Oppad terug van die Attakwas maak ek vir Johan de Bruyn die voorstel dat ons vanjaar To Hell and Back moet doen. Hy "tel" die idee op en teen einde Junie is ons 10! Ongelukkig moet sy vrou die Maandag voor die wedren in gaan vir 'n opperasie, dus is hy uit. Annemarie se man moet skielik die naweek weggaan met die gevolg dat sy die "huislike verpligtinge" moet oor vat, dus is sy ook uit. Ek probeer kry dat 'n paar van ons saam ry, maar dit werk ook nie. My pogings om iemand te kry om een van hulle plekke in te neem lewer ook niks op nie. Ek "piekel" dus maar op my eie hier af. Ek ken darem almal in die groep wat wel gaan ry.
Ek vertrek net na 10:45 en kom net na 16:00 by De Hoek aan. Terwyl ek registrasie soek, loop ek vir Jannie Steyn, een van ons groep, raak. Ons deel 'n huisie by De Hoek. Ons koop ete kaartjies en eet "spaghetti bolgnaise". Na koffie en lekker gesels met Kobus en Carin, wat deel van ons groep is, verkas ons bed toe. Môre oggend moet ons sakke 06:15 by die trok wees en ons moet reg wees om 07:00 weg te spring.
Ons begin met die teer uit De Hoek uit en dan regs oppad Swartbergpas toe. Na so 'n paar kilometer draai ons af by Nooitgedacht en ry met 'n "jeep track" tot waar ons by die begin van die Swartbergpas, weer by die grootpad aansluit. Teen die pas op maak ek kennis met Rudi en Riki, wat vir volgende jaar se Epic oefen, min wetende dat ons paaie nog 'n paar keer oor die twee dae sou kruis!
Nou begin die klim. So ongeveer 1,000 meter se klim oor die volgende 10 kilometer. Dit neem my ongeveer 2 uur om tot bo te kom. Anderkant af vir so kilometer of twee en dan links Hell toe! Die bordjie sê 37 km maar dui aan dat dit 2 uur met 'n motor gaan neem! Dit sou my 3 uur 40 minute, met die fiets neem.
Die eerste waterpunt is net na die afdraai. Ek stop vinnig vir 'n paar marshmellows en 'n paar glassies Coke. Van die top van Swartbergpas tot by die voet van "Hartbreak Hill" is 31 kilometer waar ons van 1,560 meter na 713 meter daal, maar dit is nie alles afdraend nie. Daar is 'n hele paar klimme en dit neem my 3 uur om die 31 kilometer af te lê, wat duidelik wys dat dit nie alles afdreand is nie. Dit is dan ook een van die redes hoekom dag 2 moeiliker as dag 1 is. Daar is darem 'n waterpunt na 36 kilometer, waar ek weer vir dieselfde versnappings stop.
Die laaste waterpunt, aan die bopunt van Elandspas, kom op 54 kilometer. Waar ons in die verlede aan die onderpunt van Elndspas ge-eindig het, moet ons nou nog 'n verdere 15 kilometer ry na die nuwe kampterrein. Na die brand van 2019 het Cape Nature niks gedoen om hulle kampterrein te herstel nie. Hulle het ook al hulle huisies in die vallei, toe gemaak. Wanneer en of dit ooit weer oopgemaak sal word, sal maar gesien moet word. Die pad is redelik rof met 'n hele paar water kruisings, waarvan somminges nogal diep is. Die kruising van die Gamkasrivier is ekstra moeilik omdat die stroom redelik sterk loop en ons teen die stroom op moet ry.
Na 5:50 en 74 kilometer kom ek by die eindpunt aan. Ons het "luxury" tente en die tydelike stort is lekker warm. Hulle was ook ons fietse. Ons kry 'n burger vir middagete en gaan sit daarna met ons voete in die water. Die temperatuur is in die hoë dertigs, maar daar trek 'n luggie wat dit draaglik maak. Aandete is die gebruiklike steak, hoender sosatie en wors, wat jy self moet braai op die kole wat hulle voorsien. In die verlede het hulle iemand gehad wat musiek maak, maar vanjaar is daar net 'n luidspreker waaroor musiek gespeel word. Iemand voer 'n onderhoud met Wikus van der Walt van Ecbound, wat die wedren reël en hy gee 'n paar hele interessante feite oor die vallei en hoekom daar in 1962 'n pad na die vallei gebou is. Volgens Wikipedia is Wikus se feite foutief! Hulle beweer die dam is eers in 1969 gebou en dat dit pad niks met die bou van die dam te doen gehad het nie!
Ons is vroeg bed toe en teen daardie tyd het dit al lekker afgekoel. Die kampterrein is ook langs 'n stroompie, wat eintlik 'n baie aangename atmosfeer skep.
Ontbyt was vanaf 05:30 bedien en ons kon kies tussen Weetbix, hawermout en museli. Ek het op die hawermout besluit saam met 'n lekker koppie koffie. Wegspring was weer vir 07:00 geskeduleer.
Die nuwe kampterrein het die voordeel dat ons lekker warm gery is teen die tyd wat ons Elandspas moet aandurf. Dit neem my net meer as 'n uur om die eerste 14 kilometer, tot aan die voet van die pas, af te lê. Nou kom die "grind" van die pas. Ons klim 500 meter oor die 5 kilometer van die pas en dit neem my 'n uur om tot bo te kom! Dit word gevolg deur "Heartbreak hill" wat nou 'n lekker afdraend is. Dit word egter gevolg deur die 31 kilometer to aan die bopunt van Swartbergpas waar ons nou van 713 meter na 1,560 meter moet klim. Ongelukkig is daar nog die klomp ops en afs tussen in, wat tot gevolg het dat dag 2 se klim 300 meter meer as dag 1 se klim is. Dit is veral die gedeelte na waterpunt 2 wat "uitmergelend" is. Dit hou net nie op nie en die pad oppervlakte is hier ook die swakste. Dit neem my 40 miute langer langer om die 31 kilometer terug te ry. Dit het my die vorige dag 1:15 van die bopunt van Swartbergpas na waterpunt 2 geneem. Vandag neem dit my 2 uur!
Terwyl ek Elandspas so uit getrap het, merk ek twee ouens met dieselfde klere aan, maar ek "kliek" nie dat dit Rudi en Riki is nie. By waterpunt 1 "kliek" ek toe en ons ry vir die res van die dag saam! Party keer is ek voor en dan is hulle weer voor. Dan ry ek so 'n entjie "uit" hulle uit en netnou doen hulle weer dieselfde met my. Nie dat ons dit bewustelik doen nie, dit "gebeur" maar nie. Ons ry vanaf die tweede waterpunt tot by die einde saam.
Die ekstra klim van dag 2 veroorsaak dat ek 27 minute langer ry en in 6:17 klaar maak. Totale tyd oor die twee dae was 12:17 met 'n afstand van 147.2 kilometer met 4,030 se klim. Dag 1 se gemiddelde spoed was 12.6 vir die 73 kilometer met 1847 meter se klim en Dag 2 se spoed was 11.7 vir die 73 kilometer net 2,183 meter se klim..