Dinsdag 06 Maart 2012

Grape Escape Dag 1

Registrasie was onder andere Woensdag 29 Februarie by Columbia Store se winkel in Canal Walk. Behalwe vir jou nommer het elkeen ook 'n mooi wit langmou top en 50 liter Columbia sak gekry! Ons kon ook op die dag enig iets teen 50% van die normale prys koop. Ek het toe maar vir my nog 'n lekker kortbroek aangeskaf.

Donderdag 1 Maart 2012. Dit is dag 1 van 2012 se Grape Escape, wat vanjaar oor drie dae strek, en wat nie die Argus MTB, soos verlede jaar, insluit nie. Die begin is ook vanaf Eden on the Bay na die Durbanvile Perde Renbaam verskuif. Ek kon dus nie net op my fiets klim en na die wegspring ry nie! Verder moes ek sorg dat ek 06:00 deur Blaauwbergweg se verkeer kom. Ek moes dus maar redelik vroeg wikkel om seker te maak ek is betyds. Alles het goed afgeloop, Blaauwbergweg was nog nie te besig nie en ek het ongeveer 06:20 by die renbaan aangekom. 'n Ligte ontbyt is voorsien en ek het myself gehelp met 'n piesang en 'n ekstra "Energy Bar". Vir die eerste keer in 'n baie lang tyd het ek skielik 'n groot "nommer twee" ontwikkel. Gelukkig was daar 'n hele paar mobiele toilette en ek het gou in een ingeduik en van die nodige ontslae geraak!

Net voor 07:00 is ons nader geroep en stiptelik op 07:00 val ons in die pad. Na 'n neutrale stukkie deur Durbanville daar ons langs Aurora op en begin met die eerste klim. Dit neem ons langs Aurora om, links om die koppie teen die hange bo die Durbanville/Tiekiedraai pad tot net duskan Boemendal Restourant verby. Net na die restourant sluit ons by die Hillcrest roete aan en gaan bo oor Kanonkop en teen Contermanskloof af tot heel onder. Halfpad met die terug roete van Contermanskloof op draai ons links en vat die pad Malanshoogte toe. Bo op Malanshoogte draai ons regs deur 'n hek en kies koers in 'n Oostelike rigting deur 'n paar graanlande. Oor Adderley pad en dan sluit ons by die Spes Bona pad aan. Na die eerste draai hou ons egter reguit aan voordat ons later eers weer regs draai in die rigting van die Wellingtonweg. Net voor Melish kruis ons Wellingtonweg en vat weer koers in 'n Oostelike rigting. So gaan ons aan met redelike goeie plaas paaie en en elke nou en dan deur 'n land of verby 'n plaas huis. Ons ry onder andere verby Leeuwenkuil. Net anderkant die Perdeberg Kelder kruis ons 'n teerpad. Verby 'n paar wingerde, met 'n paar kronkelinge en na 78 km eindig ons by die Boland Landbou Skool. Daar word ons ingewag met 'n gratis fiets was en 'n middag ete van 'n lekker Woolies toebrooitjie, aartappel slaai en 'n bakkie sjokolade mouse! My tyd vir die dag was 3:54:39 en ons het 1,128 meter geklim. Ek eindig 132 uit 272 wat klaar gemaak het. Deel van vanjaar se pakket het vervoer terug na die begin ingesluit. Dit was redelik effektief, maar die verkeer in Blaauwbergweg teen 13:00 was nie, aangesien daar verbouings is. Dit het langer geneem om die 2 km daar af te le as die hele rit van Durbanville tot in Bloubergstrand.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking