 'n paar kilometer draai ons weer af op 'n grondpad wat styl en rof is, maar wel rybaar. Oor die bult is daar weer 'n rowwe afdraand. Aangesien dit Hannelie se eerste bergfiets wedren is, is sy versigtig met die rowwe gedeeltes waarvan daar 'n hele aantal volg. Ek geniet myself gate uit oor die rowwe gedeeltes want dit is lekker rybaar. Wag so elke nou en dan vir Ernst en Hannelie om op te vang. 


Na ongeveer 15 km sluit ons weer by 'n groot teerpad aan. Ons word gou afgelei na ondergeskikte paaie en later na fietspaaie waarvan sommiges spierwit gruis is. Die roete hou ons af van die besige strate. Die eerste tekens vir Signa begin verskyn en ons begin soek. Na 'n hele ruk kry ons 'n hotel maar hulle is vol. Ons vind nog een straat af, maar hy is ook vol! Dit is lang naweek en die Italiaanse MotoGP vind die naweek in die omgewing plaas! Die man agter die toonbank bel rond en kry vir ons plek in die Hermitage Hotel teen Euro 130.00 per kamer. Ons neem dit. Hy verduidelik hoe om daar te kom en ons ry die 8 km daarheen waar ons 17:45 arriveer. 

Ek probeer onmiddelik met Hennie in verbinding tree, maar sonder sukses. Net nadat ek in my kamer in stap skakel Hennie. Hy is verby Florence! Hoe ons dit reg gekry het om mekaar te mis is duister. Ek het terug gery om hom te soek en vir hom gewag, die Scholtze is by hom verby sonder dat hulle mekaar gesien het en hy is in Signa by ons verby sonder dat ons mekaar gesien het! Soms speel omstandighede snaakse spelietjirs met mense!


Totale afstand vir die dag 90.5 km; totale ry tyd 8:59:49; totale meters geklim 1,664; meters gedaal 1,677.

Vrydag 02 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 0

Hierdie inligting moes voor Dsg 1 kom maar dit baie om finge op die selfoon te verander en dk het vergeet om dit eerste te plaas

Ons het op 1 Junie ongeveer 14:00 in Massa aangekom. Heel eerste het ons die hotel gaan soek. Sue het, op internet, gevra vir 'n hotel naby aan die wegspring. Die hotel was ongeveer 9 km weg, maar dit was alles opdraand en SA opdraandes nie, Europese opdraandes met 'n hele klomp haarnaald draaie. Die hotel was egter top kwaliteit en die uitsig was baie mooi.

Nadat ons ons begasie afgelaai het, is ons dorp toe om te registreer. Toe ons by die plek instap loop ons die Australiese Suid Afrikaaners, wat ook deelneem, raak. Ernst en Hannelie Scholtz en hulle bly suid van Perth. Hulle beplan ook om 5 dae te ry, so ons hoort mekaar langs die pad te sien.

Die "race briefing" sou eers 18:30 plaasvind en die persoon wat ons moet help met "tracking" sou eers 16:30 daar wees. Ons besluit toe om maar terug hotel te gaan en 18:00 weer af te kom.

Die reis van die hotel toe by registrasie neem 30 minute al is dit net meer as 15 km. Registrasie was op ander plek as wegspring.


Toe ons 18:35 daar aankom, hoor ons die "briefing" het vroeër begin! Die Suid Afrikaners het darem die kern punte vir ons oorgedra. Hennie het sy selfoon vir "tracking" verbind  gekry, maar aangesien ek nie internet data gehad het nie, kom ek nie myne uitsorteer nie, maar ek moes net later 'n epos aan die persoon stuur dat sou hy die verbinding maak. Dit is toe gedoen en toe ek vanoggend wakker word is due bevestigende epos daar!

Tuscany Trail Dag 1

Ons het vir 'n vroeëre ontbyt gereel en kon toe darem teen 07:30 wegkom om 08:00 op die plein te wees vir die 08:30 wegspring. Ons was ook gelukkig om net om die hoek parkering te kry en van daar kom Sue en Helena maklik die pad volg tot op die snelweg.

Ons was toe weer gelukkig om die Suid Afrikaners daar raak te loop. Die organiseerders het net na 08:00 allerhande aankondigings in Italiaanse gemaak, waarvan ons niks verstaan het nie. Die "wedren" het so ongeveer 08:28 sonder enige groot bohaai begin.


Ons is met agterpaadjie uit die dorp geneem, sonder enige begeleiding. Almal volg maar die roete op ons GPS. Die eerste 20 km was maklik en alles teerpad. Op 22.9 km begin die helling styg. Dit was na net meer as 'n uur se ry. Aanvanklik was dit 'n teerpad met 'n helling wAt uitgetrap kon word, maar na 'n ruk raak dit sement met 'n helling wat uitgestoot moet word. Ek skat ons het vir ongeveer twee uur gestoot voordat ons by rybare "single tracks" uit gekom het. Dit het ons 2 uur geneem om 7 kmaf te lê! 3.5 kpu! Hier het Hennie opsy gestaan vir iemand wat verby wou kom, sy balans verloor en 3 meter teen die hang af getuimel. Gelukkig was die gras dik en doen het net 'n paar skrape op. 


Die volgende paar kilometer bestaan uit 'n verskyndenheid oppervlaktes en gaan deur die plaaslike inheemse woude. Dit is ongelooflik mooi. Dit sluit ook plaaslike MTB "single tracks" in, wat baie lekker is om te ry. Die roete wissel ook tussen op en af en alles is rybaar. Dit word gevolg deur 'n rowwe afdraand wat baie klipperig is dn waar dit moeilik is om vinnig te ry en eindig by 'n klein gehuggie waar ons ons waterbottels kan vol maak en oor die oulikste bruggie, wat seker 1,000 jaar gelede gebou is, kan ry.


Hierna ry ons deur 'n lieflike kloof op 'n goeie teerpad en maak goeie tyd. Die pad gaan oor 'n redelije grootpad en Hennie wag vir 'n voertuig en ek is nie daarvan bewus nie, met die gevolg dat ons mekaar verloor. Ek kom dit gelukkig agter en wag  vir hom by die volgende gehuggie. Hy daag so 5 minute later op. 

Ons moet nou begin dink aan slaapplek want binne die volgende 15 km gaan die pad weer op en ons wil die volgende groot klim met vars bene aanpak. Na 69 km ry ons Bagni be Lucca, wat 'n dorp met hotelle is, binne. Ons hou by die eerste hotel stil en doen navraag. Hulle het plek teen Euro 95.00 per nag vir 'n kamermet 'n dubbelbed! Ons moet maar dit aanvaar! Ons vra vir 'n 06:00 ontbyt maar hulke sien nie kans daarvoor nie. Na 'n bietjie onderhandelling is die prys Euro 90.00 en hulle sal vir ons broodjies en sap vroeër uit sit.

Terwyl ek besig is met my blog, daag Ernst en Hannelie ook hier op. Hulle het gedink hulle bly hier, maar hulle hotel in verder in die straat af. Ons reël om 19:00 iets saam te eet.


So eindig dag 1. Afstand 68.71 km; tyd 6:24:46; gemiddelde spoed 10.7 kpu; klim 1,531 meter; daal 1,434 meter.